[Foto’s] Herfs in Portugal

praco-do-comercio_terreiro-do-paco-palace-yard_-vernietig-in-die-1755-lisbon-aardbewing-en-herbou-as-n-handelsplein-in-sentraal-lisbon

Praco do Comercio Terreiro do Paco Palace Yard is vernietig in die 1755 Lissabon-aardbewing en herbou as ‘n handelsplein in sentraal-Lissabon. Foto: Verskaf.

Die see hier is onheilspelend, donker en aanvallend, gevaarlik soos wat swart rotse neus uitsteek onder golwe wat binne sekondes lewens kan insluk en uitspoeg tot op vreemde horison. Dit laat verbysterend in jou gedagtes agter hoe mense, met siel en been in ʼn houtboot kan vaar na die voet van Afrika waar alles leeg en rou was. Maar ʼn mens – siel en been – kan veg teen die diepte van die geheimsinnige waters, maar daar is geen teenstand teen die onveranderlike verganklikheid nie. Dit bly opgesluit in ʼn kis, gebêre in ʼn katedraal in marmer tussen opera; in marmer tussen glas.

Vasco da Gama, geen sin geen sel, geen poeier van die vel, geen van sy deursetting, geen van sy krag, niks, nie eers stof meer oor. Dood. Vergete. Opgesluit in ʼn graf. En hier staan die stad: die Agtergelaat. Die oorblyfsels van drome van konings van werkers van slawe en verlore liefdes… Nou in die lens van die kamera. Kameras van mense oor wêrelde heen. Flikkerende ligte om vas te vang wat lank reeds verbygegaan het… Om vas te vang en weer te vertel: ʼn geskiedenis van pilare, van sandsteen en engele uitgekerf in kerkmure, paleise en strate… en sypaadjies vir die toeris.

ʼn Europa-herfs in verwondering. En so nog ʼn seisoen wat ek uit verre lande nooit kon sien aankom nie, nooit kon verstaan of begryp hoe klein menslikheid is nie. Slegs ʼn atoom in samestelling met die totale andere. Dat my God vir wie ek bid vir lewe, liefde en ʼn toekoms, ʼn God is wat kon sien hoe ʼn stad inmekaarsak deur die dreuning van die aarde honderde jare voor daar bewustheid was dat ek as mens, soos hulle, ooit sou bestaan. En dat daar, voor my wekroep op aarde ʼn mens was wat kon dink soos ek, maar ligjare vooruit … ligjare wat my nou nog nie kan bereik nie, wat my begrip nie kan sin maak van nie. ʼn Mens wat sy dooie medemens onder klippe gaan soek het, in eer begrawe het, en ʼn stad herbou het, waarin ek die toeris, die Afrika-ontdekker vandag in kan verdwaal.

En so vind ek die paadjies na die platteland. ʼn Platteland wat ruimte maak vir ʼn soort kabaret van instrumente wat note laat versprei in die klein nou straatjies tussen venstertjies; wat vashou aan hulle verkrummelde plooigesigte van ou Portugese vrouens wat wasgoed ophang tussen vensterrame, skottelgoed was, matte uitskud en gesprekke voer met verkopers op fietse in die strate onder hulle klein paleise. Smouse en fietsryers dwalend deur stegies met mandjies vol groente en almal se goue muntstukke maak die krakerige strate ʼn romantiese paradys vir my. Ek, die herfswandelaar uit Afrika, wat nou verenig is met my wese wat hier gebore is, my voorvaders wat my verstaan, my eenheid.

Maar Rooms-Katoliek is ek nie, tog is Jesus so algemeen. En weer wonder ek hoe die woord van een boodskap deur soveel geslagte, eeue en seisoene oorvertel kon word en lewe gegee kon word. Soos die sandsteenpilare wat borsbeelde van engele regop hou totdat ek dalk weer in een herfslig-son verder na my herkoms kan kom soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

GMP ·

Partykeer verdrink ons in die stringe saamgeflanste woorde wat pragtig, maar amper betekenisloos, op papier vasgepen word om aan die einde van die geleesde artikel, jou te laat opkom vir asem, en te steun: “Wat wou sy eintlik sê?”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.