Jy kan jou kind met disleksie help

Dogter-slaap-op-boek

Foto: Dreamstime.com

Goeie dag Susan

My dogtertjie in Graad 2 ruil b, d en p om wanneer sy lees en skryf. Sy skryf ook soms letters soos j en t sodat hulle na die verkeerde kant toe wys en ruil ook syfers soos 2 en 7 om. Dit gebeur sommige dae meer as op ander dae. Ek het dit nog nie self opgetel nie, maar haar juffrou sê sy skryf party woorde agterstevoor. Omdat my broer disleksie het en ek weet waardeur hy is, is ek baie bekommerd. My ma het altyd gesê dat sy brein verkeerd bedraad is. Ons het dus in die middel van die jaar ons dogtertjie laat toets, maar volgens die sielkundige kon disleksie nie vasgestel word nie want sy is nog te jonk.

Madelein

Dagsê Madelein

Ek kan verstaan dat jy baie bekommerd is oor jou dogtertjie, veral omdat jy jou broer se swaarkry moes aanskou. Tussen toe en nou is daar egter baie navorsing oor disleksie gedoen, veral oor wat disleksie is, wat dit veroorsaak en wat daaraan gedoen kan word.

Die historiese siening dat disleksie ongeneeslik is, bestaan byvoorbeeld bloot omdat verkeerdelik geglo is dat die brein onveranderlik is. Destyds is geglo as iets verkeerd is met iemand se brein, niks gedoen kan word om dit reg te maak nie. Die brein is verkeerd bedraad en dis die einde van die saak. Wetenskaplikes het ook geglo elkeen van ons word gebore met ʼn vasgestelde aantal breinselle en as enige van daardie selle seerkry, kan die skade nie herstel word nie.

Gelukkig weet ons vandag van beter.

Teen die draai van hierdie eeu het nuwe metodes dit vir wetenskaplikes moontlik gemaak om die brein van binne te sien en dit het gelyk dat die brein plasties is. Nuwe verbindings of herbedrading tussen neurone kan vorm en die interne struktuur van die bestaande sinapse kan verander. Nuwe neurone word ook voortdurend gebore, veral in die leer- en geheue-sentrums. As jy ʼn kundige op ʼn sekere gebied raak, groei daardie deel in jou brein wat daarmee te doen het. Of, as iemand breinskade aan die linkerkant van die brein opdoen, wat gewoonlik die taalsentrum van die brein is, kan die regterkant van die brein met oefening daardie funksies oorneem.

Met fMRI-skanderings is verskille tussen die breine van dislektiese mense en mense wat goed kan lees, nou bevestig (soos altyd geglo is). Maar navorsing, deur byvoorbeeld Krafnick en span, het bevind die anatomiese verskille in die brein is ʼn gevolg van die leeservaring, eerder as ʼn oorsaak van disleksie.

Mens moet ook in gedagte hou dat ʼn neurologiese verskil nie ʼn neurologiese gestremdheid impliseer nie. Ons weet nou ook daar is verskille tussen die breine van mense wat wiggel (juggle) en mense wat nie wiggel nie en tussen die breine van mense wat ʼn musiekinstument bespeel en mense wat dit nie doen nie. Dan is dit mos logies daar sal ook verskille tussen die breine van mense wees wat goed kan lees en mense wat sukkel met lees.

My oortuiging, gebaseer op die die nuutste navorsing, is dat disleksie nie ʼn gestremdheid is nie, maar bloot ʼn onvermoë (dis nie ʼn disability nie, maar ʼn inability) en dat dit oorkom kan word as mens die oorsaak daarvan behandel. Terwyl daar ander oorsake is, is die algemeenste oorsaak van disleksie die onvolledige ontwikkeling van die vaardighede wat lees en spel onderlê.

Leer vind trappie vir trappie plaas. Jy moet eers een ding kan doen voordat jy ʼn volgende kan bemeester.

