Boerfontein se Frieda: Dis nie maklik nie, maar dis lekker

Frieda Greyling (middel) saam met haar man Hennie en hul seun De Wet tydens ʼn besoek aan Mácau, ʼn spesiale administratiewe streek van China, waar De Wet ʼn vlieënier is. Foto: Verskaf.

Hoe gemaak as die reën vyf jaar lank wegbly, jou kind se opleiding betaal moet word en die beursie boomskraap raak? As nóg tien angorabokke vrek en jou man se ontsteltenis jou hart breek? Solank Frieda Greyling van die plaas Boerfontein in die Oos-Kaap haar witgatboom en die fontein naby haar huis as skuil- en herstelplek het, kan sy baie probleme oorbrug, vertel sy aan Sarie Marais-Nell.

“Boerdery is een van die moeilikste beroepe, want jy’s aan die natuur uitgelewer,” sê die 56-jarige Frieda. “Dis nie maklik nie, maar dis lekker – altyd ʼn uitdaging.

“Ons is al deur ʼn paar droogtes. Eenkeer besluit my man hy gaan eers weer hare skeer as daar twee duim reën val. Sy hare hang later ruglengte. Uiteindelik hét 50 mm reën geval en sy hare hét gewaai, maar die skade was groot: vloedwater het ons brug weggespoel.

“Een oggend kom sê my boer die dam het net ʼn katspoegie water oor. Die wind bly weg, ons kan geen water vir huisgebruik pomp nie. Ek bemoedig, sê ons moet bid en glo, die wind sal waai. Die wind hét begin waai, maar die volgende oggend staan ons windpomp sonder kop … skade van R30 000.

“Tydens ʼn vyf jaar droogte het ons baie vee verloor, later opgehou karkasse tel. Mens kon nie in die veld stap nie weens die stank! Ek het menigmaal in ons droë gronddam gesit en God gesmeek vir reën, soms met Hom baklei. Die ergste gesig van droogte is om my man so hartseer oor sy vee te sien, maar God het nog elke keer op Sy tyd voorsien.”

Hul gemengde boerdery met angoras, skape en lusern grens aan die Addo-olifantpark. Omdat Sanparke baie plase opgekoop het, is hul buurmanne veel minder en moes oorblywende boere wildverwante veesiektes leer hanteer.

“Ons het nie hartwater geken nie, maar deesdae moet ons gereeld antibiotika toedien – ʼn duur proses. Intussen het ons laasweek die eerste keer spykerwurm by ʼn skaap gekry – moeilik behandelbaar. Ons hóóp die medikasie werk.”

Weens bedrywige roofdiere word alle diere saans gekraal. Dit behels die bymekaarmaak van vee in reusagtige kampe, elke namiddag.

“Mens moet hul tel en sóék! Soms lyk dit of hul wegkruip.”

“Ek huil wanneer my man nie sien nie. Gelukkig het ek my witgatboom daar ver op die vlakte en my fontein, ʼn hanetree vanaf die huis. Dis my dagdroom-wegloop-plekkies waar ek my hart uithuil, met God praat. Daarna kan ek weer berge versit, saam met my boer planne maak.

“Ek is ʼn positiewe mens, al voel dit soms ek wil weghardloop van die droogte, van als wat stukkend raak.”

En wanneer verlossingsreën val, hardloop Frieda sommer in haar nagklere en waterstewels fontein toe, om die mooie musiek van reënwater te hoor.

Toe hul jongste sy vliegopleiding moes kry was dit dróóg. Sy begin bak: roosterkoeke, wilds- en hoenderpasteie. Dag en nag. Snags net ʼn vinnige vier uur se slaap en verder knie.

Hierdie inkomste kon De Wet se woonstel, petrol en sakgeld help betaal, asook lone en brandstof vir die trekker. Frieda geniet haar kombuis en die uittoets van resepte. Daarom haar kosblog uitdiekoeikombuis.blogspot.com.

“Dalk eendag ʼn resepteboek met dieselfde naam,” lag sy.

Frieda was ʼn verpleegster toe sy 35 jaar gelede met Hennie, ʼn sybokhaartegnikus, getrou het.

“Toe ons in 2000 plaas toe trek, was die aanpassing érg. Die seuns moes koshuis toe en my daaglikse 24 uur voel soos 80! Toe begin ek eksperimenteer met roosterkoekdeeg en wors, patties, sosaties en pasteie. En raak my koedoestalletjie by Somerset-Oos se Biltongfees ʼn jaarlikse instelling.

“Gelukkig het ek baie stokperdjies. Ek het ʼn werkkamer ingerig en die plaasvrouens geleer lapverf, brei, en om muurbehangsels, kussings, tafeldoeke, plekmatjies en gordyne te maak, asook lampskerms en fotorame, matte en blindings van biesies uit die rivier.

“Ek wens ek kan myself toesluit in my naaldwerkkamer – ek is so lief daarvoor. Intussen help ek oral: boekhouding, inkomstebelasting, saans die vee kraal, skape doseer, trekker bestuur en eg, lusern saai en lusernbale wat ons verkoop, weeg.

“Ek moet netjies beplan om als ingepas te kry! En pal ʼn 30 dae-spyskaart hê om bestanddele te koop. Ons woon 65 km vanaf Somerset-Oos en Jansenville met slegte grondpaaie – vinnige winkelritte bestaan nie.”

