Ons reënbooglandskap: Ontdek SA van bioom tot bioom

howling red (Foto: Unsplash)

Suid-Afrika staan nie verniet as die Reënboognasie bekend nie. Ons land is divers op soveel verskillende vlakke: die mense, kulture, tale en tradisies ─ en moenie van die reënbooglandskap vergeet nie! Jy hoef skaars ’n uur oos, wes, noord of suid te ry, ongeag waar jy jou in die land bevind, en die landskap sal tien teen een drasties verander.

Suid-Afrika spog, onder meer, met só ’n verkleurmannetjie-landskap weens die verskil in klimaat, hoogte bo seespieël en geografiese eienskappe wat veroorsaak dat verskeie plant- en dierspesies in die areas ontwikkel. Areas met ooreenstemmende fauna en flora staan as biome bekend.

LekkeSlaap vertel jou ’n bietjie meer hieroor en hoe jy die land van bioom tot bioom, met gerieflike verblyf en al, kan verken.

Woud

Waar? Tsitsikamma– en Knysnastreek, Mpumalanga en kusareas van KwaZulu-Natal.

Foto: https://www.instagram.com/p/BwSLgbPBeo8/

Nét 0,2% van Suid-Afrika se landskap word as Woud geklassifiseer ─ dit is dus die kleinste bioom in die land. Die grootste woude is die Tsitsikamma- en Knysnawoud op die Tuinroete. Die ander woude is meestal baie klein en geïsoleer, soos die duinwoude in KwaZulu-Natal en die bergwoude teen Tafelberg en sekere dele van die Drakensberg.

Het jy geweet?

  • Tussen die jaar 1800 en 2000 is meer as 40% van Suid-Afrika se woude deur mense vernietig om hout in die hande te kry en om suikerplantasies te plant.
  • Meer as 465 plantspesies kom in die Knysnawoud voor.
  • Kenners meen dat daar in die pre-koloniale tydperk sowat 3 000 olifante in die Knysawoud gewoon het. Onlangse studies toon dat daar as gevolg van uitroeiing nou net een tot vyf olifante vrylik in dié area rondbeweeg.

Vertoef hiér as jy dié sprokieswêreld van Suid-Afrika wil verken.

Fynbos

Waar? Vanaf Clanwilliam in die Wes-Kaap tot by Port Elizabeth in die Oos-Kaap.

Foto: https://www.instagram.com/p/BmktR6eHTiw/

Fynbos is baie gewild vir verskeie redes, veral omdat dit uiters uniek is. Dié bioom maak 80% van die Kaapse Blommeryk uit en twee derdes daarvan kom nêrens anders op aarde voor nie! Fynbos floreer in die Wes-Kaap se Mediterreense klimaat (warm, droë somers en koue, nat winters).

Het jy geweet?

  • Tafelberg is die tuiste van 1 500 plantspesies ─ dieselfde aantal plantspesies wat in die hele Verenigde Koninkryk voorkom.
  • Die meeste fynbos is baie skaars en klassifiseer as ’n bedreigde spesie, daarom is die Fynbosbioom ’n UNESCO Wêrelderfenisgebied.
  • Boegoe-plante is ’n uitstekende babelas-kuur. As jy dalk die vorige aand ’n bietjie te veel gekuier het, kan jy net ’n halwe handvol boegoe in kookwater gooi, en dit sal die ergste pyn verlig.

As jy die proteas op hul mooiste wil sien blom, moet jy die Wes-Kaap tussen April en Oktober besoek. Om die fantastiese fynboswêreld te sien, kan jy hiér bly.

Savanne

Waar? Die weste van Limpopo, noorde van die Noord-Kaap en Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal.

Foto: https://www.instagram.com/p/B2QmbTDgSKt/

Dié bioom dek ’n derde van Suid-Afrika se oppervlakte, wat dit die grootste bioom in die land maak. Dis hoofsaaklik grasoppervlaktes met bome en struike wat ’n groot deel van die Laeveld en Kalahari dek (dit is ook dominant in Namibië, Botswana en Zimbabwe). Aangesien dié bioom so ’n groot area dek, is daar verskillende klimaatstoestande en omgewingsfaktore wat veroorsaak dat daar ’n mengelmoes plant- en dierspesies voorkom.

Het jy geweet?

  • Byna elke geologiese grondsoort kom in die Savanne-bioom voor!
  • Dié bioom is ongeveer 532 voël- en 167 soogdierspesies se tuiste.
  • Jy sal veral koedoes, buffels en leeus in dié geweste teëkom.

