’n Vingerafdruk as Kersgeskenk

Susan Maré (Foto: Verskaf)

Deur Susan Maré

Sondagmiddag met die fabels van Oscar Wilde. ʼn Ongewone leeskeuse, vermoed ek. Dit is in die tweegesprek tussen ʼn standbeeld – The happy prince – en ʼn individualistiese swaeltjie waarin ek my verloor terwyl die son buite Desemberwarm neerbak. Van Wilde se nege fabels is The happy prince waarskynlik die gewildste. Hierdie Ierse skrywer, digter en dramaturg het die fabels spesiaal vir sy kinders geskryf, maar dit is ongetwyfeld ook goeie leesstof vir grootmense. Hy het dit immers eers aan sy Cambridge-studente voorgelees voordat hy dit vir sy kinders gelees het.

Êrens in ʼn vreemde stad was daar eendag, lank gelede, ʼn prins wat in die verblinding van rykdom en voorspoed geleef het en nooit die nood en behoefte van die mense om hom raakgesien het nie. Eers ná sy dood, toe hy in die middel van die stad met ʼn standbeeld vereer is, het sy blinde oog vir die werklike lewe oopgegaan. Hy het hoog uitgetroon – versier met robyne, juwele en blare van egte goud. Toe, op ʼn dag, kom ʼn reisende swaeltjie daar aan en wip moeg op die standbeeld om te rus. Die swaeltjie was ʼn alleenloper wat aanvanklik nie saam met sy maats na Egipte teruggevlieg het nie. Hy het op ʼn beeldskone rietvink verlief geraak en agtergebly om liefde ʼn kans te gee. Die rietvink het sy hofmakery afgewys en ses weke later het hy die terugtog na Egipte alleen aangepak.

Die rietvink was ʼn koket met ʼn smal middeltjie en dwalende oog – te mooi. Die swaeltjie se vriende het hom gewaarsku dat sy in te veel verhoudings betrokke is en nie ʼn goeie lewensmaat vir hom sal wees nie.

Die liefde is egter blind, maar dit het hy eers later besef. Op ʼn dag bevind die reisende swaeltjie hom in ʼn vreemde stad tussen die voete van ʼn standbeeld. Terwyl hy rus, val daar ʼn druppel water op hom. Hy is verbaas. Met geen reën in die lug nie, wonder hy waar die water dan vandaan kom? Ná die derde druppel kyk hy op en sien dat die standbeeld se oë vol trane is; dit rol oor sy goue wange en drup af, tot bo-op hom.

Van Wilde se nege fabels is The happy prince waarskynlik die gewildste. (Foto: Verskaf)

ʼn Vreemde gesprek tussen die hartseer prins en die swaeltjie neem ʼn aanvang. Die prins vertel hom van sy lewe op aarde. Hy versoek die swaeltjie om ʼn robyn in sy gordel uit te pik en na ʼn sekere adres te neem.

“Daar ver in ʼn nou straatjie is ʼn huisie. Een van die vensters is oop en ek sien ʼn vrou by ʼn tafel sit. Haar gesig is bleek en sy lyk siek en maer. Haar hande is grof gewerk en rooi geprik deur naalde, want sy is ʼn naaldwerker. Op ʼn bed in die hoek van die kamer lê haar seuntjie. Hy is siek, het koors en smeek vir lemoene. Hulle het niks in die huis behalwe rivierwater nie. Swaeltjie, swaeltjie, kleine swaeltjie, sal jy die robyn uit my swaardgordel pik en vir haar neem? Ek kan dit nie self doen nie,” sê die prins.

So word die twee oor ʼn tydperk vreemd en verrassend by die opheffing van arm en ellendige mense om hulle betrokke. Die prins oortuig die swaeltjie telkens om ʼn robyn of goue blaar of juweel na behoeftige mense se huise te neem.

Eindelik is daar niks waardevol aan die standbeeld oor nie. Die twee gaan saam dood en beland op die ashoop; die prins as ʼn kaalgestroopte beeld.

Hierdie fabel van Wilde is reeds in 1888 gepubliseer. Die boodskap daarvan, op ʼn Sondagmiddag in 2021, is steeds toepaslik vir die tyd waarin ons leef.

Hier, bo in die straat in Bethlehem waar ek woon, wonder ek: Is hier naby dalk iemand wat net kraanwater in die huis het, met ʼn leë broodblik? Kan ek dalk een van my stoepswaeltjies stuur om so ʼn adres te gaan vind met ʼn geldnoot in sy bekkie?

ʼn Resensent skryf oor hierdie verhaal: “Waarlik, liefde is wonderlik. Dit is waardevoller as ʼn smarag en dierbaarder as die mooiste opaal. Pêrels en granaatappels kan dit nie koop nie. Dit is nie van handelaars te koop nie, maar dit kan uitgeweeg word vir die balans van goud …”

Die lewe se goue oomblikke is om te gee – van jouself én dit wat jy besit. Of dit net ʼn bietjie is of baie. Só laat jy jou vingerafdrukke op iemand as Kersgeskenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.