Wat ouers moet weet oor hul kind se vermoë om vas te byt

Argieffoto (Foto: FeeLoona, Pixabay)

Hierdie rubriek is deel van ‘n reeks rubrieke wat Gielie Hoffmann publiseer oor “Wat ouers moet weet…” Lees gerus alle rubrieke deur Gielie Hoffmann op Maroela Media. – Red

Vir meeste Suid-Afrikaanse leerders was die afgelope kwartaal een vol van Wintersportwedstryde, hetsy hokkie, rugby of netbal. In my werk as geestesbreier word ek gereeld betrek by spanne (of individue) se voorbereiding op en van die sportveld af. Meeste kere sal afrigters of ouers my nader omdat hulle voel ʼn span het al die vermoë in die wêreld maar kan nie presteer wanneer dit saak maak nie.

Hierdie vermoë, om druk te hanteer, kan natuurlik uitgebrei word na spelers se vermoë om terug te veg, ongemak te hanteer, uitdagings te aanvaar en gemaklik te wees met verandering. Dit als val onder die sambreel van geestelike veerkragtigheid, ʼn eienskap wat natuurlik van waarde is op die sportveld maar ook in die daaglikse lewens van kinders (en volwassenes ook).

Baie keer kan ek ʼn span help. Hoe meer tyd ek met hulle kan spandeer en hoe meer tyd hulle het om die lesse te inkorporeer, maak natuurlik ʼn verskil. Maar baie keer kom dit terug na ʼn eenvoudige beginsel: in hul daaglikse lewens en dan veral oefeninge word daar nie geestelike veerkragtigheid gekweek nie. Meeste van ons kinders word oorbeskerm, oorafgerig en oorgeakkommodeer.

Dit terwyl die harde realiteite van sport en die lewe natuurlik juis die teenoorgestelde toets en vereis: kinders wat self verantwoordelikheid kan vat, vir hulle self kan dink, en dan ʼn bietjie kan vasbyt wanneer dinge nie verloop soos waaraan hulle gewoond is nie.

Argieffoto (Foto; sasint, Pixabay)

Een van die eerste goed waarna ons dan kyk is hoe om oefeninge meer uitdagend te maak sodat hulle daar voortdurend moet leer om druk en ongemak en verandering te hanteer. Hoe meer hulle gewoond raak daaraan, hoe makliker is dit vir hulle om daardie vaardighede toe te pas in kompetisie.

Op ʼn meer praktiese vlak kyk ons dan hoe kinders tuis self meer verantwoordelikheid kan aanvaar. Dit begin by eenvoudige goed soos om hul eie sportsakke te pak, insluitend wat hulle gaan eet en drink by die oefening, asook daaglikse pligte soos bed-opmaak of skottelgoed was of tuin-natmaak. Die blote herhaling van hierdie pligte kweek ʼn dissipline en ʼn trots by die kinders wat hul natuurlik help in hul daaglikse lewe.

En dan begin ons geleidelik maniere vind vir hulle om opofferings te maak of die ekstra myl te loop, soos om byvoorbeeld na oefening nog vir 15 minute op hul eie iets by die huis te gaan doen, of om tydens vakansies ʼn oefenprogram te volg sonder toesig. Die wete dat hulle meer gedoen het as hul teenstanders gee hulle iets om voor te veg wanneer hulle dalk agter is.

Die bogenoemde klink dalk baie gewoon; vir meeste van julle is dit dalk goed wat julle moes doen as kinders. Maar daar het met die tyd ʼn kultuur ontstaan waar kinders vertroetel word, bloot omdat ouers in die posisie is om dit te doen of omdat hulle sien dis hoe ander ouers hulle kinders grootmaak. Die einste ‘sterkword-geleenthede’ wat bygedra het tot jou sukses, word nou van jou kinders ontneem.

In ʼn ekonomie wat al hoe meer kompeterend word en ʼn sportwêreld waar ons moet kompeteer met spelers van reg oor die wêreld, kan ons nie bekostig om ons kinders “geestelik swak” in te stuur nie.

Hiermee saam kyk kinders natuurlik ook op na jou en die wyse hoe jy druk, ongemak, verandering en mislukking hanteer. Dit word vir hulle die primêre voorbeeld wat hulle sal nastreef in soortgelyke situasies. Dis belangrik dat jy hulle deelmaak van gesprekke waar hulle kan leer van die opofferings wat jy maak, of ekstra werk wat jy insit, of uitdagings wat jy moes oorkom of dan selfs teleurstellings wat jy moet hanteer. As ons hulle dit weerhou kan hulle baie maklik dink sukses en voorspoed is ʼn gegewe wat geen buitengewone moeite verg nie.

Hoe ons hieroor praat en verwagtinge wat ons verwoord is natuurlik belangrik: gee erkenning aan goeie pogings wat nie noodwendig vergoed is met ʼn oorwinning nie; moedig hulle aan om aan te hou probeer in plaas daarvan om net klem te lê op wen; gee hulle die vrymoedigheid om soms kanse te vat en te misluk in plaas daarvan om als perfek te moet doen; en ondersteun hulle dan in die moeilike tye deur hulle toe te laat om self ʼn oplossing te vind in plaas daarvan om in te tree voor hulle nog self verantwoordelikheid kon neem.

Geestelike veerkragtigheid gaan hulle help in die klaskamer, op die sportveld, in vriendskappe en verhoudings, nou maar veral ook later in hulle lewe waar deel van die toets hul vermoë is om aan te pas en vas te byt.

*Gielie Hoffmann praat oor hierdie onderwerp op Donderdag 27 Julie 2017 om 09:00 by die Cool Beans Café in Raslouw, Centurion se CoolChats-gesprekreeks vir ouers. Vind meer inligting op hul Facebook-bladsy.

Gielie Hoffmann

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.