Dis ’n stuk Hooglandkaroo se gasvryheid dié

Argieffoto (Foto: Carina Stander / Verskaf)

Ons was van die Noorde af op pad huis toe, toe ek met die saamstem van my liewe Meelopertjie, op Britstown regs gedraai het Namakwaland se kant toe om blomme te gaan kyk.

Die stuk wêreld verby Vosburg en deur Carnarvon was maar vaal en droog en ons het haastig begin raak om Williston te bereik om daar te oornag. Daar was ʼn rede waarom ek juis daar wou oornag, want my seun Henk het my ʼn mooi storie van dié dorpie vertel.

Toe hulle nog studente was, het hulle daar plek gesoek waar hulle sommer so onder die Karoosterre kon slaap. Die rugbyveld het gelyk na ʼn veilige plek waar platsak studente ongestoord nes kon skrop. Hulle het nog só die spulletjie uitgekyk toe ʼn jong man by hulle stilhou en uit sy bakkie klim om kennis te maak.

Nadat hulle vir mekaar gesê het wie, wie en wat is, het die fris boer wat duidelik honger vir geselskap was in sy bakkie geklim en vir die studente gesê hulle moet net daar bly en hy sien hulle weer oor ʼn ruk. Hulle het gewonder wat sy bedoeling was en het verder nes geskrop.

Na ʼn ruk het die man en nog van sy vriende daar aangekom met baie hout en baie vleis en die ander normale benodigdhede vir ʼn onoortreflike Karookuier asof hulle al jare dik vrinne was. In die vroeë oggendure is hulle nóg dikker vrinne uitmekaar sonder die vooruitsig om mekaar ooit weer te sien. Dit was Karoolekkerte op sy lekkerste.

Dit was al sterk skemer toe ons tussen twee klipkoppies deurry en toe skielik Williston hier voor ons sien lê het. Ná 13 ure op die pad was ek nie lus om nog lêplek vir die nag te soek nie. Dit was nie nodig nie. So met die inkomslag was daar op ʼn verligte muur: SOEK ʼn SLAPIE met ʼn vriendelike uitnodiging om daar te oornag. G’n gesoekery nie!

Ons ry toe voorlopig verby op soek na ʼn plek waar ons ten minste lekker koffie kon drink. So ʼn hanetreetjie verder sien ons toe die plek MANNA RESTAURANT en KEDOEDELS, wat dit ook al mag wees, adverteer en langsaan SOEK ʼn SLAPIE. Ons is toe daar in en word nadergewink deur ʼn vriendelike man agter ʼn toonbank wat vra waarmee hy ons kon help.

“Dankie, man,” seg ek, “ons soek ʼn lêplek vir die nag en as jy nog een het, ʼn Kedoedel of dalk twee ook.” “Ek is jammer ek het nie Kedoedels nie, maar ek het slaapplek,” sê hy en gee my die vorm om in te vul. Toe ek die vorm vir hom teruggee, het hy die spyskaart vir my aangegee.

Ons was nie honger nie, maar uit ordentlikheid het ek die spyskaart bekyk en toe sien ek iets wat ek moet oorvertel. Op die eerste bladsy was die brekfisgeregte. Heel bo Schilpadtepel, gevolg deur Singkop, Stoffelskop, Blomberg, Jakkalstoren, Rooistreepberg en Tierkop – almal name van gebergtes en koppe in die omgewing. As jy besluit op Scilpadtepel, kry jy ʼn eier, spek, gebraaide uie, tamatiesmoor en roosterbrood. ʼn Tierkop gee vir jou krummelpap, tamatiesmoor en boerewors.

Vir voorgeregte kan ʼn mens kies tussen Mikberg, Slangberg, Kareeberg – calamari met tartaresous, Jan Swartz se berg – hoendervlerkies met eie beroemde sous en Engelsman se berg – geroosterde groente, koeskoes met olyfolie en balsamiese asyn.

Slaailiefhebbers kan kies tussen Haaskos, Koekemakranka – groen slaai, fetakaas en olywe. Blasiebrak, Bloudissel en Kwaggavy – biltong, dikmelkkaas, ontbytspek en avokado.

Pannekoeketers kan kies tussen ʼn Bloukopkoggelmander – 2 pannekoeke met beesvleisrepies, peppadews en fetakaas bedek met witsous, of Huisgeitjie en Akkedis.

