Interaktiewe museum-ervarings gee wyngeskiedenis lewe

Philip Jonker sit in die Chardonnay-toer in een van die oopgekapte kuipe en neem die wynproe waar.

Mense gooi die woorde “baanbreker” en “pionier” baie maklik in ’n geselskap in. Maar as jy die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) se definisies hieroor opsoek, sal jy sekerlik Philip Jonker se naam daar kry, skryf Maryke Roberts.

Hy is die eienaar en wynmaker van Weltevrede, die 100 hektaar-wynlandgoed buite Bonnievale in die pragtige Robertsonvallei. Hy is die vierde geslag op dié familieplaas en het onlangs aan een van sy groot drome gestalte gegee: ’n uitgebreide herontwikkeling van die plaas se besoeker-ervarings.

Wanneer jy op die plaas aankom is dit ou wingerde wat sedert die dae van Weltevrede se stigters bewaar is en op voetstukke langs die roostuin herplant is om die erfenis te weerspieël, wat jou as’t ware na die nuwe proelokaal lei. Argitektoniese kenmerke soos die eiervormige ingang na die proelokaal-ontvangs en ondergrondse kamers, spreek van uiteenlopende temas wat verband hou met sorg, vrugbaarheid en innovasie.

Die transformasie is meerdoelig. Dit bevat ’n luukse dubbelvolume onthaalsaal wat in die somer koele lafenis teen die hitte bied, en in die winter ’n gesellige plek om voor die kaggel wyn te proe.

Wanneer jy op die plaas aankom, is dit ou wingerde wat sedert die dae van Weltevrede se stigters bewaar is, wat op voetstukke langs die roostuin herplant is om die erfenis te weerspieël, wat jou inlei.

Verder spog die ervaring nou met nuwe en uitgebreide ondergrondse uitstallings- en wynproelokale, en ’n uitgestrekte nuwe roos-en-wingerdtuin.

Besoekers kan twee nuwe ervarings geniet, beide gekies om uitdrukking aan die twee pilare te gee waarop Weltevrede se reputasie nou berus: chardonnay, wat hier gedy het danksy ’n streekkonsentrasie van kalksteengronde, en cap classique.

Captivated by Chardonnay en Captivated by Cap Classique – wat die bottelering van jou eie bottel Cap Classique insluit – duur elk sowat twee ure en sluit ʼn wynproe in. Eersgenoemde word soggens om 10:00 aangebied en laasgenoemde om 14:00 om aan besoekers die geleentheid te gee om beide weerskante van ’n lui middagete op die stoep te geniet.

Philip verwelkom ons by die proelokaal en vertel besoeker-ervarings is vir die Jonkers – wat al sedert 1912 met wingerd boer – van kardinale belang. Philip se pa, Lourens, het in die 1970’s die eerste keer ’n proelokaal op die plaas geopen; ʼn eerste vir die streek.

Die mooi tuine wat by die Weltevrede-kelder en -proelokaal aangelê is.

Jare later, toe produksie na moderne metodes oorgeskakel het, is ou sementkuipe en wyntenks as ’n ongekunstelde kerslig-proelokaal omskep. Die ervaring het vinnig ’n kenmerk geword wat Weltevrede se spesiale mengsel van poëtiese kuns en wetenskaplike egtheid weerspieël. Philip wou nie daardie spesiale ervaring met die uitbreidings verloor nie.

Nou dien die onthaalsaal as die vertrekpunt vir die toere. Besoekers word deur die ondergrondse netwerk gelei. Kerse en gedempte beligting behou die heilige atmosfeer, terwyl klassieke musiek in die agtergrond speel.

Die geskiedenis van wyn word op interessante borde vertel; antieke implemente en ou wingerdstokke steek teen die gladde sementmure af. Drie chardonnays word tydens die toer geproe.

Die Weltevrede se onthaalsaal dien as die vertrekpunt vir die toere. Besoekers word hiervandaan deur die ondergrondse netwerk gelei. Kerse en gedempte beligting behou die heilige atmosfeer, terwyl klassieke musiek in die agtergrond speel.

Tussen die wynproe deur vra besoekers hom uit. Hoe sien hy homself as wynmaker?

