Helpende Hand het nou 11 maatskaplike werkers ingespan

Van die maatskaplike werkers wat nou by Helpende Hand se span aangesluit het. Foto: Verskaf.

Die Solidariteit Helpende Hand se nuwe maatskaplike afdeling het verlede week ’n historiese maatskaplike beraad aangebied.

Hierdie afdeling het reeds 11 maatskaplike werkers en beplan om teen 2030 tot minstens dertig maatskaplike werkers te groei.

“ʼn Nuwe maatskaplike ‘hand’ wat gestig is, gaan veral op gemeenskapsontwikkeling konsentreer. Hierdie organisasie wat in die verlede alreeds groot hoogtes bereik het en ‘n groot verskil in menige mense se lewens gemaak het, het die afgelope jaar van krag tot krag gegaan,” het Hannes Noëth, die uitvoerende hoof van Helpende Hand, gesê.

Prof. Antoinette Lombard verbonde aan die Universiteit van Pretoria, wat spesialiseer in die veld van gemeenskapsontwikkeling en spreker op die beraad was, is van mening dat die maatskaplike werkers veral oor die kundigheid en kennis beskik om verandering in gemeenskappe te bewerkstellig.

Die diensleweringsvlakke waaraan aandag geskenk kan word op ʼn mikro- en makro vlak van die samelewing, is:

  • Menseregte;
  • Ekologiese geregtigheid;
  • Gemeenskapsbetrokkenheid; en
  • Die bou van vennootskappe.

Afrikaner-armoede en gepaardgaande maatskaplike agteruitgang is aan die toeneem. Volgens Christia Potgieter, hoof- maatskaplike werker van Helpende Hand, het die organisasie ’n besluit geneem om Afrikaner-armoede op ’n volhoubare ontwikkelingsgerigte wyse aan te pak.

Noëth is ook van mening dat elke kwesbare gemeenskap deur ’n ekonomies volhoubare produk bemagtig moet word tot selfverantwoordelikheid en selfstandigheid.

Dit is dan waarom dié organisasie ook die StopHonger-proteïenontbytstafie onlangs by die Afrikaans is Groot-musiekkonsertreeks bekendgestel het, wat ’n uitstekende voorbeeld van ’n volhoubare produk is. Die inkomste van die stafies sal vir gemeenskapsontwikkeling aangewend word.

Volgens Noëth sal Helpende Hand se span maatskaplike werkers volgende jaar hulself daarop toespits om met goeie navorsing die algemene nood en maatskaplike behoeftes van gemeenskappe te identifiseer.

Die data uit die navorsing sal dan aangewend word om gemeenskappe tot volhoubare ontwikkelingsgerigte projekte te lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Susan ·

Dis nou werklik goeie nuus! Ek salueer Solidariteit vir sy gemeenskapsdiens en betrokkenheid by mense in nood!

Koos ·

Daar is 10 op die foto, ek neem aan no 11 het die foto geneem

Ds Kobus Kruger ·

Vir die indiensneming van maatskaplikewers by provinsiale takke in plaas van net voltydse administrateurs het ek al ‘n paar jare terug bepleit toe ek voorsitter was van Port Elizabeth se Helpende Hand tak. Ek het self met die CMR se
plaaslike direkteur gesprek gevoer oor die moontlikheid om so ‘n voorgestelde gesubsideerde maatsksplike werker te akkomodeer. Die CMR het dit goedgekeur en omdat befondsing altyd ‘n probleem is en so ‘n projek kan kelder, het ek die Afrikanerbond genader om so ‘n maatskaplikewerker te befonds, maar my versoek het op dowe ore geval en dit was ook die geval met Helpehand, daarom het ek albei organisasies dadelik bedank, want ek het net besef dat om die tendens van armoede onder die afrikanergemeenskap reg te bestuur moet maatskaplike werkers geïmplementeer word. Baie bly dat dit nou gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.