FAK vereer toekomsbouers van Vrystaat

Lientjie Mentz, Tokkie Pretorius, Karn Botha, Dr.Danie Langner, Corrie Scheepers, Corlia Botha en Marda Oosthuysen (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het toekomsbouers in die Vrystaat vereer vir hul toegewyde werk op die kultuurfront.

In ’n pragfunksie, wat in Februarie plaasgevind het, is die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en sy direkteur, Tokkie Pretorius, vereer vir die rol wat dié uitmuntende museum in die Vrystaatse gemeenskap en selfs ook op nasionale vlak vertolk.

Tydens die funksie is ystervroue uit die gemeenskap ook vereer, onder meer Lientjie Mentz, bekroonde joernalis en redakteur van Bloemnuus, en Corlia Botha en Corrie Scheepers vir die verskil wat hulle in die jeug se lewens maak deur hul werk in die Voortrekkers. Verder is Marda Oosthuysen en Karn Botha, wat by die Dameskring betrokke is, se werk tot die bemagtiging van vroue ook vereer.

“Die ‘Bittereinders’ is die manne met die ruggraat, die deursettingsvermoë en die ysterwil, soos De Wet en sy manne wat vir die Vrystaat se onafhanklikheid geveg het,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, gesê.

“Vandag het ons ‘betereinders’: mense wat hoop bring, mense wat op God vertrou, mense wat steeds aan die toekoms van die Vrystaat bou.”

Die FAK is dankbaar vir die gemeenskappe wat groei en diegene wat volhard in die werk wat vir jare op ’n klein skaal gedoen word, maar “groei tot ’n groter impak wat die hele gemeenskap beïnvloed en opbou”.

“Met trots staan hierdie gemeenskappe sterk en onafhanklik, met diep wortels wat deurentyd groei.”

Tokkie se hart en werk lê in die opbouing en bemagtiging van die jeug.

Tokkie Pretorius en Dr. Danie Langner (Foto: Verskaf)

“Ons fokus is op die jeug. Tydens die Anglo-Boereoorlog is dit nie net vroue wat gesterf het nie, maar grotendeels kinders: byna 70% van die sterftes was kinders,” het Tokkie gesê.

“Gryp jou geskiedenis aan,” is sy lewensmotto en advies wat hy aan die jeug oordra.

Karn het die toekenning vergelyk met die ontvang van ’n Grammy-toekenning, terwyl Corlia, wat as “kindervriend” beskryf word,’n blywende uitwerking in die lewens van talle jongmense het.

Haar boodskap vir die jeug is: “Vertrou op God en glo dat jy ’n verskil kan maak.”

Corrie is dit eens, en moedig die jeug aan om balans in die lewe te vind, “want só kan jy sukses behaal”.

“Wees trots op jou erfenis, op jou kultuur en moenie skroom om ook in te spring en te bou aan jou gemeenskap nie.”

Die pragfunksie wat by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke plaasgevind het (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap deel in die eer met blydskap en trots( Foto: Verskaf)

Corlia Botha,Corrie Scheepers en Tokkie Pretorius (Foto: Verskaf)

Lientjie Mentz, Tokkie Pretorius, Karn Botha, Dr.Danie Langner, Corrie Scheepers, Corlia Botha en Marda Oosthuysen (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.