Foto’s: Amalfi-skatkis

Pragtige Positano Foto: Marianne Styan

Pragtige Positano Foto: Marianne Styan

Ek het nog altyd gewonder hoe menige avonturier bereid was om hulle lewe te waag om ʼn skatkis te ontdek wat hulle nie eens altyd so seker was bestaan nie.

Dit maak my dan seker ʼn avonturier… want soos die Italianers bestuur, het ek amper my lewe gegee om by die pragtige Amalfi-“skatkis” uit te kom.

Gelukkig bestaan mense soos Aldo… ʼn vernuftige Italiaanse huurmotorbestuurder wat die ander Italianers op hulle neuse laat kyk omdat hy erger bestuur as hulle.

Om by hierdie skatkis aan die suid-weskus van Italië uit te kom, vlieg mens direk Napels toe. Van hier kan jy ʼn trein neem na Sorrento en van daar ʼn bus of huurmotor, óf jy kan direk van die lughawe af met ʼn huurmotor, alias “doodskar”,  ry.

Ons het direk met ons huurmotor gery, wat ons vriendelike gasvrou in Positano, die dorpie waarheen ons op pad was, vir ons gereël het en dit sou ons so naby moontlik aan die deur aflaai… plus ʼn paar trappe natuurlik.

Met die senutergende haarnaaldreis na Positano, probeer ek eerder daarop fokus of alles in orde is met my Skepper en op my skamele kennis van Italiaans, om Aldo te probeer verstaan, terwyl hy al pratend die kronkelpad volg wat soos ʼn klipspringer hang aan die Amalfi-kus se hange.

Doodsgevaar ter syde, is die uitsig oor die baie bekende Golf van Napels werklik nog mooier as op foto’s. Dis eintlik asemrowend.

Elke dorpie is net soos jy dit op films al gesien het, met tipiese Italiaanse huisies wat soos mossels klou teen die indrukwekkende hange. Kronkelende paadjies, baie trappe, ou Italiaanse oompies wat voor padkafees sit en met mekaar redekawel – dit alles kry jy hier.

Nodeloos om te sê, ons het dit tot in Positano gemaak en dit oorleef, anders sou ek nie nou hier kon skryf nie. Van hier het ons die Amalfi-skatkis oopgemaak.

Met Positano, die “dorp van trappe”, as ons basis het ons bekende nabygeleë dorpies en twee groot besienswaardighede besoek.

Positano

Hierdie dorpie is werklik een van daardie plekkies wat mens, selfs al verlaat jou voete die plek, nog steeds nie kan glo bestaan nie, in die woorde van John Steinbeck.

Die naam is volgens legende afkomstig van die 13e eeuse Bisantynse Swart Madonna-ikoon wat in die bekende Santa Maria Assunta-kerk staan. Volgens legende het seerowers die ikoon van Bisantium gesteel. Daar het egter ʼn groot storm oor die see opgekom toe hulle reg langs Positano was. Daar het ʼn stem gesê: “Posa, Posa!”, wat beteken “Sit dit neer, sit dit neer!” Die seerowers het die ikoon afgelaai in die vissersdorpie en daarna het die storm bedaar…

Positano is idillies geleë, gespan oor twee inhamme van die Amalfi-berge. Wat dit egter so laat uitstaan bo ander plekke is die hoeveelheid trappe wat jy daagliks klim.

Daar is een grootpad deur die dorpie, verder klim jy trappe dat jou kuite pyn, maar na twee dae is jy gewoond daaraan. Die klein stegies en pikante kafees is eg Italiaans en daarom jou droomvakansie as jy soos ʼn ware Italianer wil leef.

Positano het twee gemaklike strande (as mens die klipperige strande van Europa ‘strande’ kan noem!).

Van hier kan mens waterbusse neem na Capri, Amalfi en Sorrento of met ʼn bus weereens jou lewe waag om die swaaiende hange.

Capri en AnaCapri

Die aktrise, Sophia Loren, besit nog steeds ʼn huis op hierdie klein stukkie paradys wat in die water dryf soos ʼn kurk.

Die bekendste gesig van hierdie eiland is die Isle of Capri. Dis drie klipformasies, apart van die eiland, wat oor jou troon. ʼn Mens kan onderdeur die opening in die middelste rots deurvaar met ʼn boot en per tradisie ʼn soentjie steel van jou geliefde.

Bootritte rondom die eiland laat jou ʼn goeie gevoel kry van hoe die eiland lyk, en dit neem jou ook na die bekende Blue Grotto. Dis ʼn donker grot met ʼn baie klein opening waardeur jy vaar met klein bootjies. Aanvanklik lyk alles stikgietdonker, maar draai jy terug na die grotopening, verskyn daar ʼn wonderland van akwamaryn water in die hele grot. (Persoonlik dink ek dis te duur vir die enkel ervaring, maar dit is werd om dit  ten minste eenkeer in jou lewe te doen.)

