Dié jeugkamp gee jong mense weer hoop

Die New Way Christian Church in Thabazimbi wil jong mense weer hoop gee met hul heel eerste jeugnaweek wat in November by die Setaria-sportklub in Setaria, Limpopo, plaasvind.

Volgens Anel Jooste, een van die organiseerders van die Radioactive-jeugnaweek, is die jeugkamp ʼn ideale wegbreeknaweek vir jong mense tussen 13 en 20 jaar oud. “Ons jong mense is die toekoms van Suid-Afrika. Ons leef in ʼn negatiewe tyd en ons tieners weet nie meer waar hulle in die samelewing inpas nie. Hulle sukkel om hul identiteit te vind. Die kamp is daar om hulle weer hoop te laat skep en hul identiteit opnuut in God te vind,” sê Jooste.

Setaria is ʼn klein myndorp tussen Northam en Thabazimbi in Limpopo. Volgens Jooste het hulle spesifiek op dié omgewing besluit omdat dié myngemeenskappe die boodskap van hoop broodnodig het.

“Die Here het ons dit op die hart gedruk om die Setaria-myngemeenskap en omliggende klein gemeenskappies te teiken omdat die jong mense soveel uitdagings die hoof moet bied,” sê Jooste.

Jooste het Dinsdagmiddag aan Maroela Media vertel Anais en haar televisiespan van The Be Your Dream-projek gaan die Vrydagaand die tieners moed inpraat met ʼn spesiale motiveringspraatjie gevolg deur lofprysing en aanbidding. Volgens Jooste is die hoogtepunt van die naweek die toneelstuk wat lede van die New Way Christian Church die Saterdag gaan opvoer.

“Met die toneelstuk wil ons die boodskap van verlossing bring. Ondanks al die swaarkry en moeilike tye moet ons tieners vashou aan die boodskap dat God reeds verlossing gebring het,” vertel Jooste.

Volgens Jooste staar ʼn paar finansiële uitdagings hulle in die gesig soos om die kinders tot by die kampterrein te kry. “Ons hoofdoel is om kinders persoonlik by die kamp te laat baat vind. Daarom wil ons nie toegangsgeld vra nie en kinders betaal slegs vir hulle kos vir die naweek.

“Ons wil hê die jong mense moet hope pret hê. Ons wil ook hê hulle moet ná die naweek kan wegstap met ʼn tweede asem om voluit die lewe weer aan te pak. Hulle moet weer ’n rede hê om hul lewensreis voluit te hardloop met passie, hoop en entoesiasme.”

Die Radioactive-jeugnaweek vind van 1 tot 2 November by Setaria-sportklub in Setaria, Limpopo, plaas. Koop jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.