Drie groot onderwysbeurse bekendgestel

(Argieffoto: Verskaf)

Drie van die grootste onderwysbeurse in die private hoër onderwys is Maandag in Pretoria bekendgestel.

Die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) in samewerking met Pretoria FM en Rapport Onderwysfonds bied aan drie top-presterende Afrikaanse studente die geleentheid om sy of haar vierjaar-onderwysgraad kosteloos by Aros te voltooi en te verwerf.

Hierdie beurse beloop tans ʼn waarde van R250 000 per beurs oor die volgende vier jaar. Dit sluit in ʼn BEd Grondslagfase-graad of ʼn BEd Intermediêre Fase-graad in een van die twee BEd Intermediêre Fase-rigtings of ʼn BEd Senior Fase & Verdere Onderwys en Opleiding- (VOO-)graad in een van die drie spesialiseringsrigtings.

Hierdie beurs is daarop gemik om die onderwysberoep en studie in onderwys opnuut onder skoolverlaters se aandag te bring.

“Ons wil graag belê in belowende voornemende studente wat dit as ʼn roeping beskou om onderwyser te word en wat wil studeer by ʼn instelling waar hulle op ʼn Reformatoriese grondslag onderrig ontvang. Ons land het sulke mense dringend nodig,” sê prof. Rikus Fick, rektor van Aros.

Om in aanmerking te kom vir hierdie beurs, moet voornemende studente aan die volgende kriteria voldoen:

  1. ʼn Gemiddeld van minstens 75% behaal. Die gr. 11- finale eksamen én gr. 12 se Junie-eksamenpunte van 2021-matrieks word in ag geneem. Vir aansoekers wat reeds matriek voltooi het, tot die ouderdom van 21, word daar na finale matriekpunte gekyk.
  2. Deelname op skool, byvoorbeeld leierskapposisies, sport, kultuur en ander aktiwiteite, word ook in ag geneem.
  3. ʼn Motivering van ongeveer 300 woorde word vereis waarin die kandidaat motiveer waarom hy of sy onderwys by Aros wil studeer.

Aros se gemengde-onderrigmodel bied die ideale geleentheid waar onderwysers hul studie en praktiese onderwyservaring deur hul vier jaar kan kombineer.

Aansoeke vir die Prestige Beurs van Aros het reeds geopen en sal tot 15 Oktober 2021 ontvang word. Om aansoek te doen, kan voornemende aansoekers Aros se webwerf besoek by www.aros.ac.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.