Video: Weldoeners snel Pretoria-bejaardes te hulp

‘n Skermskoot uit die video.

Emosies het Woensdagoggend behoorlik hoog geloop op Jacaranda FM se bekende Good Morning Angels-insetsel toe weldoeners ʼn behoeftige aftree-oord in Pretoria te hulp gesnel het.

Harmonie-Oord, ʼn laekoste aftree-oord in Sunnyside, is die tuiste van 193 bejaardes van wie die meeste van maatskaplike toelae afhanklik is en nie kan bekostig om elders te bly nie. Die inwoners, waarvan die oudste inwoner 96 jaar oud is en talle looprame, krukke of rolstoele gebruik om oor die weg te kom, is in die knyp gelaat nadat een van die net twee hysbakke by die aftree-oord weke gelede onklaar geraak het.

Marie Pienaar, bestuurder van Harmonie-Oord, het in ʼn onderhoud met Jacaranda FM se Martin Bester verduidelik dit het tot gevolg dat die meeste bejaardes elke dag die trappe tussen die gebou se sewe verdiepings stukkie vir stukkie moet klim om tussen hul kamers, die eetsaal, die waskamer en gesondheidsafdelings te beweeg. Inwoners wat nie in staat is om trappe te klim nie, moet almal van een hysbak gebruik maak, wat tot gevolg het dat hulle soms langer as ʼn halfuur lank moet wag om êrens te kan kom.

Pienaar het verduidelik dat die hysbak vermoedelik onklaar geraak het weens kragonderbrekings en die kragtoevoer by die oord wat gereeld aan en af gaan. “Ons moes pas omtrent R50 000 bestee om die kragborde te beveilig en dit is wat veral maak dat ons nou niks surplusfondse het nie. En jy weet mos munisipale rekeninge by ʼn ouetehuis is oor die R100 000 per maand, so ons kan nie nou betaal om die hysbak reg te maak nie, want dan het ons nie in die winter geld om krag te betaal nie,” het sy verduidelik.

Soos gewoonlik het die Good Morning Angels-span egter ʼn verrassing vir Harmonie-Oord se inwoners gehad. Wynand Beukes, hoof‑ digitale beampte van We Buy Cars, het aangekondig dat dié maatskappy R50 000 sal skenk om die hysbak so gou as moontlik te laat herstel. “Daar is so baie dinge wat ons elke dag as vanselfsprekend aanvaar – simpel goed soos om net by ʼn eetsaal uit te kom of in die son te gaan sit. So van We Buy Cars se kant af wil ons beslis hierdie probleem oplos,” het hy gesê.

Dié aankondiging is met luide toejuiging deur die oord se inwoners begroet.

“Baie dankie, Martin, dankie vir hierdie omgee,” het Pienaar gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pampoen ·

Baie dankie dat julle omgee vir die mense. Sëen vir julle

Johan Swart ·

Is daar nog mense wat geld uithou om krag te betaal ?

Dina ·

Dis wonderlik dat organisasies hulp aanbied vir so n belangrike saak. Dankie We Buy Cars. Mag julle ryklik geseën word.

Nonnie ·

Hier in ons land is die wonderlikste mense denkbaar!!! Baie, baie dankie We Buy Cars!!!

Frederik ·

Dankie vir julle hulp.
Daar is so min mense wat aan die ouens van dae dink.
Dit voel vir my dat die mense net so gelaat word om maar dood te
gaan.
Hulle het al die jare die land gedra en nou word hulle gelos vir die
aasvoëls.
Wat ‘n SKANDE.
Dankie We Buy Cars.

bambi ·

Ek wil van my kop afraak as ek sulke dinge lees! terwyl die ministers en hul werkers in weelde leef; waar en hoekom word hierdie tehuise afgeskeep en is daar nie geld nie?? staatsinstellings etc; maai toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.