Verbruikersregte oor die kansellasie van vakansieblyplek

vw-camper-336606_1280Die Desember-vakansie is net agter die rug, maar baie verbruikers het reeds plek bespreek vir die Paasvakansie om seker te maak hulle kry blyplek. Maar wat gemaak as jy nie meer kan gaan nie? Die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal dat verbruikers verskeie regte het om voorafbesprekings te kanselleer. Ina Opperman verduidelik wat hierdie regte is en wat die Nasionale Verbruikerstribunaal onlangs bevind het oor juis so ‘n kansellasie vir die Desembervakansie wat skeef geloop het.

Wat sê die Wet op Verbruikersbeskerming?

Artikel 17 van die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal verbruikers se reg om voorafplekbespreking of bestelling vir goedere en dienste te kanselleer.

Die verskaffer, wat die bespreking of bestelling aanvaar, kan vereis dat verbruikers ’n redelike deposito betaal en ’n redelike bedrag vir die kansellasie van die bespreking of bestelling. ‘n Bedrag word as onredelik beskou indien dit ’n billike bedrag in die omstandighede oorskry, met inagneming van die aard van die goedere of dienste, die kennistydperk van die kansellasie en die redelike moontlikheid vir die verskaffer om die plek aan iemand anders te verkoop. Die algemene praktyk in die betrokke bedryf moet ook in ag geneem word.

Verskaffers mag nie ’n kansellasiefooi hef indien die verbruiker weens die dood of hospitalisering van die persoon vir wie die plek bespreek is, dit nie kan gebruik nie. Artikel 17 is nie van toepassing op konsessie-ooreenkomste of goedere op spesiale bestelling nie.

Verbruikersklagte oor kansellasiefooi

Tot nou toe was die kansellasiefooi wat verskaffers mag hef maar iets waaroor verskaffers besluit het en waaroor verbruikers onder mekaar gekla het, maar die Verbruikerstribunaal se uitspraak maak dit baie duideliker wat verbruikers se regte is, veral wat die billikheid waarna die Wet verwys betref.

‘n Verbruiker het by die Nasionale Verbruikerskommissie gekla omdat sy ‘n deposito van 50% moes betaal, al het sy twee maande voor die tyd die plek wat sy by ‘n gastehuis in Kaapstad bespreek het, gekanselleer. Sy het nie gedink dit is billik nie en die kommissie het vermoed dat die gastehuis inderdaad die Wet oortree het en het daarom ondersoek ingestel.
Die kommissie het die gastehuis gevra om sy kant van die saak te stel en sy kansellasiebeleid vir die verbruiker aan te stuur, want volgens die verbruiker is sy nooit ingelig oor die 50% kansellasiefooi toe sy gekanselleer het nie. Sy was baie verbaas toe sy sien net die helfte van die bedrag wat sy betaal het toe sy bespreek het, is aan haar terug betaal. Toe sy daaroor navraag doen, het sy die eerste keer van die kansellasiefooi gehoor.

Wat sê die gastehuis?

Volgens die gastehuis bepaal sy kansellasiebeleid dat mense wat 0 tot 7 dae voor aankoms kanselleer, die hele bedrag verbeur, mense wat 8 tot 14 dae voor aankoms kanselleer, 75% en diegene wat meer as 15 dae voor die tyd kanselleer, 50%. Die gastehuis glo die kansellasiebeleid is wettig en dit is mense se plig om hulle te vergewis van daarvan.

In sy antwoord het die gastehuis gesê hoewel hy simpatie het met die verbruiker se penarie, kan hy nie toelaat dat haar persoonlike probleme met sy onderneming inmeng nie. Hy wou weet of die kommissie regtig dink die verbruiker sal omgee as hy geld verloor omdat sy nie opdaag nie, as hulle nie aandring op die volle bedrag nie.
Volgens die gastehuis is dit standaardprosedure vir die spitsseisoen en die verbruiker kon self iemand gekry het om haar bespreking oor te neem. Hy wou weet wat die kommissie dink die moontlikheid sou wees om ‘n ander bespreking te kry. Dit was ook die verbruiker se plig om te vra vir die kansellasiebeleid, al het sy nie self die bespreking hanteer nie, het hy gesê.

