Oom Herrie se kerrie: Nala die weerwolf

Daar kon nog nooit konsensus gekry word oor Nala se herkoms, bedoelende bloedlyn, nie. Nala was een van 11 klein hondjies wat die eienaars net so op die plot gelos het toe hulle getrek en die pa- en ma-hond saamgevat het.

Gelukkig is al 11 deur New Beginnings gered, en het almal goeie huise gekry. Nala is bekom om vir Wolf, oudste se poolhond-wolf, geselskap te wees nadat eers Sheba, sy grootmaakmaatjie, en toe Pumba, die Herries se ou boerboel, hul laaste rusplekke onder die appelkoosboom gekry het. Wolf het eenvoudig opgehou vreet.

Intussen is Wolf saam met sy regte baas, oudste Nic, na die Boland toe oudste ’n pos op ʼn vrugteplaas gekry het. Nala het toe heel verskimmeld geraak, en so is Layla by New Beginnings gekry.

Nala is nou baie dapperder as wat sy was, en as daar ’n veilige heining tussen haar en die “bedreiging” is, kan sy vreeslik aangaan. Sy het lang hare, en as dit rys, is dit iets vreesliks waar die hare oral gaan regop staan. Dis op die skof, en weerskante van die nek. Die stert pof ook op.

Oom Herrie gaan haal so vyfuur die koerant uit die posbus, en dis nou al lekker donker. Maar Layla en Nala raak woedend vir die drawwers, stappers en fietsryers wat verbykom. So teen die straatlig afgeëts, lyk Nala net soos ’n weerwolf.

Die afgelope week werk oom Herrie uit hoeveel chemopille hy al die afgelope sewe maande moes sluk. Dis 313. Eintlik moes dit 315 wees, maar twee het geval en die honde was vinniger as oom Herrie. Daar lê nog 225 voor. Gelukkig het die honde nie van die chemopille begin gloei of iets nie. Maar, vertel vriend Johannes Wessels, hy kom ’n keer in die onkologiesaal by ’n bekende fisikus en sterrekundige. Die man het die vorige dag chemo met die drup ingekry.

Die nag moet hy die bottel gebruik, en hy doen sy ding sommer in die byna-donkerte. Maar toe die nattigheid in die bottel kom, toe is dit pure flitse en psigedeliese ligte.

“Sjoe,” dink die fisikus, “hulle het darem sterk chemo gebruik.” Die volgende oggend is hy egter dik van die lag toe hy sien hy het die vorige aand sy selfoon per ongeluk in die bottel laat beland. Die selfoon was nie baie ingenome daarmee om middernagtelik so natgepiepie te word nie.

Oom Herrie het ’n sterk spesmaas die foon is vervang, al was dit dalk tegnologies moontlik om dit te herstel. En as julle vir ’n kankerpasiënt bid, onthou om ook vir sy gesin te bid, want hulle kry dikwels die swaarste.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae