[Luister] “Terug Kerk Toe Sondag” vra mense om terug te keer na die Here

kerk-banke

Argieffoto

Die tyd waarin ons lewe en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan dwing ons om weer te vra na die kwaliteit van ons geloofsverbintenis met die God van die Bybel.

Dit is waarom Jannie Pelser van die ToekomsVenster-inisiatief die Terug Kerk Toe Sondag-veldtog begin het. Die inisiatief is daarop gemik om mense op 20 November weer in die kerk te kry en dit word goed ontvang.

“Baie mense glo nie meer dat die kerk relevant is en ʼn verskil kan maak in die wêreld nie. Die fout lê uiteraard nie by God nie maar by die aard en kwaliteit van ons verbintenis aan Hom. Baie eens aktiewe Christene het weggedwaal en beskou hulle geloofslewe nie meer as ʼn prioriteit nie. Die leë banke in gemeentes op Sondagoggend getuig daarvan,” het Pelser gesê.

Volgens hom bring die Bybel die ontstellende en uitdagende konteks waarin ons in Suid-Afrika leef en die toestand van en in die kerk met mekaar in verband. “Die bekende teks in 2 Kronieke 7:13 en 14 veral, roep en maan die kerk om haar te bekeer. Met die eerste oogopslag lyk dit vreemd dat God sy kerk tot bekering moet roep. ʼn Mens sou verwag dat die Here Hom met die onverskilligheid van die wêreld buite die kerk besig sal hou. Dit gebeur egter nie. Dit is die tipiese en sikliese manier van lewe van die Godsvolk dwarsdeur al die eeue. Die kerk in die Ou sowel as die Nuwe Testament moet voortdurend herinner word aan haar eerste liefde en lojaliteit.”

“Terug Kerk Toe Sondag” is ʼn nuwe en herstelde verbintenis aan God wat aanleiding moet gee tot ʼn ander manier van lewe. Volgens Pelser behels dit algehele toekeer en inkeer. “Dit is om deel van die antwoord in ʼn soekende wêreld te word, eerder as om die probleem en uitdagings groter te maak,” het hy gesê.

Leraars word vriendelik versoek om eredienste te fasiliteer waar lidmate die geleentheid gebied word om hulle te verootmoedig, skuld te bely soos die Heilige Gees hulle oortuig en in besonder voorbidding te doen vir die vele uitdagings in Suid-Afrika. “Dit is veral die knellende droogte wat op gemeentes se gebedlysie moet wees.”

Die versoek is nie aan ʼn spesifieke denominasie gerig nie, maar aan alle gemeentes ongeag kerkverband. Die oogmerk is dat lidmate op 20 November weer terugkeer na hulle eie gemeentes.

“Gelowiges word opgeroep om hul vriende en kennisse uit te nooi na die geleentheid. Dit sal ook wonderlik wees as gelowiges hierdie inisiatief rakende 20 November se “Terug Kerk Toe”-inisiatief op sosiale media kan versprei,” het Pelser gesê.

Besoek ToekomsVenster se Facebook-bladsy of www.toekomsvenster.co.za vir meer inligting oor die inisiatief.

  • Jannie Pelser het ‘n draai in Maroela Media se ateljee kom maak en met Esté Meyer Jansen gesels oor die “Terug Kerk Toe Sondag”-inisiatief. Luister na die podsending bo-aan die berig om uit te vind hoe jy by die inisiatief betrokke kan raak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lena Jonk

Pragtige oproep om mense weer saam te bring om te bid. Die mensdom het God eenkant toe geskuif oor die wereld, almal gee raad vir oplossings, daar is net een manier keer terug na die Almagtige God en volg sy riglyne soos voorgeskryf in die Bybel.

Anoniem

Die fout le nie by die kerk nie, maar by die person wat voor in die kerk staan en die verkeerde of sy eie weergawe van die word probeer verkondig!
Asook gaan dit oor hoeveel kolekte geld jy deesdae in die sakkie gooi, en nie meer oor Godsdiens nie……

Deon

Dit is hartseer dat mense opgeroep moet word om kerk toe gaan: Ek is sooo bly dat hierdie oproep my nie raak nie want ek is in ‘n gemeente waar die kerk stampvol is elke Sondag. Dankie Vader dat ek deel kan wees daarvan!

Marius Liebenberg

Ag ek is nou vreeslik jammer maar ek sal nie Sondag kan maak nie. Ook nie volgende Sondag nie. Sien, ek is een van daardie wat deur die sinode en die gemeentelede verdoem word.
Bye for now!

Bloues

Die fout is by die leiers van die kerk. Ds Pelser se afleiding dat die kerkbanke leeg is as gevolg van mense wat hul losgemaak het van die kerk is foutief. Baie mense het agtergekom dat dit wat aan hulle verkondig word as woord van God is nie altyd Sy woord is nie. Mense het agtergekom die kerkleiers wil die kerk aanpas om by die mense te pas en dis verkeerd. Baie mense het agterkom dat persoonlike stilte tyd baie meer beteken as kerk toe gaan. Baie mense het ook agtergekom dat geld n te groot rol in die kerk… Lees meer »