Vrou voltooi 729 km-staptog teen verkragting

Leilani Kuter. (Foto: Verskaf)

Met seer enkels, en R237 110 in haar “BackaBuddy”-veldtog se beursie, het Leilani Kuter die laaste 5 km van haar 729 km-staptog by die Ruimsig parkrun Saterdag voltooi.

Die 45-jarige inwoner van Roodepoort het op 16 September in Pretoria met haar uittog begin, na Tzaneen gestap, weggedraai na Nelspruit, in Middelburg in ʼn renoster op ʼn stofpad vasgeloop en op 12 Oktober in Ruimsig geëindig. Die veldtog was daarop gemik om R270 000 in te samel om troospakkies vir verkragtingslagoffers saam te stel. Kuter is self 27 jaar terug, as 18-jarige inwoner van die NG Kerk Jeugsentrum in Pretoria, wreed aangeval, verkrag en vir dood gelos.

Die pakkies, wat skoon onderklere, sanitêre ware, iets om te eet en te drink en ʼn sagte speelding vir kinders bevat, sal aan jong vroue gegee word wanneer hulle ʼn klag van seksuele aanranding by ʼn polisiestasie of organisasies wat met hierdie slagoffers werk, aanmeld. Van die geld gaan ook gebruik word om soveel moontlik vroue te help wat rehabilitasie en berading benodig.

“Ek het juis op 16 September begin loop omdat dit die dag was dat ek verkrag is. Vir die res van my lewe sal ek iets op hierdie dag doen om bewustheid te skep vir slagoffers van verkragting,” vertel sy aan Maroela Media.

Sy sê die ervaring het haar baie oor haarself geleer, asook die goedhartigheid van ander. “Dit is die moeilikste ding wat ek al ooit aangepak het, maar ook die beste besluit wat ek ooit kon neem. Ek het nie een keer die oggend opgestaan en gesê ek gaan nou moed opgee nie. Ek het ʼn verpligting gehad wat ek moes nakom, al het dit nou gereën of die son my verbrand.”

Die staptog het oor vier provinsies gestrek en sowat 3 645 uur geneem om te voltooi. Kuter is ook deur amper 300 mense tydens haar staptog bygestaan. Op haar laaste 22 km-skof het nege van haar naaste vriende saam met haar gestap. “Hulle het almal al 04:00 die oggend langs my gereed gestaan vir die skof.”

Gevra of sy weer ʼn staptog soos dié sal aanpak, antwoord Kuter in ʼn lagstem: “Toe ek klaar is, het ek gedink nooit weer nie, maar noudat dit verby is, mis ek dit vreeslik. Ek het daardie gevoel as jy terugkeer van vakansie en jy weet nie lekker wat om met jouself aan te vang nie.”

“Ek wil als verander”

Leilani Kuter in Nelspruit, waar die Hoërskool Bergvlam haar ondersteun het. (Foto: Verskaf)

Kuter sê op die dag van haar verkragting was die polisie wat haar gehelp het kil en afsydig. “Hulle het sommer so terloops gesê ek was die sesde geval van verkragting wat in die gebied in daardie week aangemeld is. Hulle het ook geen empatie getoon nie.”

Dit, sê Kuter, is iets waarop sy haarself nou gaan toespits. Haar stem raak effens verhef, kwaad wanneer sy oor hierdie planne praat. “Ek voel dit is die staat se verantwoordelikheid om beter hulp aan slagoffers van seksuele aanrandings te bied. Daar behoort by elke polisiestasie ʼn afdeling te wees wat slegs op hierdie misdade gefokus is, waar slagoffers sal veilig voel en nie net soos nog ʼn statistiek nie.”

Sy sê verder dat mense wat met hierdie gevalle werk, opgelei moet word oor hoe hulle so ʼn slagoffer moet benader en hoe om empatie te toon vir die mense wat deur ʼn ongelooflik moeilike situasie gaan. “Dit sal nie regverdig wees vir die publiek om so iets te moet stig by die polisiestasies nie, omdat hulle reeds belastinggeld moet betaal en baie niewinsgewende organisasies reeds met hul hulpbronne ondersteun. Die regering moet spoedig hieraan aandag gee. Ons sukkel met werkloosheid in Suid-Afrika, hier is ʼn geleentheid om mense op te lei en aan te stel.”

“Die besef dat ek nog nie oukei is nie, en dis oukei”

Leilani Kuter het in alle weersomstandighede gestap. (Foto: Verskaf)

Kuter vertel verder dat sy een dag tydens die staptog haar dyspier seergemaak het en Pretoria toe gegaan het om Vacumed-behandeling te ontvang. “Ek en my kameraman, Gerhard Botes, het egter die aand, moeg en seer, besluit om by die Menlyn Boutique Hotel in Pretoria te oornag.”

By haar kamer aangekom, het Kuter se kamer ʼn toesluitknip op die deur gehad, terwyl Botes se deur nie so ʼn knip gehad het nie. “Ek het ʼn ongelooflike vrees vir daardie hakie, want dit was aan my deur by die jeugsentrum en my aanvaller het die deur op knip gesit. Ek kon nog nooit in ʼn kamer slaap met so ʼn knip nie en ek het amper daardie hele nag gehuil. Dit het my weer laat besef dat ek nog nie oukei is nie, en dis oukei. Die trauma sal my altyd bybly. Maar ek hoef nog nie oukei te wees nie.”

Die pad vorentoe

Kuter wil nou haar storie aan die hele Suid-Afrika vertel en sê dat sy ʼn boek, ʼn dokumentêr en verskeie praatjies oor die hele land heen beoog.

Die dokumentêr, Born to an Audience, sal oor haar lewensverhaal en die 729 km-uitdaging handel en is tans in produksie.

“My wens is om my boek as voorgeskrewe boek vir kinders in skole te kry, in al die Suid-Afrikaanse tale, want dit is ʼn storie van hoop.”

  • Om Leilani Kuter as spreker by jou skool, organisasie of geleentheid te bespreek, kan lesers ʼn e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ana ·

Hoekom kry die Heldin so min media dekking?
Dankie vir wat jy vir ons doen, en vir wat jy dalk nog vir ons gaan beteken.Is dit as vrou nie een van ons grootste vrese nie. Sulke helde is wat in ons Geskiedenisboeke moet opgeteken word..

Dries Moolman ·

Wou nou net dieselfde vra. Dit maak my sommer briesend as daar altyd so vinger gewys word, maar dan wanneer iemand iets goeds soos hierdie doen, is dit sulke opsygeskuifde nuus. Sy behoort te trend op Twitter vir hierdie daad, as jy in ag neem hoe geslagsgeweld en verkragting nou so buzzword is.

Maria ·

Baie dankie jou dapperheid ,liefde en omgee mag Here jou seen

Arno Scheepers ·

Hierdie vrou is n Suid-Afrikaanse heldin.
Mag jy geseën word vrou.
Mag die oë van ons mense geopen word en ons vrouens en dogters die respek kry wat hulle verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.