’n Kunstenaar met ’n unieke kenmerk

Een van die kunswerke uit Obert Jongwe se reeks getiteld “Man’s Best Friend”. (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Obert Jongwe, ʼn kunstenaar van Zimbabwe, skilder nie net wat sy belangstelling of begeerte is nie, maar ook dit wat op sy hart gelê word. Tydens die pandemie het hy gesien hoeveel mense smag na kameraadskap. Baie diere is gedurende hierdie tydperk aangeneem, vandaar die Man’s Best Friend-reeks.

Obert, gebore in Mount Darwin in Noord-Zimbabwe, was van kindsbeen af lief vir kuns.

Hy het dadelik aanklank gevind by die tekenopdragte wat hy in die skool ontvang het. Op 19-jarige ouderdom het hy bevriend geraak met ʼn kunstenaar genaamd Tichaona, en besef dat sy droom is ook om ʼn kunstenaar te wees.

Met minimale inligting en agtergrond van Tichaona, het Obert kunsgalerye begin besoek en die verskillende tipes kuns rondom hom waargeneem en begin bestudeer. ʼn Jaar later het hy die werk gesien van ʼn ander kunstenaar, ook van Zimbabwe, Tendai Nhavira. Dit het Obert dadelik geïnspireer om te begin skilder. Hy het dadelik geweet dat hy ernstig was om sy talent verder te ontwikkel en ʼn lewe as kunstenaar te hê. Dit was om sy roeping te vervul. Obert het hard gewerk, en daar was moeilike tye op hierdie nuwe reis.

Van die begin af is sy kunswerke hoog aangeslaan deur galerye in Zimbabwe asook Suid-Afrika. Tot en met 2012 het sy werk die inheemse tonele rondom hom in Zimbabwe en Suider-Afrika uitgebeeld. Hy het helder kleure en gewaagde style gebruik, wat spoedig in die harte van mens ʼn tuiste gevind het. Ná ʼn jaar se sabbatsverlof het hy in 2013 met ʼn nuwe konsep en verwysingspunt in sy werk begin. Onder die mentorskap van Jenny Jackson, ʼn plaaslike kunstenaar van Hermanus, het hy sy werk ernstig opgeneem en die emosies van sy onderwerpe op verskillende tye van interaksie weergegee met brutale eerlikheid. Hy het ook stillewe in sy repertoire begin insluit. Jenny het Obert die gebruik van kleur in sy kuns geleer asook hoe om komposisie te balanseer. Sy het vir hom deurlopend kunsboeke gee wat hy moes bestudeer en wat hul bespreek het.

Sy huidige kunswerke reflekteer ʼn meer komplekse wêreld vanuit sy oogpunt, met die tradisionele en plattelandse omgewing wat in konflik/ spanning in sy Westerse omgewing en lewensstyl is. Hy is meer geneig om die Westerse en moderne omgewing te ontwikkel, ʼn vermenging van die bekende en onbekende/ nuwe omgewing. Sy werke het ʼn akkurate refleksie van hierdie landskappe deur sy ontdekkende oë wat sorg vir opwindende skilderye.

Obert Jongwe (Foto: @obert_art/Twitter)

Die tegniek wat hy tans gebruik het nie ʼn definitiewe idee van wat die eindresultaat gaan wees nie. Hy skilder bloot wat hy visualiseer. Met sekere onderwerpe, veral dié wat meer emosioneel as visueel is, skets hy eers op papier en daarna skilder hy met olieverf op skilderdoek. Sy vry styl laat toe dat sy verf en kunsmateriale beïnvloed word deur sy proses, terwyl hy gefokus bly op die hoofonderwerp.

Sy kenmerk is ʼn unieke kraptegniek wat algemeen voorkom in al sy kunswerke en is hoogs uitkenbaar. Hy voer dit uit ná die voltooiing van ʼn kunswerk, dikwels met geslote oë omdat hy die onderwerp so goed ken. Dit beklemtoon die energieveld of aura van elke karakter.

In 2004 het Obert aangesluit by Rossouw Modern, ʼn kunsgalery in Hermanus wat van Suid-Afrika se mees talentvolle kunstenaar se werke uitstal. Vandaar is sy kunswerke in verskeie galerye in Afrika, insluitend by die Zimbabwe Nasionale Galery, te sien en bekom deur versamelaars van moderne kunswerke.

Obert se heel eerste solo-uitstalling deur Rossouw Modern het in 2006 by Groot Constantia plaasgevind. Hy neem ook gereeld deel aan landswye groepuitstallings.

In Oktober 2016 het Obert nog ʼn solo-uitstalling gehad by Rossouw Modern in Hermanus en in Oktober 2017 het Mentor: 2 Visions saam met Jenny Jackson by Rossouw Modern SPACE-galery plaasgevind wat ʼn reusesukses was. Gedurende Junie 2017 was sy kunswerke ook deel van Rossouw Modern Fynarts, THE Exhibition.

In Oktober 2022 het nog ʼn solo-uitstalling gevolg by Rossouw Modern SPACE-galery, getiteld, Consciousness The World Today 2021-2022. Die uitstalling, met ʼn produksietyd vanaf Maart 2020 tot Julie 2022, dus tydens die wêreldwye Covid-19-pandemie, het mense se lewens asook die sosio-ekonomiese landskap vertoon wat op sy kop gekeer is. Dit het ʼn paradigmaskuiwe tot gevolg gehad, met beperkings op aktiwiteite wat ons as vanselfsprekend aanvaar het. Mense kon nie reis nie, ons het kennis gemaak met inperking en baie families was geskei. Gegewe hierdie enorme impak op die samelewing en die onsekerheid wat dit meegebring het, was dit gepas om ʼn versameling kunswerke te skep wat hierdie tydperk kon vasvang en dien as ʼn geskiedkundige rekord. Die skilderye handel dus almal oor sosio-politieke perspektiewe soos wat die gebeure ontvou het, met die diverse reaksies van die onderskeie regerings, gesondheidsdepartemente en die publiek. Sewe skildery het deel gevorm van hierdie uitstalling, waaronder een van Obert. Jaarliks skilder hy ʼn reeks van sy persoonlike refleksies, geskoei op die huidige sosio-politieke landskap. Sy mentor, dr. Willie Bester, het hierdie spesifieke uitstalling se refleksies verfrissend positief gevind, ondanks die oorweldigende traumatiese natuur van die verloop van die pandemie.

Tans bied Obert kunsklasse aan wat fokus op kleurteorie en skets by die Enlighten Trust. Hy mentor ook vier ontwikkelende kunstenaars van minderbevoorregte gemeenskappe. Hy skenk deurlopend van sy kunswerke vir liefdadigheidsveilings.

Die Man’s Best Friend-reeks is gebou op die effekte wat die pandemie op die mens gehad het. Mense het begin soek na nuwe kamerade. Veral tydens inperking en met soveel beperkings, kon mense nie vrylik sosialiseer met vriende en familie nie. Dit het gelei tot ʼn hernude verhouding tussen die mens en diere. Dit het Obert aangespoor om dit vas te vang en te verewig in die vorm van skilderye.

In Obert se eerste onderhoud in 2004 deur Jozua Rossouw van Rossouw Modern, is hy gevra om op te som waarom hy ʼn kunstenaar geword het en sy antwoord is vandag steeds net so relevant: “Wat ek sien en voel, is kuns. So, ek skilder.”

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.