Bidbeertjies vir geknelde harte

An Roets saam met van die bidbeertjies wat al gebrei is. (Foto: Verskaf.)

Deur Sarie Nell

In ons land waar ál meer mense met stres en hartseer saamleef, is daar stilweg ʼn klompie vroue én mans wat elke dag brei – bidbeertjies wat gratis uitgedeel word aan mense met ʼn behoefte aan sekuriteit, aanmoediging en troos.

Waarom bidbeertjies, wonder mens dadelik. An Roets, ʼn oud-Vrystater wat deesdae in Malmesbury woon, vertel: “Ek is getroud met Piet Briek. Ek het hom so gedoop omdat hy my soms moet briek. Want sodra die Heilige Gees my inspireer, hardloop ek loshande en opgewonde met die nuwe opdrag.”

Nadat An in 2008 en oom Piet in 2005 uit die onderwys getree het, sien hulle een aand ʼn TV-program oor trauma-teddies vir Tygerberg-hospitaal. “Toe Piet voorstel dat ek begin beertjies brei, was ek stomverbaas – hy wat my eerder briek as werk soek vir my!”

Die ambulansman, Eben Sieberhagen en sy bidbeertjie. (Foto: Verskaf.)

Tog het An hieroor gebid, want sy wou bevestiging ontvang dat hierdie breiery binne sy wil is, veral omdat sy nog nooit iets suksesvol kon brei nie. Tydens eredienste en Bybelstudie het sy fyn geluister en intussen internetsoektogte oor teddies van stapel gestuur. Sy het haar bevestiging ontvang en ná vele probeer- en trefpogings het die bidbeertjie-konsep geleidelik ontwikkel: Terwyl ʼn teddietannie (die breier) ʼn beertjie se voete, bene en ander liggaamsdele brei, bid sy spesifiek vir die persoon wat die beertjie sal ontvang se voete en bene, vir elke aspek van die liggaam.

Elke handgebreide beertjie word individueel afgerond. Sommiges kry strikdassies of hoede, kruisbande, blom teen die kop, of ʼn kartelrandrokkie, maar elke bidbeer dra ʼn rugsakkie waarin teksverse en ʼn omgeebriefie is.

“Bidbere is ʼn saamslaapmaat, ʼn gesels- en vasdrukmaat. Die Jesus loves me-embleem op elke bidbeertjie-bors spreek as wakkerword-gedagte, asook die laaste bewuswording saans. ʼn Beer sonder hierdie kenteken is geen bidbeer nie.

“Teddietannies brei nie net om besig te bly nie, hulle bid-brei,” verduidelik An. “Hulle onderneem om deurentyd te bid vir elkeen wat ʼn beertjie ontvang.

“Hierdie breiwerk is vir elke teddietannie ʼn persoonlike bediening. Sy brei en gee haar bidbeertjies weg soos die Here dit op haar hart lê en wil mense seën met die beste wat sy het. Wanneer daar vir ʼn gemeenskaplike doel baie bere benodig word, brei almal saam daarvoor. So word teddietannies vissers van mense, want die projek bly ʼn geestelike reis.”

Vrolike bidbere wat gereed is om harte verbly. (Foto: Verskaf.)

Soms sukkel beginners met die ore, of glo ʼn teddietannie sy kan nie gesiggies mooi borduur nie, dan voltooi ʼn ander spanlid dit. “Ons moes vindingryke planne beraam om dié bere tydens afsondering wettig te roteer.”

Sedert 2014 is meer as 12 000 bidbere uitgedeel by kinder- en outehuise, kerkuitreike, straatwerkers, volwassenes in moeilike omstandighede asook hospitale, waar verpleegsters soms ook vir ʼn beertjie pleit. “Ons het intussen opgehou tel, voor ons dalk begin glo dis onsself wat presteer. Want hoe tel ʼn mens dankbaarheid en genade?”

Meimaand het Wes-Kaapse teddietannies al hul lockdown-bere saamgetel en talle swaarkry-kinders daarmee bederf, asook 76 Swartlandse gesondheidswerkers wat tuisversorgingsdienste lewer. Toe verskeie van hierdie werkers Covid-19 opdoen, het hulle vertel hoe die beertjies en gebede hulle ondersteun het.

Verlede week het breiers uit die Wes-Kaap, Noordwes en Vrystaat in ʼn reusepoging 110 bidbere na die Moorreesburg-kinderhuis gestuur.

In Januarie 2019 het ʼn Riebeeckstadse Bybelstudiegroep weekliks vir die president begin bid. Later wou Marinda Rhind, ʼn Riebeeckstad-teddietannie graag vir Cyril Ramaphosa ʼn bidbeer brei as simbool van hul gebede. In ʼn proses wat die teddietannies as bestiering van Bo beleef, het hulle kundige raad ontvang oor die inbrei van die landsvlag oor die hele bidbeerpensie, asook die senutergende proses totdat die president op sy verjaardag in November die beertjiegeskenk in sy eie sitkamer kon ontvang. “God alleen kon hierdie deur oopmaak!”

Hierna wou Marinda ook vir hoofregter Mogoeng Mogoeng ʼn beertjie stuur. Hiervoor brei sy toe vier bidbere in die landskleure en die roete om dit by hom en van sy personeellede uit te bring, is ook tree vir tree van Bo gestuur, vertel An.

Al die verhale van wol- en stopselskenkings, breiers en gelukkige ontvangers laat ʼn mens wonder – lê die grootste beervreugde by die ontvangers, of dalk by die vroue en twee breiende mans wat gereeld wonderwerke op hul eie breipad beleef?

Lydia Gittens kan haar eie bidbeertjie by An Roets uitkies. (Foto: Verskaf.)

Toe die Springbokke verlede jaar die Rugbywêreldbeker wen en Siya en sy spanmaats eer aan God gee, het menige bidbreier met nuwe begeestering begin brei sodat élke Springbok ʼn bidbeertjie in Springbokdrag kon ontvang. Die proses om hierdie bere by hulle uit te bring was uitgerek, maar uiteindelik kon Rassie Erasmus en elke 2019-Springbok sy eie bidbeer vashou.

Malmesbury se teddietannies het intussen ook bidbeertjies gebrei wat nés ambulansmanne lyk omdat ʼn ambulansman vertel het hoeveel vreugde bidbere op siek en seer kindergesiggies bring. Bidbeertjieverkope ten bate van droogtehulpprojekte het intussen ook deel van dié aktiewe breiers se visie geraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

BetsnBraam ·

Die beertannies is God se engele op aarde. Mag ons vir elke tannie bid wat onselfsugtig so toegewyd is. Ek sou graag n paar beertjies by hulle wou koop.

Elize ·

Nou wil ek net die volgende weet …….. wat gaan parrapot met sy beertjie doen want ‘n gelowige is hy beslis nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.