Om in die oomblik ma te wees

Argieffoto (Foto: Mabel Amber/Pixabay)

Ek dink die moeilikste ding wat mens kan doen is om in die oomblik te lewe. Deesdae lees mens gereeld van ʼn nuwe manier van lewe: om bewustelik te lewe; in die oomblik te lewe.

Dis egter glad nie so maklik nie. Met die spoed waarteen ons vandag leef is dit ʼn fisiese besluit om dit te doen, en jy moet jouself byna elke twee sekondes daaraan herinner, omdat die lewe net so vinnig weer op dreef kom en ons moet probeer byhou.

Dis egter volgens my ʼn sonde om dit nié te probeer doen nie. Want dis in daardie oomblik van net dáár wees, wat jy nie net meer van jouself ontdek nie, maar ook meer van jou kinders. Ewe skielik sien jy alles raak wat jy gewoonlik misloop omdat jou selfoon die hele tyd in jou hand was, of jy só besig was om jou te bekommer oor wat môre gaan bring.

Dis ook wanneer jy sien hoe jou kleinding ʼn boek in ʼn winkel vra en op die grond, in die middel van die gang van ʼn Clicks daarmee gaan sit, en dit rustig deurblaai terwyl almal verby hom snel. Ongestoord; opgevang in ʼn fantasiewêreld. Hoe hulle honderd keer ʼn klippie in en uit ʼn karretjie se bak haal om hulle klein motoriese bewegings te oefen. Hoe hy kinderlik giggel as jy doodeenvoudig vir hom gesigte trek. Hoe hulle intens ervaar hoe die growwe sand deur hulle vingers gly op die strand.

Klein alledaagse dinge, waaraan ons nou al so gewoond is, word weer ʼn wonderwerk. Vliegtuie wat opstyg en land, en natuurlik in die lug bly. Karre wat ry. Die wolke wat verkleur in die vroegoggend of laatmiddag. Diere wat kom liefde soek.

Dis alles klein dingetjies, maar die oomblik as ons dit in ʼn bewustelikheid beleef, word ons weer ʼn kind.

En ek kan nie help om dan te dink of dit is wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het ons moet glo soos ʼn kind nie… Ek wil my verstout om te glo Hy het dit nie net bedoel vir ons geloof nie, want dis wanneer ek bewustelik begin lewe, elke oomblik van die dag, dat ek Hom ook in alles begin sien en beleef, want Hy is ook dáár. Soos Hy wil hê ons moet wees. Hy vra dan ook juis dat ons moet begin bewustelik lewe deur nie te bekommer oor môre nie. Leef net vir vandag, sê Hy duidelik.

Maar hoekom is dit dan vir my so moeilik om dit reg te kry? Is dit omdat ek te veel weet van die lewe? Het dit my weggeruk van my “kindwees-in-die-oomblik-lewe”-oomblikke? Het die internet, sosiale media, kennis en sinisme my bewustelikheid kom steel?

Dis wanneer ek by my kinders is, dat ek opnuut weet dat ek weer soos hulle wil wees. Ek wil geen vooropgestelde idees hê van enige iemand om my nie. Ek wil net elke oomblik geniet vir wat dit is. Ek wil elke ding weer beleef asof dit die eerste keer is wat ek dit sien en ervaar.

Want om nie in die oomblik te wees nie, beroof my van my geluk.

Kommer, oordeel en hoogmoed beroof my daarvan omdat ek te veel oor dinge begin dink.

Al is my dag vol en hardloop ek meestal rond om by alles uit te kom, maak in-die-oomblik-leef dit baie makliker, want ek hoef nie te dink oor dit wat kom nie. Ek weet dit sal alles uitwerk. Ek het mos ʼn belofte van Bo daarvoor.

Ek wil weer lig lewe soos ʼn kind. Dis tyd dat ek my oomblikke vir myself terugvat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Patch

Marianne, pragtige artikel. Ons mis so maklik die in-die-oomblik oomblikke oor die gejaag. Soms sit ek in die verkeer en kyk na ‘n veldblommetjie wat op ‘n sypaadjie groei of ‘n voëltjie wat gras sade op ‘n middelman langs ‘n besige pad afbyt of die verandering van die lig en lug wanneer ons van seisoen na seisoen oorgaan, dan wonder ek hoeveel ander mense sien dit raak. Ek probeer daagliks ‘n punt daarvan maak om ten minste een klein besonderse iets raak te sien.