Wat sê die ondersoeker?

In die kommissie se ondersoek is gevind die gastehuis het sy besprekings gesluit nadat al die plekke vol bespreek is en dit nie weer geopen toe die verbruiker gekanselleer het nie. Die gastehuis het niks gedoen om iemand anders vir die plek te kry nie.

Die ondersoeker se bevinding was dat die gastehuis artikel 17 van die Wet oortree het deur ‘n onbillike bedrag te hef deur nie die lengte van die kansellasietydperk in ag te neem nie en nie te probeer om iemand anders te kry wat die plek kon bespreek nie.
Die kansellasiebeleid oortree ook die Wet omdat dit nie vereis dat die eienaar probeer om ander besprekings te kry nie. Die ondersoeker het die saak na die Verbruikerstribunaal verwys.

Wat sê die tribunaal?

Die tribunaal het bevind die gastehuis het ook artikels 48 en 49 van die Wet oortree.

Volgens artikel 48 mag verskaffers nie onbillike, onredelike en onregverdige kontrakvoorwaardes gebruik nie en hy mag nie van die verbruiker verwag om enige regte prys te gee nie. Kontrakvoorwaardes word as onbillik, onredelik en onregverdig beskou indien dit uitsonderlik eensydig is tot die verskaffer se voordeel of so ongunstig vir die verbruiker is dat dit onbillik is.
Artikel 49 bepaal die kennistydperk wat vereis word vir sekere voorwaardes en bepaal spesifiek enige kennisgewing of voorwaarde wat die verskaffer se risiko of aanspreeklikheid verminder, moet duidelik onder die verbruiker se aandag gebring word.
Die Verbruikerstribunaal het bevind die kansellasiefooi is onbillik en teenstrydig met die gees van die Wet. Verder was die gastehuis verkeerd om daarop aan te dring dat sy kontrak, wat gegrond is op onbillike kontrakvoorwaardes, bindend is. Die tribunaal het ook bevind die kansellasietydperk was billik en dat die gastehuis geen behoorlike stappe gedoen het om ‘n ander bespreking te vind nie, veral omdat dit in spitsseisoen was met ‘n hoë aanvraag vir goedkoop blyplek.
Die gastehuis kon ook geen bewys lewer dat dit in die verlede gaste, wat gekanselleer het, ten volle terugbetaal het omdat hulle iemand anders kon kry om die bespreking oor te neem nie. Die gastehuis het erken dat dit nie die bepalings van die kansellasiebeleid onder die verbruiker se aandag gebring het nie.

Verbruikerstribunaal se uitspraak

Die tribunaal het in sy uitspraak gesê al het die gastehuis nie enige berou getoon nie, moet hy erken dat die meeste blyplekke steeds kansellasiebeleid gebruik wat onredelik, onbillik en onregverdig is en daarom moet hy die algemene tendens in die bedryf in ag neem. Al het die gestehuis die Wet oortree, moet die tribunaal in ag neem dat die voldoening aan wetgewing nie noodwendig daartoe moet lei dat iemand wat vir die eerste keer oortree, se onderneming moet sluit nie.
Die tribunaal het bevind dat die gastehuis wel die Wet oortree het en hom skuldig gemaak het aan verbode gedrag en die res van die verbruiker se geld moet terugbetaal. Die tribunaal het die kommissie aangemoedig om ‘n ondersoek van die hele gasvryheidsbedryf te oorweeg om vas te stel hoe dikwels die bedryf die Wet en ander verbruikerswetgewing oortree, om te help om die gevalle waar verbruikers se regte misken word, te verminder.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.