Two Oceans red vasgekeerde sonvis in hawe

‘n Sonvis. (Foto: Two Oceans awkarium)

Die Two Oceans-akwarium op die V&A Waterfront in Kaapstad het Woensdagmiddag ʼn Mola mola, ook bekend as ʼn oseaan-sonvis, uit die Robinson-droogdok gered waar dit vasgevang was en sou vrek.

Die water in dié dok word gedreineer, met die gevolg dat visse dikwels daarin vasgekeer word. Die akwarium se reddingspan het vinnig gereageer nadat hulle van dié vis in kennis gestel is, maar net so vinnig het hulle ook besef dat hulle nie dié vis, wat tot soveel as 2,7 ton kan weeg en 3 m tot 4 m lank kan word, net met mannekrag alleen uit die dok sal kan haal nie.

Die reddingspan het Johnson Crane Hire genader om die vis veilig terug te besorg in die see. Terselfdertyd het die reddingspan die geleentheid benut om waardevolle wetenskaplike monsters te versamel vir ʼn internasionale studie oor die sonvis.

Nzikayise Tanda, die hyskraan se operateur, het versigtig ʼn draagbaar wat onder die vis geposisioneer is, gehys en oor die hawe se muur na die akwarium se boot gehys. Die boot was reeds in die hawe om vrag te laai. Nadat die draagbaar met die sonvis op die boot geplaas is, het die reddingspan, wat deur omstanders toegejuig is, die hawe verlaat om die sonvis vry te laat.

Die Two Oceans reddingspan. (Foto: Reneé Leeuwner)

Die sonvis was in ʼn baie goeie toestand, sê ʼn woordvoerder van die akwarium. Die akwarium het die vinnige optrede van die Transnet- en hawe-owerheidspan van Kaapstad geprys.

“Ons wil vir almal betrokke bedank. Groot werkende hawens soos die hawe van Kaapstad is ʼn belangrike koppelvlak tussen die natuurlike en die mensgemaakte wêreld, en dit is ʼn plesier om saam met organisasies te kan werk wat die waarde van die bewaring van ons oseaanskatte snap,” sê Renée Leeuwner, die Two Oceans-akwarium se media- en kommunikasiebestuurder.

Wat is ʼn sonvis?

Die ietwat vreemde sonvis word geklassifiseer as die grootste seevis met ʼn beenskelet, eerder as ʼn kraakbeenskelet. Dit is ʼn roofdier en een van die grootste eters in die oseaan.

Die Two Oceans-akwarium deel dié interessante feite oor dié reusevisse:

  • Sonvisse word so genoem vanweë hul gewoonte om na die oppervlak te dryf asof hulle in die son baai.
  • Sonvisse het nie sterte soos ander visse nie – die stertvin is vervang deur ʼn roeragtige struktuur. Die sonvis het egter ʼn afgeronde, golwende roer. Die roer van die skerpstertsonvis het, soos die naam aandui, ʼn duidelike punt.
  • Daar is vyf spesies sonvisse en alle sonvisse het klein bekke. Die tande word in elke kaak versmelt en vorm iets soos ʼn snawel soos dié van ʼn papegaai.
  • Sonvisse vreet jellievisse. Dit is opmerklik dat ʼn vis wat só groot kan word op ʼn dieet met baie lae voedingswaarde kan oorleef.
  • Sonvisse word nie as eetbaar beskou nie aangesien ​​die vleis sag en dun is. Die vel is ook buitengewoon grof, soortgelyk aan skuurpapier.
  • Hulle is die vrugbaarste van alle visse, en produseer tot 300 miljoen eiers ʼn leeftyd.
  • Die naam “mola” is afgelei van die Latynse woord vir meulsteen vanweë hul soortgelyke vorm.

Van 21 Desember tot 10 Januarie gaan die Two Oceans-akwarium sy openingstye vir besoekers verleng en sal dit van 09:00 tot 19:00 oop wees, met die uitsondering van Kersdag, wanneer dit om 18:00 sal sluit.

“Die verlengde ure is ideaal vir diegene wat graag hul ontspanningsdae ʼn bietjie langer wil rek,” sê Leeuwner.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KarinB ·

Nog nooit van dié eienaardige vis gehoor nie. So dankbaar die dier is gered. Ons leer gedurig iets nuuts op MM. Dankie! Sal die sonvis gaan google.

Andre ·

Daar was baie jare gelede n sonvis in Durban se aquarium . Ons het gereeld by die restaurant gaan eet wat direk langs die vensters van die aquarium gelee was en ons elke keer vergaap aan die vis….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.