Oom Herrie se kerrie: Ongeval met die wynvat

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Oom Herrie lees toe ʼn opskrif van ʼn werker wat in ʼn wynvat verdrink het. Natuurlik roep dit die ou-ou storie op van die man wat so tragies in die wynvat verdrink het. Hy het volgens die tekens eers drie maal moes uitklim toe moeder natuur geroep het, voordat hy verdrink het.

Met ʼn ompad laat dit oom Herrie dink aan die vergadering van die boere-vereniging, wat baie beswaard die konsessies vir skaliegas-boorwerk in hul omgewing bespreek het. Hulle het selfs ʼn kenner en ʼn aktivis gekry om hulle goed teen die spulletjie die hoenders in te kom maak.

Na die vergadering word die veilingskraal se saal, waarin die vergadering goedgunstiglik plaasgevind het, se kroegdeur oopgesluit. Nie lank nie of almal is met ʼn drinkdingetjie gewapen en die gesprekke begin ook lighartig raak.

“Met hierrie droogte sal ek nou noodwendig moet laat boor, dis nou vir water, nie skaliegas nie,” sê Frans Kleynhans in sy geselshoekie.

Werner Barnard kan die grootste klomp bollie ewe droog en sonder om ʼn bek te trek verkwansel. Dikwels lê sy gehoor om hom soos hulle lag en hy het steeds nie ʼn sweempie van ʼn glimlag op sy bakkies nie.

“In die ou dae kon boor vir water en skaliegasboordery dieselle ding wees,” sê Werner. “Natuurlik nie aspris nie, maar as ʼn mens se aandag by die boordery ʼn rukkie dwaal.”

Hy trek eers ʼn teug of twee voor hy hervat. “Kyk, mens het mos daai boormasjiene gekry wat ʼn langwerpige gewig aan die begin van ʼn kabel gehad het en wat in die gat in laat val is om die gat dieper en dieper te maak. Maar ʼn boorman moes sy storie ken, want as die gewig te veel kabel kry, kon daai gewig daar onder begin skeef boor het. En as die gat eers skeef trek, is dit amper onmoontlik om hom weer reguit te kry. Dan is dit gewoonlik maar ʼn geval van kabel optrek en ʼn nuwe boorplek met die mikstok te loop soek.

Maar sien, oom Stefaans Koekemoer het in ʼn area met die vreeslikste dolomiet loop staan en boor. Hy het gehoop hy boor een van daai natuurlike ondergrondse reservoirs raak, al maak die sinkgate hom daarna mal.

“Maar die boorman het met die boordery te lekker by neef Vaaljapie gekuier en toe hy weer sien, loop daai boorpunt al sommer ʼn hele ent so goed soos parallel met die grond. Hy staan nog en wonder, toe begin die boorpunt boontoe boor, reguit na buurman oom Koos se vol plaasdam wat mos sulke lekker fonteinwater kry.

En nog voor die boorman die warm kragparaffienenjin dood kon kry, toe spuit die waters by die boorgat uit. Spoeg sommer die stamper en kabel ook uit, so sterk kom die water. Dis ʼn reuse spuitfontein – seker meer as tien meter hoog. Die water tuimel terug aarde toe en loop ʼn entjie deur die veld voor dit in ʼn donga inloop en wegloop.

Dis toe die boorman sien maar oom Koos se dam langsaan is besig om baie vinnig leeg te loop. Trouens, daar waar die waters ingesluk word, maak die water ʼn tregter soos in ʼn bad en ʼn paar wilde eende wat lui-lui op die water gekuier het, vlieg vervaard op voor hulle saam ingesluk word.”

Werner vat eers weer ʼn teug of twee van sy drankie, duidelik nog nie klaar met sy storie nie.

“Ja, horisontale boordery is hier by ons uitgevind en nou wil ons daar niks van weet nie.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae