Geroep om te help

(Foto: Verskaf)

By Solidariteit Helpende Hand gebruik ons gereeld die woord “roeping”, maar ons leef dit ook elke dag. Hier word jy op ʼn besonderse manier geroep om jou medemens te help, die roeping oorval jou en die Here kom haal jou om tuis te wees tussen die ander personeel. Daar is natuurlik die mooiste verhale van hoe elke werknemer sy of haar plekkie gevind het by die Helpende Hand- familie en elkeen se verhaal vertel van hoe die Here ingegryp het en die rigting aangewys het.

Dit verg ʼn besonderse mens om hier te werk. ʼn Mens sien en hoor daagliks van armoede en hartseer en die behoefte in ʼn mens se gees word dan aangewakker – die behoefte om almal te help. Hier weet ons waarmee ons onsself moet besig hou, ons weet en verstaan waarvoor ons geroep is en wat ons fokus moet wees en dit is die verligting, verbreking en voorkoming van Afrikaners se armoede.

Dit is vir Helpende Hand belangrik om die regte mense op die regte plekke te plaas, mense wat na ons toe gestuur is. Dit is vir ons belangrik om seker te maak dat ons mense verstaan dat gemeenskapontwikkeling hulle hooffokus moet wees. Verder is dit belangrik dat die publiek ook verstaan dat Helpende Hand hier is om te help en dat ons slegs kan help deur sterk strukture te vestig wanneer ons hande met die gemeenskap vat. Daarom is dit vir ons goed wanneer ons mense soos Heinrich Hurter vind wat sy roeping verstaan en weet hoe om vir ons mense te vertel van wie Helpende Hand is en wat ons doen.

Binne ons handelsmerk lê daar simboliek van geloof, roeping, uitnemendheid, getrouheid en nederigheid gesaai. Dit sluit ook by Helpende Hand se tema van 2024 aan wat #waardeswatwerk is. Om iemand te vind wat werklik geroepe is, wat inpas by jou kultuur en geloof is die sleutel tot sukses en is nie altyd maklik nie. Dit moet iemand wees wat die holistiese bemarking van ʼn gemeenskaporganisasie kan aanpak en die stories kan vertel deur gebruik te maak van die bemarkingselemente tot sy beskikking. Iemand wat die handelsmerk van Helpende Hand altyd voor op in sy hart dra en iemand wat geloofspronge neem tot sukses.

Ons het vir Heinrich Hurter, Solidariteit Helpende Hand se nuwe hoof van bemarking, beter leer ken:

Vertel ons meer van jou ervaring in die wêreld van bemarking?

Ek was vir vier en ʼn half jaar aktief betrokke in bemarking by USN in alle fasette van die funksie. Van podsendings, sosiale media, grafies, drukmedia, geleenthede, kreatiewe direksie, veldtogte, promosies, uitstallings, opvoeding, seminare en nog vele meer. Sportvoeding is ’n baie kompeterende mark, so ek is gewoond aan vinnige uitsette.

Wat is een ding wat jy graag oor jouself met die span wil deel?

Ek is glo in ʼn goeie dosis humor. Ek voel dat as ons saam kan lag, kan ons enigiets aanpak.

Wat is jou passies of belangstellings buite die werk?

My grootste passie buite werk is my beeste. Verder is ek ’n buitelugmens wat hou van hengel, jag, braai en rugby. Ek speel so ʼn bietjie Xbox ook, maar dis eintlik ’n geheim.

Wat het jou getrek na ʼn organisasie soos Helpende Hand?

Die kernwaardes van die organisasie is eenders as my persoonlike waardes. Verder was ’n groot trekpleister die geleentheid om saam te kan bou aan iets merkwaardigs. Ek voel Helpende Hand gaan geweldig groei vorentoe en ek wil deel wees van die hoë werkverrigtingspan wat hieraan bou.

Watter projek van Helpende Hand het jou aandag heel eerste getrek?

HelpJag want dit is ’n uitstekende projek en die idee maak ongelooflik baie sin. In my opinie dra die hoë-profiel status van die projek by tot Helpende Hand se bewusmaking en geloofwaardigheid.

Wat het vir jou uitgestaan op die eerste dag by Helpende Hand?

Dit was maklik om in te val by so ʼn groep gedrewe mense. Die vriendelikheid van elke enkele persoon wat ek ontmoet het. Almal het moeite gedoen om te gesels en uit te vra. Ek het vinnig tuis gevoel.

 Wat hoop jy om by te dra tot die span van Helpende Hand?

My hoofdoelwit is om by te dra tot die skepping van ’n wêreldklas kommunikasie en bemarkingsafdeling in Afrikaans. Sodat ons as organisasie meer effektief kan wees en meer geld kan kry om ons bediening vol te hou, maar ook uit te brei na nog mense in nood.

Beskryf jou roeping?

Om op te staan vir die wat nie vir hulself kan opstaan nie en om met die genade van die Here hoop en lig te bring.

Wat is die een Bybelvers wat jou help uithou en aanhou?

“In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie” – 2 Korintiërs 4:8-9.

Wat beteken dit vir jou om gemeenskapsontwikkeling te doen en hoekom wil jy deel wees hiervan?

Ek glo die ou gesegde is hier van toepassing wat sê: “Gee ’n man ʼn vis en voed hom vir ʼn dag. Leer ʼn man hoe om vis te vang en hy sal vir altyd voedsel hê.” Ek verstaan gemeenskapsontwikkeling as die dryf om gemeenskappe te ondersteun en op te lei om selfstandig en selfonderhoudend te word deur hulle toe te rus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.