Die beste tyd om die Savanne-area te besoek is in Maart en April, of September en Oktober wanneer matige klimaat voorkom. Laasgenoemde maande is ook ideaal vir wildkyk. Bly in die Kalahari of Laeveld om dié bioom te verken.

Grasland

Waar? Die Hoëveld, of KwaZulu-Natal, Gauteng en Mpumalanga se binneland.

Foto: https://www.instagram.com/p/BvOb4hzgIeM/

Die Grasland-bioom se oppervlakte wissel van plat tot heuwels wat tot by die platorand strek. Dié area se landskap word meestal met ’n enkele graslaag bedek, maar bome kan ook teen die heuwels groei. Nes die Savanne het die Grasland-bioom ’n groot verskeidenheid dier- en plantspesies as gevolg van die groot klimaatsverskil en hoogte bo seespieël.

Het jy geweet?

  • Dit brand dikwels in die Grasland-bioom en die plantspesies het aangepas om in die vuur te kan oorleef.
  • In die verlede was die bioom swartwildebeeste, elande en blesbokke se tuiste, maar vandag oorleef die meeste spesies in natuurreservate of op wildplase.
  • Meer as 3 800 plantspesies kom in die Grasland-bioom voor.

Die warmer maande (Oktober tot Mei) is die beste tyd om die Grasland-bioom te besoek. Hou hiér vakansie in die Grasland.

Nama-Karoo

Waar? Noord-Kaap en Vrystaat.

Foto: https://www.instagram.com/p/Bqmd48pnRb1/

Droë vlaktes en koppies wat met nóg droër bossies oortrek is — só kan die Nama-Karoo beskryf word. Dis die tweede grootste bioom in Suid-Afrika en bestaan uit rotsagtige of sanderige vlaktes. Hiér sal jy snikhete somersdae en bibberende wintersaande beleef.

Het jy geweet?

  • Die Nama-Karoo word as semi-woestyn geklassifiseer omdat die area net 200 tot 400 millimeter reën per jaar kry.
  • Meer as 2 200 vetplantspesies kom hier voor.
  • Kleiner diere soos springhase, steenbokkies en ystervarkies is volop in dié omgewing.

As jy op soek is na ’n plattelandse wegbreek met onvergelykbare stilte en tydloosheid, dan is die Nama-Karoo jou toekomstige vakansiebestemming.

Sukkulente Karoo

Waar? Die Weskus van die Noord-Kaap (Richtersveld en Namakwaland) en noordelike dele van die Wes-Kaap.

Foto: https://www.instagram.com/p/B1TYyHsF8vO/

Nes die Nama-Karoo is beperkte reënval en baie warm, droë somers ook kenmerkend aan dié area. Hiér sal jy kalkryke, swak grond, rotse en sand wat maklik erodeer aantref. Alhoewel die area meestal droog is en vetplantspesies het, is Namakwaland beroemd vir die kleurryke veldblomkombers wat dié area in die lente bedek.

Het jy geweet?

  • Die Sukkulente Karoo is bekend vir sy ongewone vetplante, waarvan byna 40% inheems is.
  • ’n Bekende plant wat hier voorkom is die halfmens. Dié plant is so vernoem omdat die blomme aan die plant se kop soos mense wat gesels lyk!
  • Hiér kom 70 soorte skerpioene voor, waarvan ’n kwart inheems is.

As jy blomme wil kyk of wil sien hoe die halfmens in lewende lywe lyk, kan jy in Namakwaland of die Richtersveld oorslaap.

Ruigteveld

Waar? Klein areas van KwaZulu-Natal, die Weskus en Oos-Kaap.

Foto: https://www.instagram.com/p/B2Ybi-_n07l/

Van KwaZulu-Natal tot die Weskus – dié bioom is ’n bietjie wyer verspreid as die res. Die Ruigteveld is grootliks in die Oos-Kaap in areas waar die reënval redelik hoog is, maar nie hoog genoeg sodat die ruigtes in woude verander nie.

Het jy geweet?

  • Die Ruigteveld-bioom beslaan slegs 2,5% van Suid-Afrika se oppervlakte.
  • Dié bioom kom meestal in riviervalleie voor.
  • Koedoes, olifante, ape en bosbokke is volop in die Ruigteveld.

Beplan ’n heerlike vakansie in KwaZulu-Natal, die Weskus of Oos-Kaap.

Ons is beslis bevoorreg om in ’n land met soveel diversiteit te woon. Voor jy op die internet spring om jou peperduur oorsese vakansie te bespreek, dink dalk eers daaraan om Suid-Afrika se unieke skatte te verken. Een (of meer) van dié ongelooflike biome sal sonder twyfel jou Suid-Afrikaanse hart steel!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Hennely Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.