Tshwane Kindersorg: ‘Ons werk is nou belangriker as ooit’

(Foto: Pixabay)

Vanjaar se Mandeladag-aktiwiteite sal uiteraard plek moet maak vir afsonderingsregulasies wat wêreldwyd ingestel is in ʼn poging om die Covid-19-pandemie hok te slaan.

Die Tshwane Kindersorgsentrum, ʼn niewinsgewende organisasie in Pretoria, meen egter dat dié regulasies niemand hoef te keer om steeds sy of haar deel vir Mandeladag te doen nie.

“Die jaar het ongekende uitdagings voor ons deur kom lê, maar dit beteken nie dat weerlose kinders se beskerming en sorg agterweë moet bly nie,” sê Linda Nell, direkteur van Tshwane Kindersorg. “Ons werk is nou belangriker as ooit.”

Die kindersorgsentrum beskik oor nege dienspunte wat in verskeie gebiede binne die Tshwane-metro geleë is. Dit sluit in Bramley Kinder-en-jeugsorgsentrum, wat in Groenkloof, Pretoria, geleë is, Atteridgeville, Eersterust, Elandspoort, Mamelodi, Olievenhoutbosch en Sunnyside. Die Eersterust- en Olievenhoutbosch-sentrums is tans gesluit.

Nell bevestig dat die Tshwane Kindersorgsentrum voortgaan met sy Mandeladag-projek. Met die #LiftAChild-veldtog poog die organisasie om ʼn gevoel vir kinders te skep dat die gemeenskap hulle op hul skouers tel en deur tye van onsekerheid dra.

“Nie al ons dienspunte is heeltemal gesluit nie en skenkings kan steeds afgelewer word, maar dit gaan uiteraard gepaard met bykomende veiligheidsmaatreëls,” sê Nell. “Wat ons wel met gemoedsrus kan doen, is om ons lojale vriende, ondersteuners en skenkers te vra om ons op ander maniere te ondersteun.”

Sy verduidelik dat mense se finansiële steun hulle in staat stel om voort te gaan met die lewering van noodsaaklike dienste aan kinders wat dit nodig het. Dit sluit terapeutiese en mediese dienste in.

Twee kinders, Jessy* en Joshua*, se stories word vanjaar gebruik om die rol van die Bramley Kinder-en-jeugsorgsentrum te demonstreer. Bramley is ʼn versorgingsfasiliteit wat 24 uur beskikbaar is. Die sentrum volg ʼn holistiese benadering tot die versorging van kinders.

ʼn Blink toekoms wink vir Jessy*

Argieffoto (Foto: Juraj Varga/Pixabay)

Jessy het in armoede grootgeword, aangesien albei haar ouers werkloos was. Die gesin het in gehawende omstandighede en op verdagte plekke gebly en alkoholmisbruik was aan die orde van die dag.

Jessy is nie vir graad een ingeskryf soos ander kinders van haar ouderdom nie. Hoewel sy gereed was, was dit nie vir Jessy se ouers ʼn prioriteit om haar skool toe te stuur nie. Sy en haar broer is in pleegsorg geplaas, maar moes noodgedwonge verwyder word omdat die pleegouers ook hul werk verloor het.

Toe Jessy 11 was, het sy en haar broer by die Bramley-sentrum aangekom. Jessy het vinnig aangepas en troos gevind in die stabiliteit wat Bramley bied. Mettertyd het sy begin agterkom hoe haar lyf op vreemde maniere groei, haar bene was misvorm en sy het ʼn vergroeisel op haar arm gehad. Ná ʼn deeglike ondersoek is Jessy met Maffucci-sindroom gediagnoseer. Dit is ʼn afwyking wat hoofsaaklik die vel en bene beïnvloed deur veelvuldige vergroeisels van kraakbeen wat binne die bene ontwikkel.

Jessy moes verskeie mediese behandelings en operasies ondergaan. ʼn Dokter het haar dienste vrywillig aangebied en die operasie aan Jessy se bene was suksesvol. Dit het die finansiële druk op Bramley verminder. Die sentrum het aangebied om vir Jessy se ortodontiese behandelings te betaal.

Die omstandighede het nie Jessy se lewenslus gekniehalter nie. Sy speel graag sokker, neem deel aan kulturele aktiwiteite en werk hard aan haar skoolwerk. Jessy droom van ʼn blink toekoms en sal hopelik eendag ook deel van ʼn span dokters wees wat kinders help om ‘n beter toekoms te bereik.

Joshua* betree die toekoms

(Foto: Pixabay.com)

Joshua is jare lank seksueel gemolesteer deur die een persoon wat hom ten alle tye moes beskerm – sy pa. In Joshua se gr. 9-jaar het sy ma ʼn klag by die polisie gaan indien en Joshua se pa is gevangenisstraf opgelê. Sy ma, wat destyds werkloos was, het van die toneel verdwyn en Joshua se jonger suster is in pleegsorg geplaas.

Joshua se pleegsorg was van korte duur en sy ouma het toe gesorg dat hy ʼn plek in die hoërskool se koshuis kry. Joshua was ʼn alleenloper wat vertroosting in musiek gevind het. Wanneer ander kinders naweke huis toe gaan, het hy in die koshuis agtergebly. Een naweek toe hy alleen in die koshuis was, het Joshua besluit om sy eie lewe te neem. Die koshuisvader het betyds op hom afgekom en sy lewe gered. Joshua het ʼn maand in die psigiatriese afdeling van ʼn hospitaal deurgebring. Dit was gedurende sy gr. 11-jaar dat Joshua se pad met die Bramley-sentrum gekruis het.

Mettertyd het die liefdevolle versorging van ʼn huismoeder en ander personeel by die kindersorgsentrum ʼn groot verskil in Joshua se lewe gemaak. Sy huismoeder het hom elke Sondag terug koshuis toe geneem, hy het twee keer per week ʼn sessie by sy terapeut gehad en ʼn maatskaplike werker het deurgaans besoek afgelê. ʼn Vrywilliger met musikale agtergrond het ook begin om tyd saam met Joshua deur te bring en ʼn hegte vriendskap is hierdeur gevorm.

Joshua se klaviervernuf is merkwaardig. Hy het in gr. 11 twee toekennings by die eisteddfod gewen en een Saterdag per maand by ʼn plaaslike winkelsentrum klavier, onder die waaksame oog van Bramley, gespeel.

Met behulp van ʼn beurs en finansiële steun deur vrywilligers kon Joshua ná skool inskryf vir professionele musiekopleiding. Danksy die Bramley-sentrum kan Joshua die toekoms op ʼn vrolike noot en met ʼn sprankel in sy oë ingaan.

Om ʼn verskil te kan maak

Mandeladag word jaarliks op 18 Julie gevier met die boodskap dat elke individu die mag het om die wêreld te verander of ʼn verskil aan iemand anders se lewe te maak.

Ter viering van dié dag word Jan Alleman uitgedaag om 67 minute aan liefdadigheid toe te wy vir die 27 jaar wat oudpres. Nelson Mandela in die tronk deurgebring het.

Tshwane Kindersorg doen ʼn beroep op die gemeenskap om hul #LiftAChild-veldtog te ondersteun deur middel van finansiële bydraes wat op die organisasie se webwerf gemaak kan word.

“Sal jy dit oorweeg om ʼn kind op jou skouers te tel en te dra?” vra Nell. “Jy kan dit doen deur ʼn bydrae te maak vir die kinders se terapie en mediese uitgawes. Dit sal die wêreld vir hulle en vir ons beteken.”

*Tshwane Kindersorg het skuilname gebruik ter beskerming van die kinders en hul ouers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.