Bergpiektroue vir avontuurlustige paartjie

Maryna en Dan De Wet is op Sentinel-bergpiek getroud. (Foto: That Other Couple)

Maryna en Dan de Wet se eerste romantiese afspraak was op die Magaliesberge, hul eerste soen het by die Drakensberge gebeur, hulle het op Leeukop verloof geraak, en op Dinsdag 31 Januarie vanjaar het hulle op die Sentinel-bergpiek in KwaZulu-Natal getrou.

“Ons wou nog altyd ʼn berg-agtergrond vir ons troue hê, maar ons het vinnig besef dat dit nie moontlik sou wees om 60 mense by ʼn berg te laat opklim nie,” vertel die 29-jarige Maryna aan Maroela Media.

Sy en Dan (32) het toe besluit om ʼn private trouseremonie bo-op die berge te hou. Saam met Sally en Cameron de Wet, ʼn foto- en videograaf-egpaar, het die pasgetroudes die stap- en klimtog aangedurf.

Met hare en grimering reeds by hul oornagplek gedoen, het Maryna haar trourok in haar rugsak gedra. Dan se netjiese pak was ook in ʼn sak byderhand gehou. Nadat hulle die grootste deel van die tog voltooi het, het hulle hul stapklere vir trouklere verruil.

Maryna en Dan was ʼn jaar en ʼn maand saam voordat hulle verloof geraak het, en het ses maande ná die verlowing getrou. Hoewel die paartjie na venues gaan kyk het, het nie een van hulle reg gevoel nie.

“Ons het besluit om die dele van tradisionele troues waarvan ons die meeste hou, op ʼn manier by ons troue te inkorporeer.”

Vir die egpaar se familie was dit ʼn skok gewees om te hoor dat hulle op dié unieke manier trou aan mekaar gaan beloof, maar almal het hulle ondersteun om hul droomtroue te bewaarheid.

“My man was nog altyd ʼn ander tipe mens, ek dink sy familie het eintlik verwag dat hy iets buite die boks gaan doen. Ek dink my ouers het gedink dat ek hierdie groot feëverhaaltroue gaan hê, hulle was ʼn bietjie meer verbaas oor die manier waarop ons besluit het om te trou.”

Die egpaar het die laaste deel van die klimtog in hul trou-uitrustings aangepak. (Foto: That Other Couple)

Hulle het egter na afloop van die troue ʼn ete gehou vir hul naaste familie en vriende wat graag die groot dag saam met hulle wou vier. Hulle het eers later die papierwerk afgehandel om die huwelik wettig te maak.

Vir paartjies wat op ʼn soortgelyke wyse wil trou, het Maryna ʼn paar brokkies raad:

(Foto: That Other Couple)

“As ek dit oor kon doen, sou ek die papierwerk en die wettige aspekte van ʼn troue voor die tyd al afgehandel het,” vertel sy.

“ʼn Mens moet ook nie te veel op verwagtinge staatmaak nie. Die weer het byvoorbeeld nie saamgespeel nie, ons moes die volgende dag weer na die Golden Gate-park toe gaan om nog foto’s te neem.”

Sy benadruk egter dat indien dit iets is wat ʼn paartjie wil aandurf, hulle nie moet skroom om dit te doen nie.

“Daar is nie ʼn regte of verkeerde manier om dit te doen nie, geniet dit net,” sê sy.

“Moet dit ook nie onderskat nie, dit is julle groot dag. Doen alles wat julle wil doen. As julle op die berg wil dans, doen dit. As julle wil piekniek hou, doen dit, daar is nie beperkinge nie. Dis nie ewe skielik ʼn klein dag omdat julle elope nie. Maak ʼn dag daarvan en vier dit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.