Hierdie beginsel, dat leer laagsgewys gebeur, kan aan die hand van enige sportsoort, soos byvoorbeeld yshokkie, verduidelik word. Voordat iemand yshokkie kan speel, moet hy eers leer om baie goed te skaats. Nadat hy geleer het om vorentoe te skaats, moet hy ook leer om agteruit te skaats en om binne ʼn oogwink te stop of van rigting te verander. Wanneer hy hierdie vaardighede so goed bemeester het dat hulle as’t ware geoutomatiseerd geraak het, is hy gereed vir die volgende vlak, naamlik om al die elemente, waaruit yshokkie bestaan, te bemeester. Dan kan hy begin leer om die rubberskyf met sy yshokkiestok te beheer, dit uit te gee en te skiet en sy opponent te skouer. Nadat hy al hierdie vaardighede bemeester het en intussen ook die reëls van die spel geleer het, kan hy begin om hierdie vaardighede in die spelsituasie toe te pas.

Net soos wat daar ʼn verskeidenheid vaardighede is wat ʼn voorvereiste vir yshokkie is, is daar ʼn verskeidenheid vaardighede waarop lees en spel berus en wat ʼn kind moet baasraak voordat hy behoorlik kan leer lees en spel.

Naas taal, wat die heel eerste bousteen van lees is (mens kan tog net ʼn taal lees wat jy ken), is daar vier boustene of pilare: konsentrasie, persepsie, geheue en logiese denke. Al hierdie vaardighede kan deur oefening ontwikkel en verbeter word.

Terwyl daar waarskynlik ook ander tekortkominge is, is die vermoë om rigtings te interpreteer, beslis een van die probleme wat jou dogtertjie ervaar. Rigtingsin is ʼn perseptuele vaardigheid en behels die vermoë om te onderskei tussen links en regs, voor en agter en bo en onder.

Vir kinders wat probleme ondervind met rigtingsin, sal dit moeilik wees om die posisie van objekte ten opsigte van hulself te bepaal, byvoorbeeld “regs van my”, “links van my”, “agter my” en “voor my”. Sulke kinders sal dit moeilik vind om sekere pen-en-papier take, waarby die bepaling van rigting en posisie nodig is, korrek uit te voer, soos byvoorbeeld “skryf jou naam regs bo in die hoek”. Hulle mag ook letters soos b en d met mekaar verwar, asook getalle soos 17 and 71, of hulle sal dalk van regs na links in spieëlskrif skryf.

Madelein, om jou dogtertjie te help, moet jy dus seker maak dat die vaardighede wat lees en spel onderlê, behoorlik ontwikkel en geoutomatiseer is, wat dit dan baie makliker sal maak om haar suksesvol te leer lees en spel.

Alles van die beste

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]

Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneurs in sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 22 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 450 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

sunette ·

Baie dankie vir die stuk. My dogtertjie is ook in graad 2 en ons moet haar volgende jaar laat toets vir disleksie. Ek was nog die heeltyd baie angstig daaroor omdat ek ook self nie veel daarvan weet nie. Die stuk het my weer moed gegee.

Dink so bietjie ·

Baie dankie dit was nou goeie nuus Mag ons wat partykeer op Maroela verkeerd spel nou met rus gelaat word Jy word gekrysig op Maroela as jy verkeerd spel

Louis C. Prinsloo ·

Goeie dag Susan
Na my moterongeluk in 2003, waar ek apmer ‘n volle jaar in koma was en alles van vooraf moes leer, soos loop,praat en skryf; het ek binne 1 jaar tot die sielkundiges en hoë geplaasde doktors wat ook min moed vir my herstel gehad het, geheel herstel.
Soos my herstel verbeter het, het ek ook soms die p b d om geruil; wat met genoegsame aandag en liefde herstel het

Bobby ·

Die Staat skole in ons land is nie kinders met disleksie goedgesind nie! Jou kind SAL agterbly as jy volhard om haar in die hoof-stroom skole te hou. My dogter het ‘n leesdisleksie. Sy was in van die beste en duurste “sogenaamde”skole in Pretoria. Na ‘n jaar en half se stryd met die skole het ek as Pa besef dat dit tyd is om in te gryp. Ek het besef dat die privaat skole vir kinders met effense disleksie is besighede wat teer op ouers wat bereid is om enigiets vir hul kinders te doen. Meer as R5000.00 per maand as iemand ons net kon help. My kind doen nou “home schooling” al vir 3jaar en ons vorder fantasties.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.