Oom Herrie se kerrie: Nala se “aanvoelings”

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Dis nou byna presies ’n jaar sedert Nala by die Herries kom bly het. Nala was een van 11 hondjies wie se vorige eienaars die elftal net so op die kleinhoewe gelos en met die pa- en mahond getrek het. Toe het die wonderlike mense van New Beginnings op hulle afgekom en hulle oor die klein brakkies ontferm.

En so het die Herries vir Nala gekry. Al 11 het goeie base gekry. Nog klein, maar moenie vir ’n oomblik dink Nala het vergeet dat sy eens ’n weggooibrakkie was nie. En steeds uitermate dankbaar oor die tweede kans wat sy gekry het. Gelukkig al haar boeties en sussies ook.

Presies wat alles in Nala se gene is, sal ’n mens seker nooit weet nie, maar daar is iets van ’n beeshond in. Nala is ’n soener, en soen waar sy kans kry.

Sover ons weet, is sy op dieselfde dag gebore as wat Wolf, die poolhond, se vorige maatjie, Sheba, voor ’n bus beland het. Wolf was saam met Sheba onder die bus in – in plaas van die wit poolhond het die Herries hoe lank met ’n swartgesmeerde brak gesit van die bus se bande wat hom getrap, maar niks gebreek het nie.

Sheba rus egter nou onder die appelkoosboom.

Toe ou Pumba ook nog weens ouderdom onder die appelkoosboom ’n laaste lêplek kry, wou Wolf niks meer vreet nie. Toe kom Nala, en die twee is die grootste maats. Albei met lang hare, maar Wolf kry nie maklik koud nie, terwyl Nala in die winter tussen oom Herrie en mev. Herrie op die bed kom nesskop het. Sy “ontgin” behoorlik elke krieseltjie warmte wat van onder die komberse uitkom – of dit nou menselywe is, en of sy nou agter die warmwatersak aan migreer, sy soek die warmte. Wolf is gek oor iewers heen saamry, terwyl Nala die huis in hol as sy sien daar gaan ’n sleutel draai. Albei is erg daaroor om te gaan stap – as die stapkettings rinkel, raak hulle gek.

Maar dis toe oom Herrie nie meer so waffers begin voel het nie dat ’n mens kon sien hoe sensitief Nala is. Sy sou haar kop op oom Herrie se skoot kom lê, en met haar kennetjie “ploeg” om seker te maak sy het die aandag. En dan met daai diep bruin oë vra: “Wat is fout, pa Herrie?”

Nee, oom Herrie het nie geweet nie. Net maar al maerder geword, met al minder energie. Tot die dag toe oom Herrie dokter toe is oor die “griep” wat maar nie wou laat los nie. ’n Dag of wat later is oom Herrie pens en pootjies in die hospitaal, en eers agt dae later daar uit. Wolf en Nala was behoorlik uit hul velle toe mev. Herrie vir oom Herrie by die huis besorg.

Vanjaar se kankermaand dra oom Herrie toe sommer twee soorte kanker onafhanklik van mekaar tot die stryd toe. Die een wat so baie mans kry, wat toevallig ontdek is toe die ander ondersoek is – die ander bitterlik skaars.

Die Sondag daarna sing ons oudste se meisie, Leandri Truter van Bellville, in die Herries se kerk in Bloemfontein, op oom Herrie se versoek, “O Heer, my God”. Ongelooflik mooi, en oom Herrie kan nog lank nie daaraan dink of die lied oor die radio hoor sonder om baie diep bewoë te raak nie. “Hoe groot is U.” Die voorreg om die wonders van sy Skepping te aanskou, en steeds daaroor te kan skryf.

Soos so gereeld in die verlede gebeur het, bring dit ook insigte. Die blymoedigheid en positiewe ingesteldheid van die mense in die chemokamer waarvan baie veel sieker as oom Herrie is. Gawe, en knap personeel. Ja, daar is die enkele pasiënte wat doodstil, toe-oog lê, of grootoog sit, veral die jonges – duidelik baie benoud. ’n Mens hoor hoe van die pasiënte vertel van groot opofferings en selfs ontberings om gereeld van ver by die chemokamer te kom aanmeld. Kommer oor moontlike sneeuskade onder die vee …

Nala kom steeds gereeld grootoog verneem hoe dit gaan.

Die ondersteuning van die gesin, die kerk, die vriende, familie en kennisse en selfs vreemdes, selfs van oorsee is verstommend. Mev. Herrie is ’n reuse-steunpilaar. Gebede en gebede, ver meer as waarvan ’n mens ooit sal weet. ’n Buurvrou wat al ’n paar keer ’n lekker pot sop oorgebring het.

Tog so jammer dat ’n mens so dikwels eers iets ernstigs moet oorkom voordat ’n mens sien hoeveel goed daar in die medemens (en sy beste vriende) opgesluit is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Petro Bezuicenhout ·

Sterkte en genade en genesing is my wens oom Herrie.Rus maar baie en suig suurklontjies vir die droeë mond.Ek weet ,want ek is ook genadiglik daardeur.En hou maar ‘n drinkdingetjie byderhand om al die gesonde eetgoedjies mee af te sluk!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.