Helpende Hand-opname gee gemeenskappe ʼn stem

Hannes Noëth. (Foto: Verskaf)

Om sterk, selfversorgende gemeenskappe te bou, is Solidariteit Helpende Hand tans besig met ʼn landwye opname onder Afrikaanse gemeenskappe om vas te stel wat hul behoeftes is.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, verduidelik dat een van die eerste stappe in gemeenskapswerk is om gemeenskapsnavorsing te doen om die behoeftes, beskikbare hulpbronne, sterkpunte en uitdagings in ʼn gemeenskap te bepaal.

“Ons is reeds ʼn geruime tyd al in ons verskillende streke besig om gemeenskapsanalises en navorsing oor die stand van ons mense en die daarstel van volhoubare strukturele oplossings te doen. Die doel van dié navorsing is om die gemeenskapsprofiel, sterkpunte, beskikbare hulpbronne, uitdagings en die behoefte aan opleiding, inligting en ondersteuning te bepaal,” sê Noëth.

“Wêreldwye navorsing het getoon dat lukrake projekte, sonder behoorlike navorsing oor die behoeftes van die spesifieke gemeenskap, uiters onproduktief, niksseggend en hulpbronverkwistend is.

“Dié opname is die eerste stap in gemeenskapswerk – om die gemeenskappe betrokke te kry en vas te stel hoe hierdie gemeenskappe verenig kan word, asook deur programme en aktiwiteite holisties ontwikkel kan word. Ons weet hoe belangrik dit is om op die regte plek, op die regte wyse, die regte verskil te maak.”

Helpende Hand se hoofkantoor in Centurion, Gauteng, gaan op 25 Augustus ʼn pretdag by die Sol-Tech-kampus in Pretoria hou, en al die instansies se personeel binne die Solidariteit Beweging uitdaag om op dié dag tien minute van hul tyd af te staan om die gemeenskapsvraelys aanlyn op hul selfone of skootrekenaars in te vul.

Vir elke vorm wat op dié dag voltooi word, sal R10 aan die Helpende Hand Studietrust (HHST) geskenk word, wat behoeftige studente die geleentheid bied om verder te gaan studeer.

“Hierdie gemeenskapsvraelys help ons geweldig om ʼn verskil te maak waar dit regtig saak maak. Om net kos uit te deel, verlig dalk die onmiddellike, daaglikse nood, maar is nie volhoubaar vir die toekoms nie. Ons moet dus saamwerk om gemeenskapskrag te ontsluit,” sê Noëth.

Die navorsing sal beskikbaar gestel word aan instansies wat ʼn sosiale verantwoordelikheid teenoor sy gemeenskap dra, om hulle in staat te stel om hul eie aksies te evalueer en aan te pas om hul gemeenskappe te ontwikkel.

Besoek www.onsgemeenskap.co.za vir meer inligting en om die vraelys in te vul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Dit is dalk tyd werkloses ‘n unie stig wat vir hul regte veg. Hoeveel werkplekke het feitlik net swart werkers in diens? Winkels en nywerhede neem die pad van min weerstand en stel net swartes hetsy bruinmense aan. Betaalpunte word deur anderskleurige vroue beman en dienste soos aflewering en vragvervoer word deurgaans deur swart of bruin mans hanteer. Wit kinders wat nie verder kan studeer nie moet rondval vir oorlewing. Unies veg net vir die regte van werkers. Die res moet maar sien-kom-klaar. Waarvan leef hulle? Wat hou die toekoms vir hulle in?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.