Meer as 700 rolstoele is sedert die begin van die “Breadtags for Wheelchairs”-projek aan minderbevoorregtes regoor Suid-Afrika geskenk, waaronder 80 in 2016.
Dié projek, ʼn inisiatief van die herwinningsmaatskappy Polystyrene Packaging Council (PSPC), gebruik die herwinning van broodknippies om rolstoele vir behoeftige mense aan te skaf.
Adri Spangenberg, woordvoerder van PSPC, sê die projek het behoorlik vlam gevat.
“Ons is verwonderd oor die groei van die projek. Mense van dwarsoor die wêreld het hierby betrokke geraak. Ons het tans 10 kopers vir die broodknippies en meer as 200 versamelpunte daarvoor,” het sy gesê.
Maatskappye soos SASKO Pioneer Foods en Dis-Chem het ook hul gewig agter die projek ingegooi.
Tot dusver is hul grootste ondersteuners plaaslike skole en maatskappye, hoewel die projek ook reeds van stapel gestuur is in Japan en Australië en hulle baie ondersteuning ontvang van Kanada.
“Mense voel goed om ʼn verskil in iemand se lewe te maak. Herwinning klink soos iets groot en onmoontlik, maar die broodknippie-projek is eenvoudig en mense neem graag daaraan deel,” het Spangenberg bygevoeg.
Sy sê die projek maak ʼn daadwerklike verskil in die lewe van minderbevooregtes. “Die laaste rolstoel wat ons toegeken het, was aan ʼn jong vrou van Daliwe in die Oos-Kaap. Sy is gebore met ʼn spraakgebrek en kan ook nie haar bene gebruik nie. Hoërskool Cathcart het gehoor van haar fondsinsamelingprojek en ons het haar gehelp,” het sy bygevoeg.
Dié hoërskool het al meer as 271 kg broodknippies ingesamel. Dit is bykans 826 550 000 broodknippies per kilogram.
Indien jy wil vasstel waar die naaste koördineerder aan jou is, besoek die maatskappy se webwerf of skakel 021 531 0647.
Besoek ook hul Facebook-blad.
Baie goeie werk aan almal wat deel was van die fondsinsameling.. so bly dat jul soveel sukses gehad het… hou aan met jul goeie daad, dit sal raak gesien word.
Ons versamel ook die knippies
Dankie vir die artikel.
, net jammer julle maak nie melding van mev Mary Honeybun wat die hele broodknippies vir rolstoele projek begin het nie