By rou se trane verby

Foto ter illustrasie (Foto: Gábor Bejó/Pixabay)

Die dood van ʼn geliefde is ʼn pynlike, diepsnydende saak en dis wys om genesing te soek. Só baie vind dit, genadiglik, al vat dit lank.

Baie jare gelede was dit algemene gebruik dat, nadat ʼn geliefde tot sterwe gekom het, daar ʼn routydperk was. Swart het ʼn vername rol gespeel – swart roubande is om mans se baadjiemoue vasgewerk en swart dasse is gedra. Vrouens was in swart geklee. Swart rokke, swart hoede en handskoene. Dogters het swart strikkies, op wit en swart linte, in vlegsels gedra.

Vandag is dit anders en word daar anders gerou. Die verlies en hartseer, en die gemis wat daarmee gepaardgaan, het nog nie verander nie. As ʼn geliefde aan die dood afgestaan word, gaan dit steeds gepaard met onbeskryflike hartseer en trane van rou. Niemand kan dit weg wens nie. Tóg slaag mense deesdae daarin om hulle rou baie sukses- en sinvol na vreugdevolle berusting te laat groei.

In Nederland is dit ʼn besonderse belewenis om begraafplase te besoek. Dis eintlik begraafwoude en -tuine waar geliefdes ter ruste gelê word. Dit voel asof ʼn mens ʼn heiligdom betree en die stille gewydheid word byna tasbaar. Ritselende blare en voëlsang is al wat gehoor word. Party woel en werskaf en ander sit rustig en laat hulle gedagtes ver paaie loop.

Daar is dele waar familie of vriende, wat spesiale plekke vir hulle dierbares wil oprig, dit op vele maniere kan doen. Die laaste rusplekke word opgerig en liefdevol in stand gehou en dit word ʼn onthouplek, troosplek en bidplek. Dis die plek waar hartseertrane kan afrol en in vreugdetrane van dankbare herinnering kan verander. Dis egter ook ʼn plek waar lewe gevier word.

Net buite ons dorp is daar ʼn baie besonderse graf in ʼn baie mooi tuintjie, wat tussen die teerpad en plaasgrensheining pynlik netjies in stand gehou word. Dit het ons altyd laat wonder tot ons eendag ʼn bejaarde man in die tuintjie opgemerk het.

Ek het langs die tuintjie stilgehou en gegroet. “Ons het al so baie gewonder oor die graf in die mooi tuintjie. Vertel vir ons,” het ek die gesprek begin. Hy het omgekyk grafsteen se kant toe. “Meneer, dis onse ou kleinseuntjie wat ons hier gekom begrawe het. Hy was my liefling kleinseun. ʼn Wakker mannetjie. Altyd fluks in die tuin.”

“Nou hoekom hier?” wou ek weet. “Die kinders was op hulle fietse toe iemand, wat baie vinnig gejaag het, hom raakgery het. ʼn Vrou wat langs die pad was en die broertjies het hom tot hier gedra en hier het die ambulans hom gekom haal. Hy moes op slag dood gewees het. Meneer, hy was helemaal stukkend en gebreek.”

Vir ʼn rukkie het hartseer die oorhand gekry, maar hy was nog nie klaar nie. “Meneer, ek het gebesluit hy moet hier begrawe word. Hier waar die Jirre hom gekom haal het toe Hy hom klaar vir ons gekom leen het. Ek het by die paaiedepartement toestemming gevra en hulle het my hart verstaan. Toe’t ons hom hier gekom begrawe.”

Ons het met stomme verbasing geluister. “En die mooi tuin?” wou ek verder weet. Hy het amper opgewonde verder vertel: “Meneer sien, eers was dit net die grafsteen en die sementblad oor die graf. Toe’t ons, met die boer se toestemming, klippe uit die rand aangedra en die tuin uitgelê.”

“So mooi om die grafsteen en die sementblad oor die graf waar ons hom gebegrawe het. Later het ons al die blompotte ook vasgemessel, want die mense het die potte met blomme en al weggedra. Ja, meneer, ʼn mens kan ʼn naar ding wees.”

“En die mooi vetplante en aalwyne?” wou ek weet. Hy het merkbaar trots sy oë oor die kleurvolle tuintjie laat dwaal. “Ja, ek het so gebesluit want hier is nie water nie en die goedjies groei so mooi in die klipperigheid. As dit móét, bring ons maar water in kanne.”

Ek het vir hom gevra of mense vir hom vetplante skenk, want daar is so baie soorte van alle kleure. “Nee meneer, dis anders. Mense kom haal vir hulle hier plante uit. Nou’t ek by my dorpshuis ʼn kwekery waar ek plante kweek sodat ek weer hier kan kom aanvul. My vrou kweek blomme virrie blompotte.”

Hy het sy oë weer oor alles laat dwaal voordat hy verder uitgewei het: “Jare terug het die boer hier, agter die tuin, sy lyndraad kom dig maak toe hy gesien het hoe die bees en die skaap die plante kom vreet en verniel. Ek was so dankbaar en ek bid dat die Jirre hom altyd sal seën.”

“Wat beteken dit alles vir jou na ál die jare wat Kethwan hier begrawe lê. Dis harde werk en wat laat jou aanhou?” het ek hardop gewonder. “Meneer, as ek hier besig raak, kry ek rus vir my siel. Hier kry ek lafenis en koelte in my binneste. Dis asof hy my help. In my gedagtes voel dit vir my ons praat met mekaar. Ai, hy was so ʼn flukse mannetjie!”

Ek wou nog praat, toe hy verder vertel het: “Meneer en ons kom elke Sondag hier bymekaar. Maar meneer, nie om te kom treur nie, maar om die lewe te vier, al was syne so kort. Ons kom hiernatoe met lofsang en aanbidding, want die Jirre het hom vir ons geleen en Hy het maar net gekom haal wat Syne is. Prys Sy naam!”

Dit is die storie wat ʼn liefdevolle oupa vir ons vertel het. ʼn Storie van ʼn onbeskryflik pynlike verlies en hoe hy dit in sy binneste verwerk het. Onder sy leiding het die familie hulle roulied in ʼn oorwinningslied verwerk.

Vader God se vertroosting laat hulle lof- en aanbiddingsliedere sing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.