Op reis deur Europa: Die monnik onder die kappie

Die monnik onder die kappie, Campo de’ Fiori in Rome (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Een van die baie plekke wat jy moet sien wanneer jy in Rome is, is Campo de’ Fiori, ‘n plein naby die Piazza Argentina. Ons sorg dat ons vroegoggend daar aankom. Die plek is ‘n miernes van bedrywighede. Opslaanstalletjies staan die hele mark vol. Soggens is hier ‘n mark en jy kan heerlike kaas, vars vrugte, groente en blomme hier koop. Eintlik enigiets waarmee Italianers kos maak.

Bo-oor al die stalletjies, in die middel van die plein, steek ‘n standbeeld uit. ‘n Donker bronsbeeld van ‘n monnik met ‘n kappie oor sy gesig. Hy staan half en afkyk na al die gewoel rondom hom. Sy gesig is weggesteek onder die kappie. ‘n Paar mense sit op die voetstuk onder hom en pizza eet.

Die beeld is van Gio Bruno. Gio was ‘n monnik in die laat 1500’s wat met die Roomse kerk gebots het en deur die Inkwisisie ter dood veroordeel is. Op 17 Februarie 1600 is hy hier op Campo de’ Fiori na die brandstapel gelei en verbrand.

Giordano Bruno is in 1548 in Nola naby Napels gebore. As 17-jarige sluit hy aan by die Dominikaanse klooster in Napels waar hy sy studies voortsit. Op 24-jarige leeftyd word hy as priester georden.

Vader Gio was ‘n akademikus wat bekend was vir ‘n uitmuntende geheue waarmee hy selfs Pous Pius V beïndruk het. Hy was egter ‘n vrydenker en het gou in die moeilikheid beland met sy teologiese standpunte en die besit van onwettige boeke.

Toe hy agterkom dat ‘n verhoor vir hom beplan word, vlug hy in 1576 van Napels en versluier hom in gewone klere. Hy swerf in Italië rond en beland uiteindelik in 1597 in Genève, Switserland. Hier by die Calviniste beland hy gou in die moeilikheid en hy moet weer vlug.

Hy vlug Frankryk toe en ná ʼn tydperk in Lyon en Toulouse, waar hy klas gegee het in filosofie, beland hy uiteindelik in Parys. Hier beïndruk hy Koning Henry VIII só met sy geheue dat hy die koning se beskerming ontvang. Gedurende dié tyd skryf hy verskeie boeke oor die geheue.

In April 1583 vertrek hy na Engeland met ‘n bekendstellingsbrief van Koning Henry. Hy gee by Oxford klas, maar kon nie ‘n permanente pos daar bekom nie. Sy teorie dat die aarde om die son draai was onaanvaarbaar vir die Oxford-wetenskaplikes. In Engeland publiseer hy nog ‘n stuk of ses boeke.

Ná aanvalle in Londen op die Franse ambassade vertrek hy weer Parys toe. Hier het die politieke klimaat verander en sy kritiek op Franse wetenskaplikes noop hom om weer te vlug, dié keer na Duitsland. Daar bly hy van 1585 – 1591.

Nadat hy klas gegee het by Wittenberg en Helmstede in die filosofie, in Praag ‘n draai gemaak en verskeie boeke in Latyn geskryf het, moet hy weer vlug toe ook die Lutherane hom verban.

In 1591 nooi Giovannio Mocenico hom om in Venesië onderrig te gee oor die geheue. Hy vertrek na al die jare terug Italië toe. Hy gee eers klas in Wiskunde in Padua waar hy onsuksesvol aansoek doen vir die pos in Wiskunde. ‘n Jaar later sou Galileo Galilei dié pos kry.

In Venesië is Mocenico nie beïndruk met Bruno nie en hy verkla hom by die Roomse Inkwisisie. Hy word op 22 Mei 1592 in hegtenis geneem en aangekla van godslastering en dwaalleer. Hy word Rome toe gestuur.

In Rome word hy vir sewe jaar gevangene gehou waartydens hy gereeld voor die Inkwisisie hom moes verdedig. Op 20 Januarie 1600 verklaar Pous Clement VIII hom ‘n ketter en op 17 Februarie word op hy Campo de’ Fiori verbrand en sy as in die Tiberrivier gegooi.

Met die totstandkoming van die Italiaanse Verenigde Koninkryk in 1870 het die Stadsraad van Rome, wat toe nie meer onder die Pous geval het nie, besluit om ‘n standbeeld vir hom op te rig – tot groot ergernis van die Rooms Katolieke Kerk. Dit is in 1898 onthul.

Behalwe vir sy verskeie teologiese, wiskundige en kosmologiese boeke het Bruno ‘n groot nalatenskap gehad, waaronder die “Giordano Bruno Foundation” en die “Gordiano Bruno Memorial Award”. Sy naam is selfs op die maan waar ‘n 22 km krater na hom vernoem is.

Erkenning: Wikipedia

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.