“Ek is definitief skeppend-kreatief en hou daarvan om die grense te toets. Ek sal liewer ʼn klein bietjie baie besonderse wyn maak as wat ek ’n groot klomp gemiddelde wyn maak,” antwoord hy en druk sy neus in sy glas.

Die mooiste eienskap van wyn vir Philip, is “dat dit al ’n eeue oue produk is wat eintlik oor al die jare maar net ’n natuurlike produk is van druiwesap wat gis, en tog, na al hierdie eeue, fassineer dit mense steeds.”

Philip leef, slaap en eet chardonnay, wat hy “’n staatmaker, fassinerend, klassiek en wêreldwyd geliefd” noem. Hy sal weet – hy het al in verskeie ander wynstreke in die Napa-vallei asook Frankryk gewerk. Hy maak agt verskillende chardonnays in verskillende vorme en sê: “Chardonnay is baie lief vir Weltevrede se grond en terroir; dit maak net ’n baie lekker wyn.”

Hy sê mense onderskat die gehalte van chardonnay wat uit Suid-Afrika kom, maar internasionaal gesien hoef ons glad nie skaam te wees vir ons chardonnays nie. “Ek dink ons het regtig ’n unieke styl, en ons moet dit self herontdek en begin waardeer.”

Philip, sy vrou, Lindelize, en hul twee kinders Marianna en Philip bly in die middel van Weltevrede tussen die wingerde.

Hy erken: “Die geskiedenis van wyn is nie ’n perfekte een nie; die geskiedenis van Suid-Afrika ook nie. En die geskiedenis van ons familie beslis ook nie.”

Die hoogtepunt van dié toer is ’n intieme kamertjie met kerse waar lang druppels teen ou wynbottels afloop. Philip lees sy Poet’s Prayer voor. Dis woorde wat die Weltevrede Poet’s Prayer Chardonnay se wynkuns uit slegs een wynvat saamvat.

Aan die einde van die chardonnay-ervaring dop ons weer in die proelokaal uit en vergader buite vir ’n ligte middagete.

Philip vertel: “Die veranderinge vloei voort uit ’n gefokusde strategie wat net met wyn kan begin en eindig. My visie vir die wyne van Weltevrede is om ’n suiwer uitdrukking van die terroir te wees waarin dit gewortel is. Ons wyne moet persoonlikheid hê wat deur die grond bepaal word. Dit moet ’n gevoel van plek hê.”

Namiddag wag Steyn Fullard, die landgoed se bemarkingsbestuurder, ons by die cap classique-gedeelte in. Hier speel musiek van die vyftigs en sestigs en jy kan nie help om jou vingers te klap en voete ritmies te laat saamtik as jy na die hele proses van hoe die magiese borrels in die bottel beland op ’n kort video kyk nie. In die smal gangetjies waar die vonkelwyn lê en verouder, is reuseplakkate van bekendes van Winston Churchill tot Sean Connery wat in bekende aanhalings hul liefde vir vonkelwyn verklaar.

Die ondergrondse kuipe by die Chardonnay-ervaring het elkeen ’n ander uitstalling en karakter.

Ons proe twee Philip Jonker Cap Classiques – Brut Entheos en The Ring 2013 Brut – voor ons elkeen ’n yskoue bottel se gismoer laat uitspuit, die bottel weer effens opvul, die kurk insit en foelie en die goue ringetjie om die nek laat gly.

Dis laatmiddag in die koelte van die roostuin toe ek weer Philip se woorde van die Poet’s Prayer in my kop hoor draai: “Swaarkry bring die beste in chardonnay uit.” Is dit nie waar vir die mens ook nie?

Die landgoed het ook ’n toegewyde proelokaal vir Weltevrede se Cape Wine Crafters-portefeulje geopen en ’n nuwe restaurant open in die winter.

ʼn Museum vir wyn

Nog ’n ode aan die geskiedenis van wyn is die nuwe museum getiteld Die storie van wyn, wat onlangs amptelik op Babylonstoren buite Franschhoek geopen is.

Dis Afrika se eerste en enigste wynmuseum van hierdie skaal en met ’n baie moderne aanslag leer besoekers meer oor die oorsprong, verbouing en kultuur agter die mensdom se liefdesverhouding met wyn, terwyl dit ’n kontemporêre vertelling van sy eeue oue tradisies en sosiale gravitas aanmoedig.

