Oom Herrie se kerrie: Om dikbek te wees

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oom Herrie is dikbek. Gelukkig net aan die een kant. Ja, soos by ander val die chemo ook die slymvliese van oom Herrie se mond aan. Hiervoor, so het die susters in die chemokamer vooraf aangeraai, moet ’n mens jou mond gereeld met koeksoda uitspoel. Nie seepsoda, Cream Soda (ook bekend as Creme Soda) of Engelse sout nie.

Oom Herrie het opgeslip, en daar blaas die een kant van die mond lekker dik. Maar so lastig soos ’n pap wiel, al is die wiel ook net aan die onderkant pap.

So tussenin het die Herries nuwe bure gekry. Met die intrekkery het die nuwe hond, en helpers se kinders, te heerlik in die agterplaas gespeel. Uitbundig. Nala het dadelik agtergekom dis ’n nuwe hond en ander kinders, en vreemd, dit glad nie goed gevat nie. Groot kabaal in die huis bly opskop, en wil nie meer as haar neus by die agterdeur uitsteek nie.

Later vat oom Herrie vir Nala buitentoe. Sy sluip styf teen oom Herrie se been in die rigting van die stormwater-deurlate waardeur sy en die vorige hond so woes vir mekaar tande uitgepak het en hoor en sien laat vergaan het.

Maar toe steek Nala ’n ent weg vas. Oom Herrie gryp haar bo die stert en maak ’n monstergeluid. Nala spring omtrent dwarsdeur haar vel. ’n Dag later is Nala darem die nuwe bure gewoond. Wolf het nog nie watwonders belangstelling getoon nie.

Die Herries is die afgelope ruk gereeld deur die apostel Jakobus besoek. Jakobus is die apostel wat so baie klem plaas op geloof wat in geloofsdade omgesit moet word.

Net soos ’n mens dink die juk begin swaar druk, dan is ’n mens so bewus van ander by wie dit nog moeiliker gaan. Soos die vierjarige dogtertjie wat leukemie het en haar pa toe haar ma in die middel van die maand sonder ’n krieseltjie kos los. En dan hoor ’n mens van iemand wat al gereeld in nood uitgehelp het, maar nie dié keer kon nie, want hy het pas alles wat hy kon, opgedok om ’n ou oom wie se mediese fonds uitgeput geraak het, se rekening te betaal sodat hy nie na die staatshospitaal oorgeplaas word nie. ’n Oorplasing wat hy waarskynlik nie sou oorleef het nie.

Dis soos Jakobus sê, as jou suster in nood by jou kom, en jy stuur haar weg met die woorde: “Gaan in vrede.” Nie dat ’n mens op verdienste in die hemel kan kom nie, maar geloof sonder geloofsdade is nie ’n mooi manier om Jesus deur jou te eien nie.

En oom Herrie se kankers bied die geleentheid om te ervaar hoeveel mense daar is deur wie Jesus gesien kan word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.