Wen ʼn reis na Kenia met DZL: Sien laaste twee noordelike witrenosters

Foto verskaf deur DZL

Die manne van die duo-sanggroep, DZL, het ʼn nuwe projek van stapel gestuur wat die soeklig plaas op navorsing om die noordelike witrenoster van totale uitwissing te red. Daar is tans net twee koeie van hierdie spesie in die wêreld oor ná die afsterwe van die bul, Sudan, in 2018.

Om bewusmaking te skep vir hierdie baie belangrike navorsing het Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie hande gevat met die bekende plaaslike veearts en spesialis, dr. Morné de la Rey, wat baanbrekerswerk doen op die gebied van IVF (in vitro-bevrugting) om spesifiek die noordelike witrenoster se voortbestaan te verseker.

“Ons is nou al ʼn hele paar jaar by dr. Morné en sy projek, Rhino Repro, betrokke en het ook al self die Ol Pejeta Conservancy in Kenia besoek waar baie van sy werk gesentreer is,” vertel Andries. “Ons was in 2017 daar toe die laaste noordelike witrenosterbul, Sudan, nog gelewe het en die feit dat daar in daardie stadium net drie van die spesie in die wêreld oor was, het ons hard geslaan. Ons kon nie net stilsit nie en het lank aan ʼn projek gewerk om bewusmaking rondom hierdie belangrike navorsing te skep.”

Die laaste twee noordelike witrenosterkoeie, Najin en Fatu, is woonagtig in die Ol Pejeta Conservancy in Kenia. Navorsers werk tans op vier verskillende vastelande aan ʼn oplossing om hierdie spesie van uitwissing te red. Beide van hierdie koeie is nie daartoe in staat om self bevrug te raak nie as gevolg van hulle ouderdom – hulle is onderskeidelik 29 en 18 jaar oud. In vitro-bevrugting, waar hulle eiers en die gevriesde sperm van Sudan in ʼn suidelike witrenoster ingeplant word, is in hierdie stadium die mees logiese oplossing.

“Dr. Morné het die eerste kloning in Afrika gedoen en ook die enigste proefbuisbuffelkalf in die wêreld geproduseer,” verduidelik Wiaan. “Hy het ongelooflike geassisteerde reproduksiesuksesse behaal in verskeie wildspesies soos buffels, swartwitpense en blouwildebeeste om net ʼn paar te noem. Hy poog nou om soortgelyke tegnieke te gebruik om Sudan se nageslag te verseker.”

Maar wat behels DZL se nuwe projek? ʼn Gelukkige wenner kan ʼn reis saam met die twee manne na Ol Pejeta Conservancy in Kenia wen om die laaste twee noordelike witrenosters te besoek!

“Dit is die geleentheid van ʼn leeftyd en as ons nie self betrokke was nie sou ons eerste ingeskryf het. Die wenner wen ʼn ten volle betaalde reis na Kenia saam met ons wat ongelooflik baie aktiwiteite insluit. Ons, wat al daar was, se harte brand om weer ons voete in Kenia te sit,” sê Andries.

Wat sluit die prys in?

  • Vlugte, akkommodasie, etes en aktiwiteite.
    LET WEL: alle aankope, drankies of aktiwiteite buite die wenprys is vir die wenner se eie rekening.

Suid-Afrika (2 dae)

  • Besoek aan Marathaba in Limpopo saam met dr. Morné en DZL om ‘n oorsig te kry van die IVF-navorsing om die noordelike witrenoster van uitwissing te red.

Kenia (10 – 15 Julie)
Saam met DZL in Ol Pejeta Conservancy in Kenia

  • Besoek aan twee noordelike witrenosters en Baraka (blinde swartrenoster)
  • Besoek aan die teenstroop-eenheid
  • Chimpanzee Sanctuary
  • Seekoei-staptog
  • Besoek aan Mount Kenia-kinderhuis
  • Besoek die gemeenskapsprojekte
  • Piekniek by die dam
  • Piekniek op Sirima Hill
  • Wildritte

Hoe skryf jy in?

Stuur ʼn motiveringsbrief na [email protected] en verduidelik waarom dr. Morné de la Rey se IVF-spesialisveld belangrik is vir die voortbestaan van bedreigde spesies.
Die sluitingsdatum vir die inskrywings is 31 Mei 2019 en diegene wat inskryf moet ook tussen 7 – 15 Julie 2019 beskikbaar wees om die reis te onderneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.