Oom Herrie se kerrie: Familie by die see

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Al sê die HAT dis deesdae in die haak in, gee dit oom Herrie steeds die horries as mense van hul familie praat wanneer hulle eintlik hul gesin bedoel.

Net soos “besigheid” steeds vir oom Herrie ’n ding is wat die hond op die grasperk maak, en ’n mens vies in trap as jy net ’n oomblik nie oplet waar jy loop nie. So is dit mos op skool (nogal in Stellenbosch waar #OpenStellenbosch deesdae die kitaar slaan) in ons ingedril.

En menige skoolseun met ’n paar proefbuise die skoolterrein moes deurkruis om verskillende grondmonsters in te samel om die verskil tussen ’n skoolterrein en skoolgrond te leer.

Maar vandag het oom Herrie dit oor ’n ander familie-verskynsel. Die “regte” soort familie. En meer spesifiek daai soort van wie ’n mens minstens ’n jaar lank niks weet nie, maar hier oor die Somervakansie skielik die hegste familie is wanneer hulle by ander familie se plekkie by die see opdaag.

Soms selfs heel onaangekondig. Ander kere darem met ’n oproep vooraf om die “goeie nuus” van hul koms mee te deel. “En moet asseblief nie te veel moeite doen nie.”

Die Knoetze-gesin is deur die Karoo onderweg na hul strandhuis by Kleinbrak toe Ma Johanna vir die hoeveelste keer vir Pa Frans dit op die hart druk. “Onthou, ek gaan dié keer ook rus. Geen vriende, en geen familie eens vir ’n ete nie, laat staan nog oorslaap.”

Frans luister met ’n halwe oor, want juis toe word die telling van die kriekettoets teen die Engelse oor die radio gegee.

Presies twee dae daarna lui Frans se selfoon. “Hallo, dis Kosie hier, hoe gaan dit?”

“Kosie wie?” vra Frans.

“Jou neef Kosie van Pretoria – jy weet mos.”

“O ja, nou onthou ek. Jarre laas van jou gehoor.”

“Julle is mos nou by Kleinbrak,” babbel Kosie gemoedelik voort. “Ons kom toevallig daar verby, en dink dis tyd vir ’n bietjie oë wys.” Hy praat hard en Johanna hoor. Sy ken al elke afpak-truuk in die boek, en sy maak grootoog vir Frans om vir hom mooi te laat verstaan dis uit.

Maar Frans sê, nee dis reg, dan sien ons julle vir ’n oëwys. Kosie lag: “Ai man, nou laat jy dit skoon klink of jy meen ons kan net gou afklim dat die kinders kan gaan piepie en ons ’n ietsie saam eet, en ongeskik woerts is ons weg.”

“Saam eet se *&^” raas Johanna toe Frans aflui. Dis jou familie, en jy sorg vir elke ete vir hulle, elke skoon handdoek, elke ding. Ek staak!”

Skaars ’n halfuur later trek die luukse stasiewa voor die Knoetze’s se strandhuis in. Die deure vlieg oop en ’n string kinders bondel met hul opblaasseegoed, paddapote, duikbrille en ander strand- en seegoed by die deure uit, by die verslae Johanna verby die huis in, en plak alles die sitkamer vol.

Kosie se vrou, Iris, roep nog agterna: “Julle moet kom help bagasie afdra. Ek is hier om te rus.”

Skaars het die kinders hul lêplekke gekry, of hulle stroom see toe. Iris roep agterna: “Julle moenie laat terugkom nie. Ons eet vroeg vanaand.”

Die kinders is naderhand terug. Maar daar word nie vroeg geëet nie. Trouens, daar word glad nie reggemaak vir eet nie. Kosie se kinders begin neul van honger wees.

“Ek gaan ʼn entjie langs die see stap,” kondig Johanna aan. Sy sien die verstomming op die “gaste” se gesigte en die paniek op Frans se bakkies. Maar sy glip uit, en adem die koel naglug met groot satisfaksie in. Sy sorg maar dat sy so na aan ander groepe wat stap bly, en verkieslik tussen mense is want sy verwag enige oomblik gaan ’n afvaardiging van die huis af haar kom soek. Sy is innig dankbaar sy het, terwyl Kosie se kinders nog by die see was, vir haar eie kroos skelm toebroodjies gemaak en gegee.

Sy eet ook haar eie padkos wat sy onder haar bloes versteek het. Half tien daag sy by die huis op. Frans en sy familie is al bleek van die honger. Johanna groet gemaak vrolik, en sê die stappie het haar nou moeg en sy gaan maar inkruip.

‘n Ruk later besef Frans dit kan nou nie anders as hande uitsteek nie en hy diep ʼn paar tjoppies op. Nou moet nog vuur gemaak word. “Ag Iris, as jy maar vir ons ’n paar broodjies sal maak.”

“Ek is nou nie eintlik een vir die kospotte nie,” verweer sy, maar sien dis of broodjies maak, of haar gesin ly honger.

En onervare kokke maak mos ’n vreeslike klomp skottelgoed. En dis so ’n berg skottelgoed wat Johanna die volgende oggend begroet. ’n Berg wat nog aansienlik sou ophoop tot daar nie meer ’n skoon holdingetjie in die huis is nie. Want sy staak mos. Naderhand girts-girts die vloer al van al die ingetrapte seesand, maar die enigste een wat skynbaar weet hoe om ’n besem vas te hou, staak mos.

So teen die derde dag kan Frans dit nie meer hou nie. Hy roep Kosie eenkant, en beduie. ’n Slag wys hy vuis ook. Kosie kry die boodskap.

’n Ruk later soek Kosie en Iris na nommers op hul selfone. “Nee, daai een gaan nie werk nie,” hoor die Knoetzes kort-kort. Een keer: “Ja, en hier was ons soos sleg honde weggejaag.”

Maar ’n ruk later word die eerste oproepe gemaak. “Maar ken jy nie meer Kosie jou kleinneef se stem nie? Goeie nuus, ons kom toevallig juis daar by julle verby vir oë wys…”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann Marx ·

Toe my pa nog gelewe het, het hy baie slim sê-goed gehad wat ons TOE nie verstaan het nie, maar nou al self ‘n keer of wat ervaar het. Een van daai was, “Familie? Is ‘n skuilnaam vir ‘n rower-bende!!”

Magdas ·

10 uit 10 Vir tannie Johanna. Ek wens ek het die guts geghad om dit te doen. Ha Ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.