Hard aan die werk vir hul gemeente se eeufeesviering, voel die dertig oorblywende lidmate van die NG gemeente Waterford hoopvol vir reën en beter dae.

“Beide ons seuns werk oorsee – Beyers is ʼn verkoopsman by ʼn motormaatskappy in Texas en De Wet ʼn vlieënier vir Macao Lugredery. Om by hulle te gaan kuier, verg uiters goeie beplanning. Dan hou ons buurman en werker die fort.

“Ons handjievol boere help mekaar. ʼn Buurman het al vir ons ramme gebring omdat ons al ons ramme tydens ʼn droogte verloor het. Later help ons hom weer. Ons seun het ook jare lank die helfte van alle uitgawes betaal.

“My oorlewingsmeganismes? Ek werk hard, is trots op wat ek doen. Twee mal perde wat ek opgesaal het, was om die 60 m-oprit na ons huis mooi te maak met aalwyne en hope klippe uit die veld – alles binne ses weke. Só ook my halfronde braai wat ek en ʼn werker op die stoep gebou het. Al moes ek menigmaal by Hennie hoor ʼn braai is nié rond nie, dit gaan inmekaar tuimel, is die stoep nou die lekkerste kuierplek,” vertel dié vrou wat speletjies maak van haar uitdagings, wat haar probleme beredeneerd aanpak.

“As die lewe druk, of ek wip my, verf ek sebrastrepe. Als is nou al gestreep; mure, kaste, vloere, deure, watertenk … selfs ʼn windpomp! Ek stap elke dag ʼn 4,8 km-roete en elke keer sien ek iets moois, kamera altyd om my nek. En ek soek hartjievorms in die klippe, wolke en bome. Dan weet ek verseker: God het ons nie vergeet nie. Op Sy tyd sal Hy voorsien. Hy sorg dan so mooi vir die kleinste veldblommetjie en so ook vir ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Frieda Greyling ·

Dankie jy, baie hartseer om die vee so in die droogte te sien. As hul jou gewaar kom hul aangehardloop

Louise ·

Ai, hoe skaam kry ek nou. Ek lees en kyk tv heeldag deur. N vrou wie se waarde ver bo korale is, is Frieda verseker.

Sonja ·

Hennie en Frieda, God se seën oor julle en Boerfontein. Byers en Dewet alle seën in julle loopbaan vorentoe. Ons is baie trots op julle. Julle is ‘n inspirasie. Ons mis julle en lief julle baie. Frieda nig, ons hou van jou blog. Die spoggerige koei kombuis en die heerlike kos resepte. Liefde groete, jou nig Sonja en hubby Nic uit Namibia.

Stephan de S ·

Wat is die waarde van so n vrou nie. Sulke mense versier die aarde.

Frieda Greyling ·

Baie dankie, Nig. Ons bid ,glo en vertrou ons reen is naby. Groete daar in Windhoek

humor ·

As dit nie vir ons vrouens was nie waar sou ons mans tog gewees het,,,,,,,,,In die
paradys,,,,,,,,Ek het n familie met n gslagtelange geskiedenis. Het self geboer. saam met my ouers honderde kilometers te voet na nooitweiding getrek. In die vreemde tydelik onder n kameelboom bebly tot die tydelike 3 vertrek sinkhuisie opgesit is. Ek ken die taal van hierdie uitnemende vrou. Ongelooflik is hul waarde in hierdie harde wereld en beroep. Ons kan nie anders nie ,ons moet boer. Dis al waarvoor ons VADER ons geskape het.

Frieda ·

Ek is jou naamgenoot en trots daarop, jy is ‘n fenomenale vrou!!!

Jerry ·

Inspirerende storie van n formidabele sterkstaan vrou oor boermense. Daar is baie dankbaarheid in die storie. Dat die kinders in die buiteland en in Amerika van alle plekke is, laat jou met soveel meer dankbaarheid en soveel minder bekommernisse dat elke aand n lekker slaap aand raak. Soos Frieda tereg getuig, die Skepper voorsien op Sy tyd. Dit geld in alle gelowiges se lewens, wanneer dit swaar gaan, maar ook wanneer dit weer beter sal gaan!

Rene ·

Ai, Tannie Frieda hoe laat tannie my nou trane wegvee. Dit is so ‘n mooi voorbeeld wat Tannie stel, maar so onthou ek Tannie. Ek sal Tannie se kinderkrans lessies by Dagbreek Kerk op Despatch altyd onthou. En wie sal vir Rex, die skaaphond vergeet? Hy was waarskynlik die toegewydste ‘lidmaat’, want hy was getrou op sy pos vir elke diens, kinderkrans byeenkoms en selfs begrafnisse. Ons bid en glo saam met Tannie en Oom Hennie dat die reen sal kom. Baie sterkte en seen vir Tannie-hulle.

WOW ·

Wow wow WOW, hierdie berig het my hoendervleis gegee dis so mooi. Ek haal my hoed af vir jou, ek wens ek was so yster vrou al probeer ek my bes. MM dankie vir die mooi berig. Frieda, baie sterkte daar by julle en ek bid seen op jou en jou familie. xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.