Rob steel harte, sterk aan in Pretoria

Captain-Z sterk by die Pretoriase Nasionale Dieretuin aan. (Foto: verskaf)

Die Pretoriase Nasionale Dieretuin spog met ʼn nuwe inwoner wat tans sy voete, of is dit sy flippers, in die binneland vind.

Ná ’n beproewende agt maande agter die blad sterk ’n jong Kaapse pelsrob, Captain-Z, soos wat hy onder dieretuinpersoneel bekend staan, in dié dieretuin aan.

Dié rob is op 18 Desember 2021 op eenjarige ouderdom vir rehabilitasie by die Bayworld-akwarium in Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap opgeneem. By sy aankoms het hy ’n beseerde linkeroog gehad en was in ’n ongelooflike swak toestand. Hy het ’n skamele 11 kg geweeg, terwyl die normale gewig vir Kaapse pelsrobbe van sy ouderdom nader aan 20 kg is.

Nadat hy by die rehabilitasiesentrum aangesterk het, en 18,3 kg geweeg het, is hy by die plaaslike robkolonie in Algoabaai in Maart vroeër vanjaar vrygelaat.

Hy is egter vyf weke later weer gevind, dié keer 400 km vanwaar hy oorspronklik vrygelaat is. Hy het weer eens gewig verloor en het maar net 13 kg geweeg.

Bayworld het hierna besluit dat die jong rob nie weer vrygelaat moet word nie.

Op 3 September vanjaar is die rob na die Nasionale Dieretuin in Pretoria gestuur. Hy is met die hulp van die Bataleurs, ’n niewinsgewende organisasie wat hand bysit met omgewingskwessies, na Pretoria vervoer.

’n Vrywillige vlieënier, Roger Bozzoli, het sy tyd en vliegtuig geskenk om Captain-Z na sy nuwe tuiste in die Jakarandastad te vervoer.

Om hom gewoond te maak aan sy nuwe omgewing, is hy by sy aankoms in ’n area geplaas waartoe die publiek nie toegang het nie.

Hy weeg nou 24,5 kg en die personeel wat na hom omsien vertel dat dit baie goed met hul nuwe inwoner gaan.

Captain-Z moet een vir een aan die res van die robgemeenskap in die Nasionale Dieretuin voorgestel word en wag nog om sy eerste ontmoeting met die publiek te hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Geniet die Jakarandastad Kaptein Z. Merkwaardig om op te let wie vir jou omgee.

Madelein ·

Dankie aan Roger die vlienier vir jou hulp. Mag God jou ryklik seën! En Captain Z, mag jy nog lang en gelukkige jare in jou nuwe tuiste spandeer! Ek love sulke goeie stories!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.