Toebroodjies kry voëlname! Tinktinkie, Rooioogtiptol, Rooivink – ham, kaas en tamatie, Spekvreter, Geelvink, Janfiskaal, Hoep en Gesondheidstoebroodjies: Kelkiewyn – gebraaide hoender, agurkies, tamatie, blaarslaai, mozzarella en soet mosterd en Bleshoender – tuna, avokado, fetakaas, peppadews, tamatie, blaarslaai en mozzarella.

Volgende is Tramezzini’s, wat dit ook al mag wees, wat vetplantname het. Plakkie, Spekboom, Rooivygie, Kanniedood – hoender, dikmelkkaas, basil-pesto, peppadews en mozzarella, Aalwyn en Melkbos – hoender, mayonnaise, ontbytspek, ham en mozzarella.

Seekos word aan riviere gekoppel. Rietrivier, Groot-sakrivier – stokvis, groot en perfek gebraai en Renosterrivier – stokvis en calamari, perfek gebraai.

Volgende is schnitzels en word aan hase gekoppel en gaan gepaard met ʼn wye verskeidenheid souse. Almal met aartappelskyfies/ aartappelslaai/ -wiggies/ gebakte aartappel/ geroosterde aartappel of rys. Vlakhaas, Oewerkonyn, Kolhaas – hoender, ham, kaas en eie souskeuse en Springhaas – ontbytspek, pynappel, avokado en kaassous.

Burgers (hoender of bees), met aartappel-bykosse, en ʼn wye verskeidenheid souse, het plaaslike roofdiername. Draaijakkals, Muskeljaatkat, Bakoorjakkals, Rooikat, Maanhaarjakkals, Tierboskat, Rooijakkals – bees/ hoender, ontbytspek met avokado, Groukat en Silwervos – bees/ hoender, ontbytspek, eier en kaas.

Hoendergeregte het voëlname. Hoe dan nou anders? Groot of klein porsies met ʼn keuse van slaaie en aartappels. Korhaan, Gompou – gekrummelde hoenderrepies met soet mosterd- of tartaresous, Tarentaal en Kwartel – ʼn kwart gebraaide hoender.

Johan Oosthuizen (Foto verskaf)

Die hoofgeregte met braaisouse, aartappel, rys en groente van die dag het weidinggrasname. Swartangelgras – Skaaptjops en Bewertjiegras – 700 g-varkrib.

Die pizzas bied die grootste verskeidenheid en almal het veldplantname. Boonop kan ʼn mens jou eie een bou en hom noem soos jy wil. Ek sonder so ʼn klompie uit, net om jou lus te maak. Gousblom, Doringviooltjie, Wilde-als, Botterblom, Boegoekapok, Knapsekêrel – Russian, ham, ontbytspek, pynappel, soetrissiesous en mozzarella en Nastergal – hoender, ontbytspek, fetakaas, pynappel, olywe, avokado, peppadews en mozzarella, en Noem-Noem vir die karnivore met ham, beesvleisrepies, hoender, salami, Russian, ontbytspek, fetakaas e mozzarella.

Die nageregte span die kroon en laat jou sing. My hartjie, my liefie, My geliefde hang in die bos, My kombers en jou matras, Daar lê die ding, Anderkant die blou berge, Pollie ons gaan Paarl toe, My nooi is in ʼn piesang – pannekoek met piesang, karamelsous met room of roomys en My ouma in kaneel – pannekoek, kaneelsuiker met room of roomys.

En net voor jy begin lê, nog so ʼn ietsie te singe: Bobbejaan klim die berg, ʼn Dom Pedro of Jan Pierewiet se Ierse koffie. Vir die wat voel dis nog nie genoeg nie, is daar die gewone lekkertes wat in koppies en glase geskink word, maar die versterkvoggies wil seker nie hulle name verander nie, want wynkenners wil weet wat hulle drink.

Ná ʼn dag se gepeusel was ons nie honger nie, maar ʼn vriendelike kelnerin het ons laat swig. “Wat van ʼn soetigheid voordat oom-hulle gaan slaap?” wou sy weet. Ek het gevra wat sy aanbeveel en die antwoord was kaaskoek en warm malvapoeding met room of roomys en toe sê ek sy moet maar bring.

Toe sy dit voor ons neersit, was dit nie porsies nie, maar PORSE! Groter as wat enige normale mens voor slaaptyd kan eet – eintlik moes verorber! Maar glo my, lekker, was dit lêkker!

Die afskrif van die spyskaart wat ek gekry het, is vir my ʼn kleinnood want dis ʼn stuk Hooglandkaroo-gasvryheid. Dit gaan oor vêr meer as ʼn unieke spyskaart. Dit is ʼn prentjie van die Karoo se mense wat droogtes oorleef en met geloof, hoop en met blymoedigheid bly leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.