Help jou gesin om onsekerhede te navigeer

(Foto: Danielle MacInnes/Unsplash.)

Daag jouself en jou gesin uit om die lewe meer soos ʼn rivier te hanteer: ʼn Rivier kronkel deur en om enige hindernisse in sy pad tot by die see. ʼn Rivier vloei soms kragtig en ander kere sagter terwyl sy reis na sy eindbestemming in die groot oseaan belaai is met onsekerhede; tog doen dit die nodige aanpassings om daar uit te kom.

Cindy Glass, eienaar en medestigter van Step Up Education-sentrums, meen ʼn mens se lewe is ook voortdurend met veranderinge besaai.

“Ons weet dikwels nie watter uitdagings en vreugdes vir ons in die volgende uur, dag, week, maand of selfs jaar voorlê nie. Die grootste verskil tussen ons en die rivier is dat ons spanning en angstigheid in die oomblikke van onsekerheid ervaar.”

Glass voeg by dat die Covid-19-pandemie ʼn uitstekende voorbeeld is van ʼn hindernis met onsekerhede en talle uitdagings en dat baie mense dit steeds ongelooflik moeilik vind om die nuwe normaal van ons lewe te navigeer.

“Die goeie nuus is dat daar maniere is waarop jy en jou gesin die onsekerhede van Covid-19 kan trotseer en kan ‘vloei’ in die rigting waarheen julle werklik wil gaan.”

Sy verskaf vyf maniere om onsekerhede aan te pak en die vloei van die lewe in jou en jou gesin se bestaan te herstel:

  1. Wees genadiger met jouself en ander: Dit is belangrik om mekaar gedurende onsekere tye te ondersteun. Goedhartigheid en respek vir jouself en ander kos nie ’n sent nie en dit lewer ongelooflike positiewe resultate. Gebruik woorde soos “asseblief” en “baie dankie” gereeld en vra meer dikwels “hoe kan ek help?” in jou daaglikse interaksie met ander. Dit klink soos ʼn klein verandering, maar dit kan ʼn reuseverskil maak.
  2. Elimineer daardie skuldgevoelens: Moenie op die “moet wees”, “kan wees”, “wat as” fokus nie – dit is onnodige druk wat ons dikwels op onsself en ander plaas. Weet net dat jy die beste doen met die kennis en geleenthede wat jy in hierdie oomblik het.
  3. Jy kan slegs dit beheer waaroor jy wel beheer het: Jy en jou gesin het geen beheer oor die virus of die gedrag van ander mense nie. Leer jou gesin dat hulle wel beheer het oor hoeveel keer hulle hul hande was, of hulle ’n masker in die openbaar dra en of hulle geduldig en respekvol is wanneer hulle rondbeweeg. Fokus op die dinge wat binne jou beheer is.
  4. Dit is ʼn kwessie van uitstel, nie afstel nie: Weet dat onsekerhede nie vir ewig duur nie. Die uitdagings en struikelblokke wat jou tans in die gesig staar, sal verbygaan. Bly gefokus daarop om positiewe keuses vir jou en jou gesin te maak terwyl jy soos ʼn rivier sagter deur en om die onsekerhede “vloei”. Dit is nie die tyd om die druk te verhoog nie. Vat dit eerder ʼn bietjie stadiger, onthou om asem te haal en gee jouself die geleentheid om net te wees.
  5. Ondersteun jou gemeenskap: Vind maniere waarop jy by jou gemeenskap betrokke kan wees. As jy jou tyd, vaardighede en liefde aan ander in nood gee, sal dit jou gemoed lig en ʼn wonderlike gevoel van vervulling gee.

“Geluk is ’n keuse. Moenie toelaat dat onsekerhede en uitdagings jou vlak van vreugde bepaal nie. Konsentreer daarop om elke dag ’n houding van dankbaarheid te kweek. As jy die goeie dinge in jou lewe herken en erken, is uitdagings altyd meer hanteerbaar,” sluit Cindy af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.