Maroela Media fokus saam met verskeie organisasies hierdie week op Goeie Nuus. Taaltoffie fokus as deel hiervan vandag op alle uitdrukkings wat verwys na “goedhartigheid”.
Uitdrukking: Jou baadjie vir ʼn ander uittrek.
Betekenis: Baie goedhartig wees.
Uitdrukking: Jou broek vir iemand uittrek.
Betekenis: Baie goedhartig wees.
Uitdrukking: ʼn Dorkas
Betekenis: ʼn Liefdadige vrou.
Waar kom dit vandaan? Ontleen aan die Bybel: ʼn Volgeling van Jesus wat veral in Joppe bekend was vir haar oorvloedige goeie werke – volgens Handelinge 9:36
Uitdrukking: Wie homself/haarself gee, gee dubbel.
Betekenis: Deur jou(self) vir ʼn saak te gee, bewys ʼn mens ʼn ekstra diens aan die saak.
Uitdrukking: Alte goed is buurmansgek
Betekenis: As ʼn mens te goedhartig is, word jy deur ander misbruik.
Uitdrukking: ʼn Oop hand hê
Betekenis: Vrygewig wees
Uitdrukking: Met ʼn oop hand gee
Betekenis: Vrygewig wees
Uitdrukking: ʼn Goeie/warm hart hê
Betekenis: Goedhartig wees
Uitdrukking: ʼn Hart van goud hê
Betekenis: Besonder goedhartig wees
Uitdrukking: Jou hemp vir iemand uittrek
Betekenis: Goedhartig wees
Uitdrukking: Dis saliger om te gee as om te ontvang
Betekenis: Dit gee meer bevrediging om ander te help as om self gehelp te word.
Waar kom dit vandaan? Ontleen aan die Bybel: Handelinge 20:35
Uitdrukking: ʼnBarmhartige Samaritaan
Betekenis: ʼn Baie hulpvaardige mens
Waar kom dit vandaan? Ontleen aan die Bybel: Lukas 10:33-37
Uitdrukking: Jou vir ʼn ander uittrek
Betekenis: Besonder vrygewig wees
Uitdrukking: Vir vandag se brood kry jy môre se koek
Betekenis: Wie mededeelsaam is, word geseën
- Hierdie artikel vorm deel van Goeie Nuus-week, ʼn gesamentlike projek deur GrootFM, Maroela Media, Finesse en PopUP. Van 17 tot 21 November plaas ons nie net die klem op goeie nuus nie – ons gaan soek ook goeie nuus wat jou warm om die hart sal maak. Klik hier om al die goeie nuus-artikels te lees wat ons reeds gepubliseer het.