Hekel en brei is wolterapie

(Foto: Verskaf.)

Daar is heelwat vorme van wolterapie. Buiten hekel en brei is daar ook tolletjiebrei en deesdae is “looming” ook baie gewild.

Ek was gelukkig genoeg dat albei my oumas (saam met wie ek ook baie van my kleintyd deurgebring het), passievolle breiers was. Albei van hulle was welbekend in hul omgewing en familie vir die allermooiste breiwerk en aangesien ek uit ’n kreatiewe familie kom, was dit ook vanselfsprekend dat ek ook sommer vroeg-vroeg sou leer brei.

Op 4-jarige ouderdom het ek begin met dun wol en tandestokkies. Ek kon myself ure besig hou en het prentjies van gebreide popklere in my kop gehad om later die voltooide skeppings vir my langbeenpoppe aan te trek.

Hoe ouer ek geword het, hoe meer het ek kans gesien om meer gewaagde projekte aan te pak en het selfs ook patrone begin lees onder die wakende oë en liefdevolle hulp van my Oumas.

Tipiese kind en later tiener, het ek gereeld ’n breiprojek begin (gewoonlik ’n trui), maar nooit klaargemaak nie en een van my oumas moes altyd my halfklaar breiwerk voltooi of soms oorbrei. Natuurlik het hulle dit met die grootste liefde gedoen.

Dit was altyd vir my fassinerend hoe my Oumas TV kon kyk terwyl hulle brei en nie een steek mis nie. Tot my verbasing het ek later, as volwassene, ook die verstommende vermoë baasgeraak.

Ek het ook vreeslik begin belangstel in hekel en sommer myself geleer. Ongelukkig kan ek tot vandag toe nie regtig ’n hekelpatroon lees nie, maar hekel sommer van ’n prentjie of ’n diagram af.

My gunstelinguitstappie is na ’n wolwinkel. Ek kan vir ure daar rondloop met ’n prentjie en idee in my kop vir die volgende projek. Gewoonlik stap ek daar uit met meer wol as wat ek beplan het om aan te koop.

Met ’n paar projekte altyd in wording, mag ek nooit kla dat ek niks het om te doen nie. Daar is oorgenoeg halfklaar projekte en idees om my nog vir maande van grendeltyd besig te hou. My lekkerste hekeltyd is as ons ’n langpad ry.

Behalwe vir net ’n kreatiewe uitlaatklep of voltooide stuk om mee te spog, het ek gevind dat daar heelwat ander voordele is om te hekel en te brei. Ek noem dit wolterapie.

Gemeenskapbou

Dit bring mense met soortgelyke belangstellings bymekaar en gee geleentheid om idees en projekte met mekaar te deel. Al is die meeste van hierdie mense op sosiale media, is dit ’n manier om kontak te maak met mense wat dieselfde belangstelling deel. Daar word oor en weer idees uitgeruil, oor brei- of hekelprojekte gesels en raad gegee.

Sommige hekelaars hou byeenkomste of naweke waar hulle saam hekel en kuier. Ek persoonlik verkies my eie tyd of ’n baie klein groep.

Verlig depressie

Dit is ’n tydelike ontvlugting van die wêreld en help my deur moeilike tye. Die herhaling van die kunsvorm deur middel van patrone of steke wat herhaal word, hou ’n mens gefokus en ontspanne. Die repeterende beweging help met serotonien vrystelling wat ’n natuurlike antidepressant is.

Verminder angs

Die manier van fokus en ontspanning terwyl ek hekel, help om asemhaling te reguleer en verminder onrustige gedagtes. Dit hou my hande besig en my kop gefokus en laat my vergeet van vrese en bekommernisse. Al is dit net vir daardie klein rukkie wat ek besig is met ’n projek.

Bou selfvertroue

Ek is ’n introvert en hekel bou my selfvertroue om goed te wees in iets waarmee ek gemaklik is. Dit laat my goed voel oor myself en help ook om nuwe vaardighede aan te leer.

Ek voel produktief en voel ek gee terug aan ander mense en die gemeenskap, veral waar ek betrokke is by gemeenskapsprojekte.

Net soos enige ander kunsvorm gee dit my die vermoë om myself uit te druk deur iets moois te maak.

’n Paar jaar gelede was ek 6 weke met siekteverlof ná ’n groot operasie en my grootste bekommernis was hoe ek die 6 weke sal kan stilsit. Dit het gevoel of ek niks beteken vir niemand nie.

Gedurende daardie tyd is ’n vriendin se baba vroeg gebore met erge komplikasies. Ek het toe besluit om ’n spesiale kombersie vir die baba te hekel en elke blokkie wat ek gehekel het, het ’n gebed vir die kindjie verteenwoordig.

Help met slapeloosheid

Wanneer ek nie kan slaap nie en my kop begin besig raak met onnodige en onbenullige dinge waaraan ek dink, begin ek brei of hekel om iets meer konstruktiefs te doen en gefokus te bly op die projek waarmee ek besig is in stede van om aan onnodige dinge te dink.

Ontspanning

Dit help my om te ontspan wanneer ek gespanne, geïrriteerd of verveeld voel en help om my gemoed gebalanseerd te hou. My brein kry ’n ruskans tussen al die bekommernisse van die verlede en die toekoms.

Verlig stres en spanning

Dit help my om te fokus op die projek waarmee ek besig is en lei my aandag af van die dinge waaroor ek stres en gespanne is.

Gebedstyd

Terwyl ek besig is met ’n projek, is dit ook lekker stiltetyd en gee my die geleentheid om tyd saam met God te spandeer en sommer net lekker met Hom te gesels.

Soms as ek vir iemand spesifiek iets hekel, bid ek ook terselfdertyd vir daardie persoon en dit maak die hekelstuk ekstra spesiaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frieda ·

Ek stem volkome saam brei en hekel hou my by my gesonde verstand!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.