Hoe help ek my kind met isolasie?

Hoe help ek my kinders om die tydperk van algehele afsondering te hanteer. Kenners het ‘n paar wenke vir Maroela Media gegee. (Foto: Joshua Rawson-Harris/Unsplash.)

Deur Yolanda Taylor

Vandat pres. Cyril Ramaphosa ’n algehele landwye afsondering aangekondig het, heers daar groot onsekerheid oor hoe Suid-Afrikaners dit gaan hanteer en wat die toekoms inhou.

Skielik werk die meeste ouers vir die volgende 21 dae van die huis af en kinders word tuis onderrig. Talle huishoudings verkeer ook nou onder geweldige finansiële druk. Spanning is toksies vir jou fisieke en geestelike welstand. Ons as volwassenes kan nog sê as iets ons pla en met mekaar kommunikeer daaroor. Kinders weet dikwels nie hoe om hul emosies te verwoord óf te hanteer nie, daarom die belangrikheid van jou as hulp as ouer.

Maroela Media het by ‘n paar kenners gaan uitvind hoe jy as ouer jou kinders kan help om die tydperk van algehele afsondering beter te hanteer:

Hierdie algehele afsondering is ’n uitdaging vir elkeen en jou belangrikste taak in hierdie stadium is om jou kind gesond en veilig te hou.

Prof. Kobus Maree, ’n opvoedkundige sielkundige, se advies is om kalm en in beheer van die situasie te bly.

“Jou gedrag, liggaamshouding en sienings sal jou kinders se reaksies bepaal, veral as hulle nog klein is. Voorsien jou kinders van ’n veilige spasie en struktureer dae tuis deur ’n roetine te vestig en te handhaaf.  Bespreek die huidige situasie aan jou kinders deur basiese, feitelike inligting te verskaf. Verseker hulle dat die situasie onder beheer is, sodat die gesin kalm kan bly. Verduidelik dat almal opofferings maak, sodat almal gesond kan bly. Elke persoon moet net doen wat hy kan en die basiese dinge reg doen. Verduidelik die reëls van handewas, nie aan die gesig vat nie, behou sosiale afstand, hoes/nies korrek en hoe en hoekom hulle reg moet ontsmet.”

Wat staan ons as ouers dan te doen om ons kind(ers) te help om hierdie afsonderingstydperk te hanteer?

’n Baie belangrike aspek is om roetine te skep en te hou. Al is dit ’n stresvolle tydperk vir die gesin, bied roetine stabiliteit en sekuriteit. Neem kinders se verskillende temperamente en almal se emosies in ag om van meet af alles reg te hanteer. Dit is uiters belangrik om besig te bly, sodat negatiewe gedagtes nie vatplek kry nie. Naudine Adaimi, uitvoerende hoof van Evergreen Parenting beveel die volgende ten opsigte van emosies aan:

  • Erken jou eie gevoelens: Wees eerlik oor jou gevoelens en gee jou kinders die geleentheid om uiting daaraan te gee. Verwag ook bietjie ongewenste gedrag as gevolg van hierdie emosies. Hanteer dit met deernis sodat dit nie vererger en te lank voortduur nie. Dit is aanvaarbaar om so te voel, maar nie raadsaam om daarin vasgevang te bly nie.
  • Emosionele regulering: Fokus op jou eie emosies en daarna op jou kind s’n. Klein ogies observeer; klein oortjies hoor; hul harte voel dit aan en hul breine volg ons patroon. Die eerste ‘O’ van dissipelskap in die Immergroen Ouerskap-kursus herinner ons om ’n positiewe voorbeeld vir ons kinders te wees. Bou ’n verhouding met jou kinders, wees sensitief vir hul behoeftes en gevoelens en wees altyd emosioneel beskikbaar. Wanneer ons kinders deel voel, kan ons hulle help om hul emosies te reguleer.
  • Kies jou fokus: Lees die Woord, kyk goeie stories, versamel opbouende versies en aanhalings, luister na aanlynpreke en luister na musiek wat jou siel voed. Fokus ook op dit wat in jou beheer is, soos ons daaglikse beplanning, voorsorgmaatreëls wat ons kan tref, gesonde eetgewoontes en leefstyl.

