Elke diertjie sit sonder ’n plesiertjie

(Foto: FotoosVanRobin/Flickr.com)

Ek hoor die branderplankryers het ’n skuiwergat gevind hier onder die Covid-regulasies. Hulle vat glo vissersbote uit see toe met die nodige visvangpermitte en daar gaat hulle – sonder om een keer aan die sand te raak. So, die branderplanke word weer gewaks. Die saak is reg.

Dis maar net een van baie maniere hoe mense deesdae slim, maar ja, kom ons erken dit nou maar, slinkse planne maak om die vele onverstaanbare regulasies hier op die Aangepaste Vlak Drie te omseil.

Ons het waarskynlik almal al hier en daar al oor die tou getrap. Kyk maar na die rokers so ’n paar maande gelede; dit was met verbete toewyding dat sigarette op dikwels onheilige plekke opgespoor, teen ’n bankbalansbrekende prys gekoop en dan met die adrenalien wat hoog loop, op agterbakse maniere vervoer is – reg onder Wetstoepassing se neuse verby. Dis al lankal nie meer nuus nie, maar baie van ons het toe die Rubicon oorgesteek en “gewoontemisdadigers” geword. Hoeveel keer het ek nou nie al die laaste paar maande gehoor dat mense met ’n tikkie trots – én vermaak in hul stemme – vertel hoe daar “ways and means” is om al die reëls te omseil nie. Onwettige wynaankope is seker op die oomblik boaan die lys en net eergisteraand het ek gesien hoe ’n restauranteienaar wat van sy drankvoorraad ontslae wil raak (wat te verstane is) besigheid in sy motorhuisoprit doen. En ’n tekort aan klante in die normaalweg stil straatjie, was daar nie.

“Kreatiewe wetteloosheid” onder selfs die mees wetsgehoorsames onder ons floreer. Soos iemand onlangs geskryf het: ‘Die grendelstaat het van goeie mense, misdadigers gemaak.”

En toe hoor ek by my plaaslike kleinhandelwinkel se “sanitiser-man” van die bejaarde township-oom wat tydens daardie tandekners-weke vir rokers sy entjies maar vir kondensmelk verruil het. Noodgedwonge. Dié storie het my, wat self ’n kerf of twee op my Covid-oortredingstok het, nogal laat skaamkry. Die oom, in sy negentigs, bly in ’n piepklein sinkhuisie in die nabygeleë township en volg Mister President se instruksies “to the T”. Sy “lossies” (sigarette) was sy getroue vrind die laaste meer as 40 jaar en sy daaglikse “okkasiebederf”. Sy eerste okkasie was soggens net ná sonsopkoms sodra die water gekook en sy skopkoffie die hol kol getref het. Tot die son ondergaan, sou die oom glo net vier rook – soos die lus hom beetpak – en dan was sy laaste en lekkerste okkasie saans wanneer die vuurtjies in die township te midde van al die swaarkry steeds met vrolikheid aangesteek is. Dan het die oom behaaglik buite gaan sit en hom verlekker aan al die lewe om hom. Daardie laaste sigaret is dan met genot en genoegdoening en met ’n buurvrou se “beneukte bier” afgespoel.

En toe kom die rook- en drankverbod en die oom moes afsien van sy beskeie bederfies. Die sanitser-man sê hy het dit gedoen sonder om een keer te kla, maar dat hy al hoe meer binnensmonds begin brom het. Hy het ook nie meer saans gaan buite sit nie. Hier en daar het ’n buurman aangebied om vir hom ’n smokkel-entjie te bring, maar die oom het voet by stuk by gehou. Mister President vra mooi en hy sal luister.

Die sanitser-man is nie meer op sy plek by die plaaslike kleinhandelwinkel nie. Die laaste nuus wat ek van hom gekry het oor ons wetgehoorsame oom, was dat sy bors vir hom las gee. En dat hy sy cigarette-vrinne finaal vaarwel geroep het. Hy het glo gesê hy wil nooit weer so sukkel en smag nie.

En nou teug hy maar aan die kondensmelk.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.