Die uitstallings is ’n viering van die mens se vindingrykheid, die aarde se vrygewigheid, en die kulturele gebeurtenisse wat ons kollektiewe wynmaak- en wyndrinkerfenis gevorm het.

Ons ontmoet vir Elsa Vogts, Babylonstoren se museoloog, by die wynproelokaal en sy vertel ons oor ’n glas van die plaas se cap classique, Sprankel: “Daar is iets om beginners wat net wil deurstap mee te verlustig, sowel as vir wyn connoisseurs wat gretig is om iets nuuts oor wyn te leer. Die oudiogids kan intuïtief gebruik word om meer te wete te kom oor die verskillende installasies en uitstallings regdeur die museum.”

Die oudiogidse is in sewe tale beskikbaar. Ons gaan deur ’n reusagtige struktuur van gedraaide wingerdstokke, en wingerdwortels dien ook as die ingang na ’n interaktiewe tweeverdiepingruimte. “Hierdie ‘oerwortel’-konsep was een van die mees uitdagende om te skep,” sê Etienne Hanekom, Die Storie van Wyn-ontwerper. “Die inspirasie agter hierdie uitgebreide struktuur was om ’n gevoel te skep van die oorsprong van wyn, binne sy diepste wortels en ontstaan. Ons het gehoop dat besoekers sou voel soos een van die organismes in die grond wat sy pad deur die terroir vleg. Ons het saam met argitek Jürgen Kieslich gewerk, en dit het gehelp om die konseptuele idees in ’n tasbare en herkenbare kunswerk te omskep.”

Hoe lekker om al die bottels Cap Classique te sien verouder en dan lekker daaraan te kan teug in die Cap Classique-ervaring.

Daar is regtig iets vir elkeen. As jy nie van virtuele realiteit hou of wil video’s kyk nie is daar ’n antieke versameling kurktrekkers, of ’n uiteensetting van die verskillende grondsoorte wat wyne van die wêreld hul eiesoortige eienskappe gee. Jy kan ook leer hoekom verskillende glase vir verskillende wynkultivars gebruik word, of watter wyne met watter kossoorte werk.

Namiddag wag Steyn Fullard, die landgoed se bemarkingsbestuurder ons by die Cap Classique gedeelte in. Hy wys hoe om van die gismoer ontslae te raak, voor ons elkeen ons eie bottel Cap Classique kan bottel en etikette opplak.

Elsa voeg by: “Gedigte oor wyn word op ’n unieke manier ervaar: Trek eenvoudig ’n halwe wynvat oor jou kop en verdiep jou in die liriese woorde wat deur wyn geïnspireer is.”

’n Bottel Constantia-dessertwyn wat in 1821 gemaak is, is ook op uitstalling. Blykbaar was dit een van Napoleon Bonaparte se gunstelinge. Terwyl hy in ballingskap op die eiland St. Helena was, het hy elke maand ’n staande bestelling van 30 bottels uit die Kaap laat aflewer, dus ’n bottel per dag.

Die ander wyn wat jy daar kan sien, vertel keldermeester Charl Coetzee, is die eerste bottel wyn wat in September 2011 op die plaas gebottel is: ʼn Chenin Blanc. Dit het daardie selfde jaar die streek se SA Jongwynskou-trofee ingepalm.

Die multi-sensoriese ervarings, waarvan die een waar jy die geurprofiel van jou gunstelingwyn deur tasbare voorwerpe moet reg raai, versteek in ’n gaatjie onder die geur, is my gunsteling. Tussen sweempies vanielje en aarbei deur proe jy amper die wyn op jou tong.

Bo jou kop hang ’n regte shiraz-wingerdstok uit die dak.

Die vertoonkamer in die vorm van ’n reusewynvat gaan sekerlik nog ’n treffer wees,” sê Etienne. “Dit bevat ‘n musiekvideo gemaak van wynglasmusiek en die resonansie van water en glas.”

Dis egter by die ronde vorms wat ook soos kleiner wynvate lyk, waarin jy met ʼn virtuele realiteitsbril keldertoere kan doen en selfs “binne-in” die botteleringsproses kan beland, waar ons almal toustaan.

Hoe lekker om by albei ervarings ons land se skakel in die reusewynketting van die wêreld op so ’n kreatiewe manier te kan ervaar.

  • Foto’s deur Clifford Roberts en verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.