Grip4Charity-gholfdag ploeg terug in die gemeenskap

Kobus van den Berg (finansiële hoof van SAVF Lichthuis), Theo Rabe, Martin Clark en Johan Bezuidenhout met die tjek van R110 000 wat aan Lichthuis oorhandig is (Foto: Verskaf)

Die Grip4Charity-gholfdag, wat sedert 2007 deur die NWK-groep georganiseer word, het vanjaar ruimhartige skenkings van R110 000 elk aan die SAVF Lichthuis in Lichtenburg en die Najaarsrus-versorgingsoord in Coligny gemaak.

“Die groot behoefte lê gewoonlik by bejaardes,” het Theo Rabe, uitvoerende hoof van NWK, en Lemmer Vermooten, ondervoorsitter van die NWK se direksie, tydens die oorhandiging gesê. “Ons bedank veral ons verskaffers wat ondanks moeilike ekonomiese omstandighede ruimhartig bygedra het om dié skenking moontlik te maak.”

Martin Clark, voorsitter van SAVF Lichtenburg se diensbestuur, het sy opregte dank teenoor die NWK-groep uitgespreek.

“Dit is moeilike tye en elke sent moet omgedraai word. Dit is wonderlik om ekstra geld te ontvang en op dinge wat andersins agterweë sou bly te bestee,” het Clark in sy bedanking gesê. “Ons beloof dat elke sent van hierdie skenking aangewend sal word om ʼn verskil in ons gemeenskap en in ons mense se lewens te maak.”

Die geld sal onder meer gebruik word om die bedrading by Lichthuis oor te doen. Die vloere van die sit- en eetkamer moet opgeknap word en die sonpanele wat warm water voorsien kort ook dringend aandag.

Theo Rabe, Kleinjan Pretorius (stigterslid van Najaarsrus), Hans Swart, Jan le Roux (direkteur van Najaarsrus), Johan Bezuidenhout en Lemmer Vermooten met die tjek van R110 000 wat aan Najaarsrus oorhandig is (Foto: Verskaf)

Najaarsrus se bestuur was net so in hul noppies met dié skenking.

“Sewe mense het Najaarsrus in 1990 gestig en vandag sien ons om na 39 inwoners en het talle personeellede in diens,” het Hans Swart, een van die stigterslede van Najaarsrus, gesê. “Dit (die geld) gaan ʼn groot leemte vul. Die Here sorg vir hierdie plek, beter as wat julle besef.”

Coligny gaan sporadies gebuk onder gewelddadige betogings. Najaarsrus is naby aan die hof en polisiestasie, waar talle van hierdie betogings plaasvind, geleë. Jan le Roux, direkteur van Najaarsrus, het gesê dat hulle die geld gaan aanwend om versterkings voor die vensters aan te bring om inwoners veilig te hou tydens onluste.

Najaarsrus moet voorts geverf word en lekplekke sal herstel word. Daar is ook ʼn behoefte aan nuwe hospitaalbeddens vir verswakte inwoners.

NWK se verskaffers neem sedert 2007 jaarliks aan die gholfdag deel. Hulle maak hul beursies oop om tot dié geleentheid by te dra waarvan die opbrengste dan aan behoeftige organisasies geskenk word.

“Dit is ʼn groot genade,” het Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van korporatiewe bemarking en kommunikasie by NWK, ook tydens die oorhandigingsgeleentheid gesê.

Sedert 2007 is meer as R1,7 miljoen ingesamel en 22 instansies het al hieruit voordeel getrek. Volgende jaar se Grip4Charity-gholfdag vind op 19 Augustus plaas en die NWK-groep hoop om dan weer ʼn wesentlike verskil in die gemeenskap te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.