Hierdie pittige matrikulant van Hoërskool Waterkloof het presteer met agt onderskeidings: Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, dramatiese kunste en rekenaartoepasingstegnologie.
Sy is die enigste dogter van André en Yolande van Tonder van Erasmusrand in Pretoria. Haar pa is ʼn sakeman en haar ma ʼn huisvrou.
Alana beplan om die hele vakansie “op die rusbank, met my voete in die lug en my kop agteroor” deur te bring. Sy wil graag wiskundige statistiek gaan studeer aan Tuks. Dis ook haar droom om te gaan toer tot al haar geld op is – “enige donasies is welkom”, skerts sy.
Met ʼn lengte van 1,83 m het sy nie net akademies uitgetroon nie, maar ook op die sportveld. Sy het deelgeneem aan netbal, hokkie en dans. Sy is veral lief vir dans – en glo “as die lewe druk moet ʼn mens ʼn draai maak by die barre” (dis nou die ballet-reёling!). Sy is gek oor kunstefeeste en geniet veral musiek, drama en dansproduksies.
Verder stel sy ook belang in fotografie “want daar kan jy iemand skiet en hul koppe afsny sonder om tronk toe te gaan”, en in drama “want daar word mense geforseer om na jou opinie te luister”. So borduur die lawwe uitblinker ewe droog voort: “Ek sou graag soos alle ander mense wou wees, maar dan was ek net nóg ʼn suurstofdief.” Haar gunsteling-aanhaling is: “I just figured, if I’m going to be a mess, I might as well be a hot mess, right?” – Mindy Kaling, The Mindy Project.
Alana is nie ʼn oggendmens of ʼn naguil nie, maar beskryf haarself as ʼn uitgeputte teeliefhebber wat maak asof sy weet wat sy doen.
Haar rolmodel is Tom in Tom and Jerry. Hy gee nuwe betekenis aan die uitdrukking:
If at first you don’t succeed, try again.
Sy erken dat sy goed is daarmee om dinge uit te stel en sy sê sy het ʼn goeie korttermyn geheue.