Van Wyk Louw-versameling tuis by Akademia

Van die boeke in die NP van Wyk Louw-versameling. (Foto: Maroela Media)

Die Afrikaanse filosoof, digter, dramaturg en skrywer NP van Wyk Louw (1906–1970) se persoonlike versameling sal voortaan in Akademia se biblioteek bewaar word.

Van Wyk Louw se versameling is deur sy seun, Peter Louw, aan Akademia geskenk en dit is Donderdag amptelik op dié instelling se Centurion-kampus in ontvangs geneem.

Dit sluit talle boeke in wat deel van Van Wyk Louw se groot boekery uitgemaak het, asook ʼn aantal boeke wat sy weduwee, die bekende regisseur Truida Pohl Louw, by hom geërf het.

“Van Wyk Louw was ʼn ywerige liefhebber, leser en bestudeerder van boeke. Ek gebruik die woord ‘bestudeerder’, want hy het ʼn enorme belangstelling gehad in alles op hierdie aarde, en daar bo, en daar onder. Sy boekery weerspieël die byna obsessiewe drang na kennis en insig,” sê Peter.

Die versameling bevat ʼn getekende eerste uitgawe van Van Wyk Louw se Gestaltes en diere (1942), asook eerste uitgawes van WEG Louw se Die ryke dwaas (1934) en Adam en ander gedigte (1944) en DJ Opperman se Joernaal van Jorik (1974).

Tydskrifte, langspeelplate en ander Van Wyk Louw-items vorm ook deel van hierdie skenking. Daar is onder meer ʼn gebundelde versameling van die eerste en tweede jaaruitgawe van Standpunte, ʼn gerekende letterkundige tydskrif wat die eerste keer in 1945 verskyn het en grootliks ʼn platform gebied het vir gedigte van die sogenaamde Dertigers.

Dan is daar plate met voorlesings uit die werk van James Joyce, Dylan Thomas en William Butler Yeats, asook die reekse “Rondom eie werk” (1970), waar Van Wyk Louw oor sy eie werk praat, en “Klank in poësie”.

Van die boeke in die NP van Wyk Louw-versameling. (Foto: Maroela Media)

Peter meen dit is maar net enkele van die kosbare items wat hy geërf het en nou aan Akademia skenk.

“Met die agteruitgang van Afrikaans op tersiêre onderrigvlak glo ek dat Akademia as onbeskaamd Afrikaanse instelling die ideale en waardige ontvanger van hierdie kosbare skenking is.

“Ek is oortuig dat my geliefde ouers so ʼn skenking sou goedgekeur het en vertrou dat dit nog baie mense se lewe sal verryk net soos wat ek daardeur verryk is.”

Peter, wat nie die geleentheid kon bywoon nie, se brief is deur dr. Hercules Boshoff, dosent in filosofie en besigheidsetiek by Akademia, voorgehou.

Prof. Peter Duvenhage, die dekaan van Geesteswetenskappe by Akademia, het ʼn kort oorsig gegee van Van Wyk Louw se werk en sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Carel Boshoff, die bekleër van Akademia se NP van Wyk Louw-ereleerstoel vir kultuurkritiek, het ook ʼn bydrae gelewer.

In Mei 2016 het Akademia ook die persoonlike literêre versameling van ʼn vooraanstaande digter, vertaler, letterkundige en radioman, dr. Daniel Hugo, in ontvangs geneem.

Hugo se versameling dek sy betrokkenheid in die Afrikaanse literêre wêreld sedert die 1980’s. Dit bestaan onder meer uit private korrespondensie oor dekades met Afrikaanse en Nederlandstalige skrywers, manuskripte van Hugo en ander se werk, resensies, artikels, rubrieke, keurderverslae vir uitgewers, foto’s, skaars boeke, tydskrifte en klankopnames.

Die volledige bekendstelling van die NP van Wyk Louw-versameling is regstreeks gebeeldsend en kan hier gekyk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.