Kaapse hoërskool spog met hipermoderne wetenskapklaskamers

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

Hoërskool Stellenbosch (HSS) in die Eikestad spog met waarskynlik die mees moderne wetenskapklaskamers in die Wes-Kaap. Twee klaskamers, vir gebruik vir wetenskapdemonstrasies, is onlangs nuut ingerig met nóg drie wat later vanjaar voltooi word.

Niel Retief, departementshoof vir die skool en vakhoof vir lewenswetenskappe, het luidens ʼn mediaverklaring gesê die nuut ingerigte klaskamers is nie net visueel stimulerend nie, maar struktureel so ingerig dat leerders in die toekoms ook sélf eksperimente kan doen.

“My droom is om die studie van lewe met soveel entoesiasme as moontlik oor te dra,” het Retief gesê. “ʼn Mens kry dit soveel makliker reg met die regte hulpmiddels, tegnologie en infrastruktuur.”

Hy het gesê as lewenswetenskappe-personeel is hulle gevra hóé hulle graag klasse wil aanbied. “Buite die ‘boks’-denke het daartoe gelei dat drie ou klaskamers nou ingerig word as vyf nuwe lokale – elkeen met sy eie tema. Daarmee saam wou ons seker maak dat die onderwyser persoonlik by elke leerder in die klas kan uitkom.”

Retief het bygevoeg tegnologie is belangrik. “Ons het dit nou alles hier, maar tegnologie op sy eie bevorder nie noodwendig leer nie. Daarvoor is entoesiasme steeds die belangrikste! Dit is nou net soveel makliker in hierdie klaskamers.

“Alhoewel die nuwe klasse met hoëvlak-tegnologie soos wi-fi, televisieskerms en moderne rekenaartoerusting spog, is dit bloot nie goed genoeg om net eksperimente op YouTube te wys nie. Leerders moet blootgestel word aan die reuke, klanke en geluide wat gepaardgaan met die wetenskap. Die nuwe klasse plaas dus ʼn besondere klem op self- en ervaringsleer wat verryk word deur media en elektroniese ondersteuning.”

Retief het ook gesê dat die vorige klasse digby 40 jaar oud was en opgeknap móés word.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

“Wat ons nou het, is ʼn spasie waarin leerders wíl leer en waar demonstrasies en prakties met gemak gedoen kan word. Die terugvoer is ook baie positief met leerders en personeel wat ‘kinderlik opgewonde’ is! Selfs oudleerders het my al gekontak om te sê dat hulle nou wéér biologie wil neem.”

Volgens Retief heet Laboratorium 1 “Lewe” en Laboratorium 2 “DNS”.

“Dié klasse is ingerig vir lewenswetenskappe, terwyl nog twee klasse meer klem lê op fisika en chemie, met die praktiese laboratorium-tema ʼn kombinasie van lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe.”

Theo Pellissier, skoolhoof van HSS, het gesê benewens die heringerigte klaskamers, begin die skool ook in September aan ʼn astrohokkieveld bou. Die skool vier boonop vanjaar sy 50ste verjaarsdag.

“In aansluiting by ons visie probeer ons altyd voor oog hou dat ons leerders vir die lewe ná skool voorberei, insluitend tersiêre studie. Ons probeer leerders toerus met praktiese vaardighede en nie net boekkennis nie. Die heringerigte klaskamers verleen hul uitstekend hiertoe, aangesien dit praktiese vakke is wat hier aangebied word.”

Die klaskamers is ingerig met finansiële ondersteuning van die Dagbreek Fonds in samewerking met die Atterbury Trust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Petrus ·

So ken ek vir Theo Pellisier Wetenskap sonder eksperimente is waardeloos Baie geluk met die innoverende denke

Maria ·

Ek wens glo my seun sal self ook wens om daar skool te gaan
Hy wil graag medies navorsing gaan doen vir sy toekoms

Disselboom ·

Dis opmerklik dat daar aan die een kant in kommentare op berigte oor die aanslae op Christelik-Afrikaanse skole heelwat versugtings is oor die koste en gebrek aan fondse om eie Afrikaanse skole te kan daarstel en bekostigbaar te hou, en aan die ander kant is hierdie vooruitstrewendheid wat o a deur die Dagbreektrust (in die FW de Klerk-stigting) befonds is. Vooruitstrewende Afrikaanse skole is ook nodig, terwyl die versugting van groot getalle Afrikaanse gesinne vir eie skole buite staatsbedreiging en vyandigheid van ateïste se invloed in openbare instellings nog nie aangespreek is nie. Daar is tans ‘n paradoks dat die armer gesinne bv deur die Atterbury Trust met beurse gehelp word, en terselfdertyd saam met die trusts aan die ander kant help om die bopunt te befonds, maar die gewone middelklasgesin het nie keuse nie, en bly afhanklik van die gemiddelde openbare skool en die swaard van nukke en grille van ander en regering wat daaroor hang. Blink labororatoriums is nog een ding, maar moet daar nie dalk nog skole gebou word voordat dit volgende astroturf-sportfasiliteit befonds word nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.