Kaapse radiostasie samel kos, komberse in

Foto ter illustrasie. (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

Die Kaapse radiostasie Good Hope FM het onlangs sy 2022 “Keep Cape Town Warm”-veldtog van stapel gestuur om nie-bederfbare kos en winterkomberse in te samel vir diegene wat die bibberende winterkoue in die strate moet aandurf.

Kapenaars verenig al vir die afgelope 13 jaar om duisende komberse en tonne kos vir dié projek in te samel.

Vanjaar se projek vind vandeesmaand plaas en beoog om nog meer kos en komberse as voorheen in te samel. Dié items gaan dan deur die radiostasie se vennoot, Community Chest, uitgedeel word.

“Die vraag wat ons onsself moet afvra, soos die winterkoue naderkom, is hoeveel ons sou doen, en hoe dít sou verander as die onbekende gesigte en skaduwees wat ons so dikwels sien skuiling soek, iemand was wat ons geken het. Ouma, oupa, ons ma en pa, ons broer, suster of goeie vriend,” sê Gerard Muller, Good Hope FM se programbestuurder.

Hy sê verder dat daardie persoon wat die straat sy of haar huis moet maak, wel iemand se familielid is.

“Daardie persoon is iemand wat deernisvolle omgee nodig het. Iemand, wat sonder die broodnodige hitte en kos en sonder hulp nie die winter sal kan deursien nie. Dit is waarom ons hierdie veldtog het. Ons weet dat Kapenaars weer eens bankvas agter dié projek sal staan.”

Diegene met oop harte kan só betrokke raak: Laai nuwe of gewasde, netjiese tweedehandse komberse en nie-bederfbare kos by die Good Hope FM-ateljee (209 Beach Road, Seepunt) af.

Die stasie gaan ook ʼn bietjie deur die Wes-Kaap toer, uitsendings doen en insamelingspunte skep waar mense nuwe of gewasde, netjiese tweedehandse komberse en nie-bederfbare kos kan gaan skenk.

Die insamelingspunte sluit die volgende in:

  • Woensdag 15 Junie van 06:00 tot 09:00 by Labiance Primary
  • Saterdag 18 Junie van 09:00 tot 15:00 by die Milnerton-mark
  • Woensdag 22 Junie van 06:00 tot 09:00 by Muizenberg High
  • Saterdag 25 Junie van 09:00 tot 15:00 by Ashford Soccer Club
  • Woensdag 29 Junie van 06:00 tot 09:00 by Parow High

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.