Terug op vasteland kan mens ʼn Vespa-bromponie huur om die eiland te verken wat bestaan uit Capri en bo-op die heuwel, AnaCapri (die mooiste van die twee).

Om in hierdie klein Italiaanse dorpies, deur klein straatjies, op ʼn Vespa te ry met die potblou see as jou uitsig, is verseker iets wat ek op my Bucket List kan afmerk. ʼn Mens sal nooit daardie voëlvrye gevoel kan vergeet nie.

Sorrento

ʼn Baie groter dorp as Positano, maar met sy eie sjarme wat mens net by die Italianers kan kry. Met nog ʼn wonderlike uitsig oor die oseaan (ek glo nie daar is ʼn dorp hier wat se uitsig nie jou asem wegslaan nie), het dit ʼn baie meer lewendige, amper kosmopolitiese gevoel, as Positano.

Dit het ook ʼn oustad waar jy deur die winkels kan gaan snuffel of jouself verloor in hulle wêreldbekende Gelato (roomys) en talle restaurantjies.

Die strand is seker een van die mees onpraktiese en ongemaklikste strande wat ek nog gesien het, maar ek glo nie mense kom net daarvoor Sorrento toe nie. Om die ou kerke en stadsmuur te besoek en met die plaaslike mense vriende te maak in gebroke Italiaans, is vir my ʼn beter rede om dié pragtige dorp te verken.

Amalfi en Ravello

Ja, aan die Amalfi-kus is daar ʼn dorpie met die naam Amalfi. Een van die groter dorpies aan die kus. Ons het ʼn bus geneem en weereens ons lewens op die pad gewaag om na Ravello hoog bokant Amalfi, te ry. Hierdie keer egter uit die bus met ʼn bird`s eye view oor waar jy moontlik jou lewe kan verloor…

Die bus kronkel sy pad op na die bo-punt van die hange waar Ravello, die klein dorpie met sy groot herehuise oor die see waghou.

Behalwe vir die pragtige keisteenstrate, is Ravello bekend vir die tuine en uitsig vanaf die twee herehuise, Cimbrone en Rufolo. Van hier kan jy die mees asemrowende uitsigte kry oor die Mediterreense see.

Dit is elke vreesaanjaende draai werd.

Pompeii en Vesuvius

Die baie bekende besienswaardighede is basies op die buitewyke van Napels en dus het ons ʼn bus na Sorrento en toe ʼn trein na albei geneem. Dis natuurlik naby aan mekaar aangesien Vesuvius se as en lawa die einde van Pompeii beteken het.

ʼn Mens ry vanaf die treinstasie tot by ʼn sekere punt op Vesuvius, weereens met ʼn huurmotor. Daarna is dit ʼn 30 minute se stap na bo.

Om egter die uitsig van bo te sien en om op die rand van die krater te stap met party klippe wat nog stoom, maak mens nogal nederig. Om te besef dat dit nog ʼn aktiewe vulkaan is, laat jou die berg met groot ontsag benader en ten spyte van die grootse ervaring wil mens nie té lank bo bly nie.

Vanaf die treinstasie neem mens die trein terug in die rigting van Sorrento om by Pompeii uit te kom.

Nóg ʼn nederige ervaring as jy na die versteende kruipende figure van die vlugtendes kyk…

ʼn Oudiogids is beskikbaar by die hek (moenie dié by die stasie gebruik nie) wat jou die hele Pompeii deur begelei en verduidelik wat jy sien in hierdie onmoontlik bewaarde dorpie van meer as 2000 jaar gelede.

Dis ʼn ware kulturele ervaring om te besef hoe die mense van daardie tyd geleef het.

Een ding wat ek geleer het tydens my ervarings aan die Amalfi-kus is: Jy moet verre horisonne gaan opsoek en die kans vat as jy ʼn skat wil ontdek. Die vreemdste van alles is, mens raak al hoe meer gewoond aan hoe die Italianers bestuur soos wat mens se vakansie verbygaan… en dan besef jy hoekom avonturiers deur die eeue altyd nuwe uitdagings gaan soek het na ʼn nuwe oorwinning.

As jy dié een oorleef het en jy tel jou skatte, weet jy daar is nog baie om jou lewe voor te waag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Frans ·

Baie dankie vir n heerlike lees ervaring. Na die lees vd stuk het ek besluit om die reis na Amalfi se posisie op my Emmer-lys, n hoer preoriteit te gee!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.