Elzaan Brand, berader en verhoudingsterapeut glo ons kan baie leer by mense wat gereeld in afsondering moet leef vir lang periodes.

“Ruimtevaarders leef in afsondering vir maande. Hulle gee die volgende wenke om jou oog op die “groter prentjie” te help hou:

Die eerste en belangrikste wenk is kommunikasie. Luister aktief en gee aandag aan mekaar se lyftaal. Identifiseer konflik en gesels daaroor om sodoende ’n oplossing te vind waarby almal kan baat. Kinders wil weet wat aangaan. Moenie inligting rakende die Covid-19-situasie van jul kinders weerhou nie. Ouers dink hulle beskerm hul kinders deur nie die nodige inligting met hul kinders te deel nie, maar die onbekende kan juis onnodige spanning veroorsaak. Kinders hoor en sien hoe hul ouers met mekaar en met ander praat oor die epidemie. Wanneer ouers bekommerd klink en lyk, kan dit die kinders affekteer en angstig maak. Wees eerlik, sit by jou kinders en vra hulle of hulle weet hoekom julle in isolasie moet leef. Laat hulle ook toe om vrae te vra, sodat jy kan hoor waaroor hulle wonder of onseker is.

Stel ’n gebalanseerde beplanning op vir elke dag. ’n Rooster help jou en jou gesin om aan te pas by ’n nuwe werk-, skool- en huisomgewing. Kinders floreer op roetine en dit help ook om die onsekerheid meer hanteerbaar te maak as die kind weet wat van hom/haar verwag word. Moenie te rigied wees met jou rooster nie, laat die kinders toe dat hulle soms kan doen wat hulle wil sonder ’n formele rooster. Gee die kinders ’n mate van beheer. Kinders is meer geneig om in te spring en ’n aktiwiteit aan te pak as hulle voel dat die aktiwiteit grotendeels hul idee was.

Leslie van Zyl, geakkrediteerde Immergroen Ouerskap-fasiliteerder, sê dis belangrik om jou kind se temperament in gedagte te hou.

“Ekstroverte is avontuurlustig en geniet buiteaktiwiteite. Hou hulle besig deur familiekonserte te hou, toertjies op hul skaatsplank te doen en te help kos maak. Ekstroverte hou weer daarvan om besig te bly, waak dus teen verveling. Introverte is gewoonlik meer sensitief en verkies rustigheid. Hulle hou van lees en storietyd is beslis ’n wonderlike tydverdryf. Bou Lego’s en legkaarte en hou hulle besig met kreatiwiteit en probleemoplossing.”

Prof. Herman Bodenstein, geregistreerde opvoedkundige sielkundige verduidelik die belangrikheid van simpatieke gesag, die daar wees vir mekaar, huisvergaderings met almal se onderskeie pligte en balans.

“Roetine en gesins-/selfmotivering is belangrik, maar so ook die wegbreek van die alledaagse. Daar is soveel aktiwiteite, soos sterrekyk (App op selfoon), voëlkyk, skilder, blokkiesraaisels, woordspeletjies, legkaarte, tuinmaak (komposhoop), koekies bak, draadkarre of poppe maak, hekel, ’n fotoplakboek (scrapbook) maak, ’n kunswedstryd of Bybel-vasvra, musiekaand, bespreking van die familiestamboom, wegkruipertjie speel, eiergooi of aspatat.”

Laat kleuters modderkoekies bak; gooi voedselkleursel in water en laat hulle borrels blaas met ’n strooitjie op die papier en mooi patrone maak. Vul ’n groot houer met klein stukkies papier waarop jy aktiwiteite neerskryf wat die hele gesin kan doen. Kom aan die beweeg met touspring, trampolienspring, balspeletjies, ster- en paddaspronge.

Maak vrede daarmee dat jou kinders die huis gaan omkrap! Reserveer ’n tyd in die namiddag of net voor slaaptyd vir opruim. Gebruik dié tyd om familiebande te bou en speel en lag soveel as moontlik. Met spanwerk en empatie kan dit ’n kosbare tyd wees waar baie herinneringe versamel kan word.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.