Ondersteuning te midde van ’n krisis: ‘Help ons om onsself te help’

(Foto: Heidi Fin/Unsplash.)

Deur Annelize Joubert

Die koronapandemie was in Desember 2019 net ’n vae probleem in verre lande wat ons nie regtig geraak het nie. Ons in Suid-Afrika was nie voorbereid op die situasie wat net drie maande later, in Maart 2020, op ons gewag het nie. Eers nadat die hele land tot stilstand gekom het met die aankondiging van die staat van algehele afsondering op 23 Maart, het almal besef dat Suid-Afrika nou ook deel van die wêreldkrisis geword het.

Op daardie dag moes almal vinnig rondskarrel om hulself en hul families gereed te kry en almal se gedagtes het net gegaan oor kos en die belangrikste benodighede. Op Vrydag, 26 Maart 2020, het die deure toegegaan en van toe af is dié wat binne is (met ’n bietjie hulp van buite waar nodig) op hulself en mekaar aangewese.

Die uitdaging vir die hantering van die koronapandemie lê in die mediese wêreld, maar ook by die land se leiers en veral leiers in elke huis.

Organisasies soos Solidariteit Helpende Hand, wat normaalweg ondersteuning aan gesinne gee, is nou groot rolspelers om die skok van die pandemie te help absorbeer. Sulke organisasies ervaar die druk van voorsiening van addisionele materiële hulpverlening waarvoor nie beplan is nie, asook die verantwoordelikheid van die psigo-maatskaplike en geestelike welstand van mense. Die menslikheidskant van hulpverlening moet juis in tye wanneer mense se velle dun geskuur is, aandag kry en riglyne hieroor sal gedeel word.

Aan die positiewe kant bring ’n krisis ook die beste uit mense na vore en sien jy dat mense skielik aan mekaar begin dink en vir mekaar begin omgee. Vrywillige harte het uitgegaan en mense was en is steeds bereid om hul eie belange eenkant toe te skuif om mense in nood te gaan bedien; eerstens met basiese behoeftes soos kospakkies, maar ook met die boodskap van hoop vir die toekoms.

Mense wat hulle oor ander ontferm en vrywilligers in organisasies is nou meer belangrik as ooit tevore en in baie huishoudings nou die lewenslyn. Om so ’n belangrike rol te speel, vra natuurlik ook slim sensitiwiteit, want ons wil nie té veel, té min of verkeerd gee nie.

Die riglyne wat hier gedeel word, sal dalk help om die hulp op die regte manier aan te bied en moontlike probleme wat in gesinne mag ontstaan, vooraf te sien en advies oor te dra wat dit kan voorkom.

Laai die Riglyne vir maatskaplike werkers en vrywilligers in die bied van gesinsondersteuning tydens die korona-grendelstaat hier af.

  • Annelize Joubert is ’n maatskaplike konsultant van Orania Helpmekaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.