SA entrepreneurs verkoop onderneming vir miljoene dollar

Fasie Malherbe. (Foto: Verskaf)

Sowat 13 jaar nadat ʼn klein groepie Kaapstadse entrepreneurs met net R22 000 ʼn nuwe sakeonderneming begin het, het hulle pas dié onderneming vir miljoene dollar aan ʼn Amerikaanse organisasie verkoop.

Fasie Malherbe, medestigter en president van Lobster Ink, en sy sakevennote, Dale den Dulk, Paul Rowett en Tim Nel, het dié onderneming in 2006 begin. Die idee is gebore uit hul gesamentlike behoefte om meer te reis en die beste in die gasvryheidsbedryf te beleef, terwyl hulle terselfdertyd vaardige werknemers binne die bedryf wou ontwikkel.

Het dié waagmoedige entrepreneurs ooit gedink hul kleinskaaldroom kan só groot raak?

Die idee vir Lobster Ink was om persoonlike en pasgemaakte opleiding aan gasvryheidspersoneel te bied om gaste-ervarings te optimaliseer. “Of dit nou kos, wyn, huishoudelike diens, gasteverhoudings, of wat ook al was – die fokus was altyd prestasie en ontwikkeling en om seker te maak dat daar ʼn aansienlike opbrengs op belegging na elke groot inisiatief gelewer word,” verduidelik Malherbe.

Die groep het begin om opleidingsmodules te ontwikkel vir verskillende personeellede en het self na kliënte gegaan om die personeel op te lei. Die opleiding het veral gefokus op die nodige vaardighede om ʼn luukse ervaring te bied aan van die wêreld se mees kieskeurige gaste.

Malherbe, wat voorheen ʼn sjef was en in die gasvryheidsrigting studeer het, vertel dat baie van die personeel wat hulle opgelei het by van die duurste toeristebestemmings in Afrika, geen ervaring in luukse gasvryheid gehad het nie. “Goed soos goeie wyn, byvoorbeeld, was vir hulle soos ʼn vreemde taal,” sê hy.

Die groep het gou besef daar was ʼn reusebehoefte vir dié soort opleiding wat Lobster Ink gebied het en die maatskappy moes vinnig uit sy kinderskoene groei. Lobster Ink het oorgeskakel van mens-tot-mens-opleiding na videoproduksies, waardeur hulle video-weergawes van hulle opleidingsmodules vervaardig het. Dié video’s is op 27” Apple Mac-skerms gelaai en dan na kliënte reg oor die vasteland gestuur.

Daarna het hul produk aanlyn beweeg en ook mobielvriendelik geword. “Van daar af het dit net bly groei tot by ʼn onderneming wat meer as 1 miljoen mense in meer as 130 lande opgelei het,” sê Malherbe.

“Lobster Ink fokus op die vyf sleutelelemente in gasvryheidprestasie: gaste-ervaring, groei in verkope, afname in koste, maksimalisering van talent en opleidingstyd. Ons trek weer die toue van losstaande werksmagte by mekaar. Ons gee hul vaardighede en kennis wat 100% relevant is vir hul spesifieke werk.”

Lobster Ink kan van die vernaamstes in die gasvryheidsbedryf in hul kliëntebasis tel, insluitend Hilton Worldwide, InterContinental Hotels Group, Four Seasons, Marriott Hotels, die International Hotel Group en Dubai Tourism.

“Ons het ʼn hele paar gelukskote op ons pad gehad, hoewel ons bitter hard gewerk het om dit te laat gebeur,” sê Malherbe. “Ons het groot, gewaagde doelwitte gehad wat strategies geteiken was en deur beplanning, harde werk en verkope-doelgerigtheid kon ons daardie doelwitte bereik.”

Lobster Ink, wat nou in Genève in Switserland gesetel is, is pas aan Ecolab verkoop, ʼn wêreldwye verskaffer van tegnologie en dienste in die water-, kos-, energie-, gesondheids-, nywerheids-, en gasvryheidbedryf. McDonald’s, die Marriott Hotel-groep en Walmart is almal Ecolab-kliënte.

Hoewel daar nie bekendgemaak is vir hoeveel Lobster Ink van die hand gesit is nie, is dit volgens die maatskappy “ʼn indrukwekkende meerderheid op hul jaarlikse $24 miljoen omset”.

Malherbe se advies aan Suid-Afrikaanse entrepreneurs is om nóú in die mark te klim met ʼn blink idee voordat die groot korporasies al die goeie idees uitdink en met oplossings vorendag kom. “Op die globale sakeverhoog is daar baie meer geld beskikbaar as ooit vantevore om nou in wilde idees te belê. Welvarende individue reg oor die wêreld soek almal na die volgende ‘word vinnig ryk’-idee. Dit beteken daar is nou baie geleentheid vir entrepreneurs. Maar, jy sal moet groot dink,” sê hy.

“’n Een miljoen rand belegging in ʼn entrepreneuriese onderneming in Suid-Afrika mag dalk klink na ʼn groot bedrag vir ʼn beginner-onderneming in randwaarde. Maar as jy dié bedrag na ʼn beleggingsvergadering in Londen neem en vra vir £60 000, sal die beleggers jou nie ernstig neem nie. Die meeste van hulle het waarskynlik daardie geld in hulle dag-tot-dag-bankrekening en kan nie met so ʼn sake-idee by ʼn beleggingskomitee aankom nie,” verduidelik hy.

“Maar om te vra vir ʼn £1 miljoen- belegging is baie meer aanvaarbaar – inteendeel, dit is nog steeds ʼn klein belegging vir hulle, maar ʼn massiewe R18 miljoen plus belegging vir ʼn Suid-Afrikaanse onderneming.”

Malherbe sê hy glo vas dat as hy en sy vennote dit kon doen, kan enigiemand dit doen. “Ons het ʼn risiko geneem, het niks gehad om te verloor nie en het ʼn unieke sake-idee geskep wat floreer het deur fokus en harde werk. Spring nou in terwyl die tyd reg is en die geleenthede daar is.”

*Malherbe is ʼn reeksentrepreneur met ʼn geskiedenis van suksesvolle beginner-ondernemings. Hy is ook die stigter van die bekende Roundhouse-restaurant in Kaapstad, asook die drankverspreidingsmaatskappy Under The Influence.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cora Simpson ·

So positief an so hardwerkend. het niks op ‘n skinkbord gekry nie en niks vernieting om dit te kry nie. Manne julle is ons trots. baie geluk met julle deursettings vermoe!!

aj ·

Baie geluk Fasie en Lobster Ink!

Lekker om van ‘n suksesverhaal te hoor!

Piet ·

Ons mense se vooruitgang le in nuwe tegnologie en die digitale ekonomie. Neem hierdie raad baie ernstig op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.