Braaf die Boerboel bult spiere vir Tassieprojek

Boerboel Wear skenk R40 000 om 115 skooltassies met skryfbehoeftes vir Helpende Hand se Tassieprojek aan te koop. V.l.n.r. is René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand, en Stephan Hugo en Sarichia Coetzer, mede-eienaars van Boerboel Wear. (Foto verskaf)

Is dit ʼn voël? Is dit ʼn vliegtuig? Nee, dit is Braaf die Boerboel.

Braaf die Boerboel, die geesteskind van Boerboel Wear, is ʼn splinternuwe held. Hy is soos Super-Man, maar in kakie geklee. Braaf gaan binnekort met skouermantel en al kragte met Solidariteit Helpende Hand saamsnoer om na kinders se welstand en toekoms om te sien.

Helpende Hand, Boerboel Wear en Lekker Luister het pas die Braaf-projek bekend gemaak waarin Braaf die hoofrol speel.

René Roux, Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie, sê dié projek word aangebied saam met Helpende Hand se Tassieprojek wat jaarliks sorg dat talle hulpbehoewende graadeens met ʼn ten volle toegeruste skooltassie hul skoolloopbaan kan begin. Die hoofdoel van die Braaf-projek is om vir kinders te leer dat dit nie net belangrik is om braaf te wees nie, maar noodsaaklik.

“Ons wil graag ons kinders leer dat dit braaf is om soms ook bang en versigtig te wees, maar meeste van alles dat dit braaf is om iemand anders te help wat nie so bevoorreg soos jy is nie. Jy is braaf as jy help, jy is braaf as jy gee. Dit is ons almal se plig om ʼn gesindheid van welwillendheid by ons kinders te kweek,” sê Roux.

Die Tassieprojek is een van Helpende Hand se vlagskipprojekte, en dit sit sedert 2007 ʼn tassie, toegerus met hoëgehalteskryfbehoeftes, in hulpbehoewende graadeentjies se hand. Die totale koste van ʼn tassie is R350.

Boerboel Wear het reeds R40 000 ten bate van hierdie projek geskenk. Daarmee kan ons 115 behoeftige kinders in 2023 toerus met ʼn skooltas propvol skryfbehoeftes. Die maatskappy daag graag ander Afrikaanse sakeondernemings uit om ook die hand in die sak te steek en ʼn weldaad te betoon. “Kom, maak ʼn tasbare verskil aan ons kinders se toekoms.

“Boerboel Wear se humoristiese reklame, stuitige tannies, aanskoulike, gespierde modelle en Jan Jan Jan, Suid-Afrika se eie ‘Boere-boy band’, vermaak die publiek al vir ʼn paar jaar. Die handelsmerk moes egter met groot hartseer in Julie 2021 die afsterwe van tant Kotie aankondig en in Julie vanjaar het Boerboel Wear vir tant Matie gegroet, aangesien sy ander loopbaangeleenthede gaan nastreef. Beide die Jan Jan Jan-lede en Boerboel Wear wens vir tant Matie die aller beste toe met haar nuwe toekomsdrome. Hou egter Boerboel se sosiale media aanstaande jaar dop wanneer ʼn opwindende soektog na nuwe ‘Boerboel-tannies’ sal afskop. Die ‘stuitige tannies’-konsep kry vir eers die trekpas en die fokus skuif nou na ons kinders se welstand en toekoms,” sê Stephan Hugo, bemarkingsbestuurder en mede-eienaar van Boerboel Wear.

Braaf die Boerboel. (Foto verskaf)

Boerboel Wear se jong ondersteuners kan boonop daarna uitsien om Braaf die Boerboel en Helpende Hand se Piet Tande, die tandemuis, in 2023 te ontmoet. Die twee ysters sal van Januarie 2023 deur die land toer om bewusmaking te skep oor hoe “braaf-wees” ʼn gesonde gees en liggaam kan kweek.

Boerboel Wear sal 2022 op ʼn hoë noot afsluit met ʼn splinternuwe enkelsnit van Jan Jan Jan genaamd “Braaf soos ʼn Boerboel”. Daarmee wil hulle verdere bewusmaking skep van die Braaf-projek en groter momentum daaraan gee. Tesame met Jan Jan Jan se enkelsnit sal Lekker Luister Braaf se inspirerende storie vertel en die oorsprong van sy naam bekendmaak.

Lekker Luister is die konsep van twee ma’s, Christelle Webb-Joubert, RSG-radiopersoonlikheid, en Juanita de Villiers, Getroud met rugby-aktrise, wat uit persoonlike ervaring ʼn geleentheid gesien het om ʼn platform te skep waar kinders die wonderwêreld van stories in ons moedertaal kan ontdek. Hou die sosialemediaplatforms dop en laai intussen vir jou kleinspan die Lekker Luister-toepassing af. Daar wag reeds meer as 70 oorspronklike stories wat bedtyd, speeltyd en die langpad soveel lekkerder sal maak deur die wonder van luister.

Met nuwe “Tannies” en nuwe “Tassies” op pad is Boerboel Wear opgewonde oor al die nuwe geleenthede wat 2023 inhou en bly die maatskappy se strewe om harte, van jonk tot oud, te raak. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek www.tassie.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.