ʼn Ma se Facebook-lewe vs. realiteit

Argieffoto (Foto: Anke Sundermeier/Pixabay)

Moenie alles glo wat jy op Facebook sien nie.

Ek dink partykeer ons probeer onsself, meer as enige iemand anders, oortuig ons lewens is wonderlik deur ons plasings op Facebook. Ek dink veral ouers dink partykeer hulle loop iets mis as hulle na ander ouers se Facebook-plasings kyk. Kom ons wees egter eerlik: Min dinge, indien enigiets, is rêrig soos wat dit op Facebook lyk.

Werklike voorbeeld:

Facebook plasing: (Foto van ons as gesin glimlaggend op die vliegtuig.)
Hier gaan ons weer! Lekker vakansie, hierdie keer saam met die kinders. Regte “jetsetters”. Hoekom doen ons dit nie meer nie? #vakansiehierkomons #familietyd #blessed

Realiteit:

Ek het gisteraand al begin pak. As ek dit nie doen nie gaan helfte van dit wat ons nodig het agterbly. Basies die helfte van die tas kan in elk geval eers in die oggend ingepak word. Vandag werk die kinders nie saam nie. Die klere sit nie reg nie, hulle wil nie tande borsel nie en hulle probeer drie verskillende tipes ontbytpap (soos Gouelokkies) voordat hulle uiteindelik iets eet. Al 50 karretjies is nou hulle gunstelinge en dit moet alles ook saam. Ná baie trane het ons dit geëlimineer tot net twee elk. Die elimineringsproses alleen het ʼn halfuur geneem.

Dit neem ons ʼn uur ekstra om reg te maak voor ons uiteindelik in die Uber klim. Dankie tog ons het ekstra tyd toegelaat voor ons op die lughawe moes wees. In die Uber moes ons die bestuurder vra om terug te draai, ʼn blok weg van die huis af, omdat ons die jongste sy fopspeen en skapie vergeet het. (Die vakansie sou iets uit Independence Day gewees het indien ons dit nie gedoen het nie…) Gelukkig was die Uber-rit vir hulle heel opwindend.

By die lughawe is dit asof die ark se deure oopgaan. Ons twee seuns hardloop die ooptes van die lughawegebou in. Daar is gelukkig iets aan reis wat hulle wel opgewonde maak. Maar dis soos om katte bymekaar te hou. Later plak ons elke kind op ʼn tas sodat ons net kan aanmeld en van die bagasie ontslae raak. Hier probeer hulle uitwerk hoe die rondomtaliebelt vir die tasse werk, deur dit van naderby te verken. Ons het byna oorweeg om hulle saam met die bagasie in te boek, maar die grondwaardin het geweier. (Duidelik het sy nie kinders nie.)

Die kinders het daarop aangedring om elkeen hulle eie sakkie te bring. Hand en mond is daar belowe hulle gaan dit self sleep, maar nou het ek en my man elkeen nóg ʼn tas om deur sekuriteit te dra. Gelukkig onthou die seuns hulle maniere en groet elke liewe mens by wie ons verby loop. Hulle vertel ook vir hulle hoe oud hulle is, na watter skool toe hulle gaan of wil gaan en wie hulle gunstelingsuperheld is.

Ons bederf onsself met ʼn vinnige koffie en ʼn muffin sodat ons darem net iets in ons mae kry. Tussen al die pap-proe deur vanoggend het ons vergeet om self te eet. Die baby-chinos hou gelukkig die seuns onder beheer en in ʼn radius van 3 meter om ons.

Toe dit tyd raak om hek toe te gaan, hardloop ons ʼn paar keer verby om van enige opgehoopte energie ontslae te raak wat dalk in beknopte areas, soos die binnekant van ʼn vliegtuig, kan kop uitsteek.

Ons stap heel laaste in, om almal wat rondom ons gaan sit nog ʼn paar oomblikke van stilte en vrede te gun. Daar is egter gelukkig regtig iets aan vliegtuie wat kinders net meevoer en ons staan en bekyk eers die vliegtuig vir ʼn rukkie by die groot vensters.

Op die vliegtuig vra ek solank by voorbaat om verskoning vir almal wat ek sien soos ons in die gangetjie afstap. Ek voel altyd dat my kinders hulle gewoonlik baie beter gedra as wat die medepassasiers dan verwag. Selfs ek. Ek vra ekstra om verskoning vir almal wat direk voor en agter ons sit, vir enige speletjies wat dalk nie ʼn einde gaan hê nie…

Uiteindelik is ons almal in ons sitplekke en neem ons die Facebook-selfie.

Buiten vir ʼn koeldrank wat op mamma se skoot omgegooi word en die persoon wat agter ons sit wat seker vir ʼn halfuur van die twee uur lang vlug Pick-a-boo moes speel, was ons realiteit darem nie so ver van ons Facebook-plasing verwyder nie. Die kinders hou eintlik regtig van vlieg en kan dalk tog eendag jetsetters word. Die res van die vlug verloop sonder enige ernstige voorvalle. Dalk is dit omdat ek ʼn snoepie en speelgoedwinkel kan oopmaak met al die aankope van die China Mall, om seker te maak hulle raak nie honger of verveeld nie.

Vakansie hier kom ons … uiteindelik!

Partykeer help dit ʼn ma oorleef om die mal dele te vergeet en net die goeie herinneringe te sien. (ʼn paar jaar later op Facebook-memories.)

Onthou, niemand se lewe is so perfek soos dit op Facebook lyk nie en jy weet nie wat voor en ná die foto-oomblik gebeur het nie. Vier eerder saam met ouers hierdie spesiale oomblikke, want net om ʼn foto te kon neem was dalk al ʼn oorwinning vir hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet

Die wêreld sal in ‘n oogwink beter wees as Facebook verdwyn

melaney

En hier sit ons. My kinders oorsee wil so graag hê dat ons moet kom kuier en vir ‘n paar weke daar moet bly. Hulle het al soveel keer die ‘wortel voor ons oë’ gehang en allerande goed belowe wanneer ons daar land. Maar ek bly tog so bang om te vlieg. Jy sien, ek is maar ‘n wit agtergeblewende. Was nog nooit in my lewe op ‘n vliegtuig gewees nie.