‘Die ster het met hom gepraat’

china-en-italie-francesco

Francesco, die Italiaanse Chinees. Foto: Verskaf.

Francesco praat Chinees en Italiaans.

Maar Francesco wil nie ʼn Chinees wees nie. Hy is ʼn Italianer, sệ hy.

So Italiaans soos pizza en pasta. Soos die Vatikaan en Leonardo da Vinci.

Hy was maar ʼn baba toe sy pa – wat ook ʼn pastamaker was – na Italië geëmigreer het.

Hy was nooit ʼn noedelman nie. Sy pa – hy was ʼn pastaman en in China het pasta en spaghetti dieselfde status as ʼn wurm.

Sy ma is dood met sy geboorte. Sy pa het oud geword. Te oud. Sy ouers was al lank reeds in hulle grafte (China het baie lank die beleid van net-een-kind-per-gesin toegepas) en hy het nie sibbe gehad nie. Net ʼn pap baba. Sy vriende het nie sy liefde vir pasta gedeel nie. Hy was alleen in ʼn wêreld waar noedels die koningin is en rys die koning.

In Italië het hy vir Lauretta ontmoet. Ook ʼn pastamaker. Hulle trou en Francesco het ʼn ma gekry. ʼn Italiaanse ma met lang swart hare en glinsterswart oë. ʼn Ma wat vir hom Italiaanse wiegeliedjies gesing het.

Sy pa en ma het ʼn restaurant in Florence gehad. Hulle het hulle eie pasta gemaak. So het Francesco grootgeword – tussen rooiwyn en pasta – tussen die Italianers en die klankryke taal.

Hy het ook die Rooms-Katolieke geloof aangehang – by sy ma geleer – want sy pa glo hy is sy eie god. Net hy kan vir sy gesin sorg, geen God of Moeder Maria nie.

Maar Francesco het geglo. Elke Sondag het hulle ʼn mis bygewoon, sê hy. Hy het ʼn stringetjie rooi gebedekrale by sy ma gekry en hy het dit steeds.

Nadat hy sy matriek voltooi het, wou hy nie ʼn pastamaker word nie. Hy wou ʼn monnik word. Sy lewe aan God toewy, maar sy pa het ʼn stokkie daarvoor gesteek.

china-en-italie-02

Foto: Verskaf.

Hy het tóg talent vir die pastamakery gehad. Toe tree die noodlot in. Sy ma kry kanker en ná ʼn vinnige stryd is sy oorlede. Sy pa is aan ʼn gebroke hart dood. Op sy sterfbed het hy gesmeek: “Gaan terug China toe. Gaan leer ons mense van pasta.”

Francesco was 33. Sy Italiaanse vrou wou nie China toe gaan nie. Hulle was kinderloos. Toe skei hulle en Francesco maak ʼn  Italiaanse restaurant, Café Bistro, in die hartjie van Tsjengdoe oop.

Hy speel Italiaanse musiek en verkoop bottels Italiaanse rooiwyn. Daar is biefstuk, pasta en pizza op sy spyskaart. Daar is eetgerei – nie eetstokkies nie. Sy kelners moet Italiaans leer praat – al kommunikeer die meeste van sy klante net in Chinees. Daar is Italiaanse boeke op die rakke teen die muur, maar die boeke bly ongelees. Francesco stof dit elke oggend af – amper ʼn heilige ritueel.

Maar die Chinese wou niks weet van pasta, pizza en spaghetti nie. Francesco het een aand huilend voor sy restaurant gesit. “Vader, die Chinese wil nie pasta eet nie. Wat moet ek doen?”

Tsjengdoe se lug is so besoedel dat die sterre sukkel om bo die luggemors te blink, maar dáárdie aand – voor sy restaurant – het hy ʼn ster gesien, ʼn blink ster. En die ster het gepraat: “Gee die pasta Chinese name.”

Francesco het …

En vandag is Café Bistro ʼn gewilde Italiaanse eetplek. Die Italiaanse boeke is nog daar, maar ook Chinese en Engelse boeke. Hy hou gereeld Italiaanse aande, maar ook Engelse en Franse aande.

china-en-italie-03

Kenny Gomez geniet ‘n glas Italiaanse rooiwyn. Foto: Verskaf.

Vir baie van sy gereelde klante het pasta koning geword en noedels smaak bitter en slymerig. Sy klante draai spaghetti om hulle vurke en bestel sappige stukke biefstuk. Hulle sing Italiaanse liedjies en word dronk van Italiaanse rooiwyn en bier.

Dié Kersfees gaan hy ʼn Kerspartytjie hou en vir die Chinese vertel van Jesus – die kind wat gebore is om net later vir almal se sondes te sterf. Oor die maagd Maria en die engel Gabriël. Hy weet nie of die Chinese gaan luister nie, sê hy, want in China glo niemand in ʼn God nie. Nie eens in Boeddha nie, sê hy en skud sy kop.

En snags, snags as die laaste spaghetti van die vurke afgelek word en die laaste druppel rooiwyn uit die glase geslurp word, sluit Francesco die restaurant se deur en maak pasta in sy restaurant se kombuis. Hy drink rooiwyn en sing Italiaanse opera.

Dan huil hy. Oor sy pa. Oor sy ma. Oor die groen Italiaanse woude. Oor Moeder Maria en daardie ster wat een aand – baie lank gelede – met hom gepraat het.

Meer oor die skrywer: Yolanda Barnard

Yolanda Barnard woon en werk in Tsjengdoe, China, en skryf weekliks vir Maroela Media oor haar wedervaringe in dié land.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Sanja ·

Ek sal ‘n boek lees oor die man se lewe!!, Maroela, dit was nou n lekker lees storie! Gaan sy verhaal nie aan nie…….? Sal Yolanda vir ons weer ‘n brief stuur GROOT seblief, vertel ons hoe die Kersete-Partytjie afgeloop het..Seblief seblief

anneke ·

Dit is so ‘n mooi storie. Ek glo nie aan sterre wat praat nie, net aan Jesus wat praat. Ook nie aan moeder maria nie. Maar dit bly ‘n mooi storie, oor verdriet, wanhoop, hoop, menslikheid, verlange na gister en die oer ou instink om te oorleef en planne te maak as dit sleg gaan.

Dankie Yolanda vir die skrywe. My Woensdag is skielik skitter blink!!!!

anneke ·

En Sanja, ek sekondeer!!!! Asb Yolanda vertel sy Kersfees storie. Ek weet dit gaan mooi, Heilig en waar wees.

Denise ·

So n mooi storie dit sal soos Sanja se n goeie boek wees om te lees dit klink mos nou na pitkos vir die siel!!!!!

LIZA ·

Vir ‘n slag ‘n baie mooi verhaal, bravo bravo en dan weet hy van Jesus en gaan die Chinese daarvan vertel, mag God jou seen vorentoe, sal ‘n boek waardeur van hom, so ‘n lewens verhaal, pragtig.

Vytjie ·

Dis nie reg nie. Hahaha. ek lees nog. voorwaar `n goeie leesstuk

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.